Alberton-skietery: Minstens 40 skote afgevuur

Argieffoto (Foto: glukan/Pixabay)

Minstens 40 skote is Sondagaand op ʼn motor met vyf insittendes op die N3-snelweg in Alberton, Gauteng, afgevuur. Drie van die vyf insittendes, almal mans, is doodgeskiet terwyl een tans in ʼn kritieke toestand in die hospitaal lê. Nog een het sonder beserings weggekom.

Volgens kapt. Kay Makhubela, polisiewoordvoerder, was die vyf mans in ʼn wit Toyota Etios van Ladysmith onderweg na Johannesburg toe ʼn groep mans in ʼn wit motor op hulle begin skiet het.

Maroela Media het vroeër berig ER24, die polisie en lede van AfriForum se Alberton-buurtwag is net voor 21:30 na die toneel ontbied, waar hulle die Toyota Etios teen die versperring op die snelweg se vinnige baan aangetref het.

Twee van die insittendes is dood in die voertuig aangetref, terwyl een beseