Alberton-ouers in hof oor peuter se dood, verkragting

Die tweejarige dogtertjie is dood op die sypaadjie voor haar ouerhuis aangetref.

WAARSKUWING: Die besonderhede in die berig kan sensitiewe lesers ontstel.

ʼn Ouerpaar van Alberton wat beskuldig word van onder meer die moord en verkragting van hul tweejarige dogtertjie, het Dinsdag in die hooggeregshof, wat in die Palm Ridge-hof sit, verskyn.

Die saak spruit uit die dood van die geskeide paar se tweejarige blondekopdogtertjie, wat op 11 Mei 2021 dood is. Paramedici het die dogtertjie daardie dag, op die sypaadjie voor haar ouerhuis, dood verklaar. Die nooddienswerkers het die polisie daarna in kennis gestel van die veelvuldige beserings wat hulle op haar lyf opgemerk het.

Haar 30-jarige ma en 40-jarige pa het Dinsdag in die hooggeregshof verskyn.

Luidens die akte van beskuldiging staan al twee tereg op twee aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer, asook twee aanklagte van kindermishandeling, verkragting en moord.

Hiervolgens sou die egpaar die dogtertjie en boetie (ses ten tye van sy sussie se dood) aangerand en mishandel het.

Na verneem word, is die seuntjie tans in ʼn plek van veiligheid.

Benewens die aanrandings wat die boetie en sussie glo moes verduur, is daar na bewering ook kookwater oor die seuntjie uitgegooi en is hy glo ook met ʼn elektriese koord en die plat hand geslaan.

Die dogtertjie is na bewering ook geslaan, teen kaste en mure geslinger en met verskeie voorwerpe geslaan. Haar ouers het, volgens die staat, glo ook haar mond en neus toegedruk om haar sodoende te dwing om haar kos te eet.

Die pa het die dogtertjie glo ook verkrag en seksueel aangerand.

Die hof het Dinsdag gehoor die twee kinders is in 2018 uit die sorg van hul ouers verwyder en in ʼn plek van veiligheid geplaas. Dit het gevolg pas nadat die seuntjie in die Clinton-kliniek opgeneem is vir die behandeling van brandwonde wat hy opgedoen het nadat kookwater glo op hom uitgegooi is.

Die kinders is egter op 24 Julie 2020, luidens ʼn bevel van die Kinderhof in die Tshwane-distrik, terug in hul sorg geplaas.

Die staat voer aan die mishandeling en verwaarlosing is hierna hervat.

Die dogtertjie is in Maart 2021, twee maande voor haar dood, in die Bertha Gxowa-hospitaal in Germiston, met ʼn gebreekte arm en been opgeneem. Sy is op 11 Mei dood.

“Die beskuldigde (die pa) het haar liggaam op die sypaadjie buite hul woning geplaas terwyl daar gewag is op die nooddienste. Sy is met hul aankoms dood verklaar en daar is later vasgestel die oorsaak van dood was weens drukking op die nek wat strook met verwurging,” lui die akte van beskuldiging.

Die staat voer verder aan die ouers het in die uitvoer van die misdrywe met ʼn gemeenskaplike doel opgetree.

Al twee ontken skuld, maar het geen pleitverduideliking by die hof ingedien nie.

Die ouerpaar Dinsdag in die hooggeregshof. (Foto: Isabel Venter/Maroela Media)

Die pa het tydens kruisondervraging van die ER24-paramedikus Lungile Ngwonya, wat die dogtertjie dood verklaar het, aangevoer hy het wél noodhulp probeer toepas.

Luidens sy weergawe het hy daardie dag van die werk af teruggekeer en sy dogter koud in haar ma se arms aangetref.

“Ek het met haar na buite gehardloop en haar op die sypaadjie neergesit. ʼn Paramedikus het my gehelp om noodhulp toe te pas. Dit was voor die ambulans opgedaag het. Sy het opgegooi. Later is sy dood verklaar,” het Sibongile Bovu, die pa se regsverteenwoordiger dit namens sy kliënt aan Ngwonya gestel.

Ngwonya het getuig sover hy weet, was hy en twee kollegas die enigste paramedici op die toneel.

“Protokol vereis van paramedici om ʼn pasiënt te oorhandig. Een kan nie net die toneel verlaat nie; dit het nie in dié geval gebeur nie.”

Hy het ook getuig dat dit vir hom gelyk het of die dogtertjie al “langer as 15 minute” dood was.

“Sy het nie asemgehaal nie en daar was nie ʼn polsslag nie. Pasiënte wat vir langer as 15 minute sonder asem is, kry ʼn blou kleur in die gesig en op hul hande,” het hy getuig.

Sers. Mmakgabo Moloto, verbonde aan die Alberton-speurtak, het ook getuig nóg die pa nóg die ma het enigsins emosie gewys toe hulle ondervra is.

Sy het getuig dit was eers ná die lykhuis vrae gehad het oor die kind se beserings dat die ma in ʼn tweede verklaring, afgelê op 27 Mei, aangevoer het die pa was verantwoordelik vir die aanranding.

Aanvanklik het sy in haar eerste verklaring gesê die dogtertjie het dié dag wakker geword en gekla van maagpyn. “Ons het opgestaan en sy het vir my gesê: ‘Lief vir mamma’. Ek het vir haar kos gegee, maar sy het dit opgegooi. Ek het later probeer om vir haar vloeistowwe in te gee. Teen die aand het haar maag snaakse geluide gemaak en dit het hard gevoel. My man het later opgedaag en haar na buite geneem waar die noodhulpdienste opgedaag het,” lui die verklaring.

In die tweede verklaring sê sy haar man het haar en die kinders mishandel. Hy was volgens die ma veral toegespits op die dogtertjie en sou haar teen die kaste slinger.

Die twee het kort ná die voorval geskei. Die pa, ʼn ketelmaker van beroep, woon deesdae in ʼn rehabilitasiesentrum waar hy behandeling kry vir dwelmafhanklikheid, is aan die hof gesê.

Hy en sy gewese vrou het mekaar ook in die hof vermy en ná verrigtinge verdaag is, het hulle die hofsaal afsonderlik verlaat.

Hul verhoor sal weer volgende maand hervat word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Marlene ·

Ek het net begin om die berig te lees, ek KAN dit nie verder lees nie – hierdie arme kindertjies, watter wrede & hartseer lewetjie het die pragtige ou dogtertjie gehad. Ek sit en huil, daar is so baie wat smag na ‘n kindjie, en hierdie goed wat hulself ma & pa noem . . .

LIEZL ·

neeeeeeeeeeeeeeeeeee, gee seblief jul kinders vir my as jy hul nie wil hê nie. Sooo hartseer, wens ek kon ‘n kinderlyfie hê wat ek kan bederf en liefde gee. Was ons nie beskore nie

Pieter ·

Julle is twee siek mense. Daai dogterjie was aan julle gegee om op te pas en na om te sien deur ons Skepper, en julle het dit aan haar gedoen en haar boetjie. Julle sal eendag voor Hom moet staan op die oordeelsdag. Rus in vrede klein engeltjie, jy het nou nie meer seer nie

Gaitsigubib ·

Hierdie mense is siek. Die doodstraf is al wat gepas sou wees vir die skuim. Ek hoop werklik hul einde is naby.

Ore ·

Waar is die bure, vriende en familie? Kyk liewer weg want niemand wil meer betrokke raak nie.

Elizabeth ·

Albei van hulle moet maksimum tronkstraf kry en nooit vir parool in aanmerking kom.

Lettie ·

Neeeeeee!!! Nie nog ‘n klein dogtertjie nie! Hoe wreed kan ‘n ouer dan wees? Wat dryf hul daartoe? Jesus het gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie.” Ek huil saam met al bst gegriefdes oor hierdie Satanisties gedrewe vergrype van ‘n ouer. Sjoe

domheks ·

Die ou dwelm duiwel is volop in SA, en die onskuldige kinders ly daaronder!

christo ·

Ek werk elke dag met kinders. Mense moet nie hierdie kindermishandelaars vergelyk met diere nie, want diere toon nie hierdie monsteragtige gedrag nie. Dwelmafhanklikheid of watter rede ook al regverdig nie kindermishandeling nie. Hoe magteloos moet dit vir ‘n regter wees as die ergste straf wat hy / sy nét lewenslange straf kan oplê?

Adriaan ·

Regters moet verantwoordelik gehou word vir hulle bevele.

“Die kinders is egter op 24 Julie 2020, luidens ʼn bevel van die Kinderhof in die Tshwane-distrik, terug in hul sorg geplaas.”

Loun ·

Ek is n ma van een dogtertjie, as gevolg van mediese probleme kon ek nie nog kinders hê nie… julle wat net kinders kry en kinders HET….
Mag julle die ergste hel beleef..

TO ·

Die welsyn moet saam aangekla word. Hoe gee jy kinders terg na ‘n kind met kookwater gebrand word. Bring die doodstraf terug, daar is te veel mense wat met moord wegkom

Philip ·

Adriaan. Presies, wanneer iemand foute maak in sy werk word hy of sy verantwoordelik gehou maar die regslui foeter net aan, hulle spreek mense vry, gee borgtog en soos in hierdie geval gee kinders terug aan die ouers om hul verder te mishandel en selfs te vermoor, die kind is binne ‘n jaar nadat die hof opdrag gegee het dat die kinders in die ouers se sorg geplaas moet word vermoor, die skepsel wat daardie opdrag gegee het is onbevoeg en aandadig aan die moord. Die regstelsel in SA is ‘n hopelose gemors.

Elize ·

Julle is nie die naam ouers werd nie. Julle is lae gewetenlose emosielose veragtelike sielsiek afskuwelike breindood gemors idiote wat n pragtige kleine prinses se lewe so hel gemaak het en haar dood gemaak het. Die arme seuntjie wat verbrand is met kookwater…. die ma doen nnniks…. regtig???? As dit my kindertjies was sou daar oorlog gewees het.

Monja ·

So hoekom sou die Kinderhof ‘n bevel uitreik dat die kinders uitgehaal word uit hulle plek van veiligheid na 2 jaar, om weer teruggeplaas te word in hierdie wrede ouers se sorg?? Dit maak net nie vir my sin nie???? Weereens het die staat hierdie kindjie gefaal, haar lewetjie gekos. Hulle moet ook verantwoordelik gehou word vir haar dood.

Sêmanet ·

Wys hulle bakkies! Ek hoop hulle kry ook so lekker vonnis soos die van verlede week. LEWENSLANK! en sommer meer ook. Hoekom word hulle “regte/gevrete” beskerm?? Hulle het menseregte opgegee die oomblik toe hulle die kleinding en haar boetie begin seermaak het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.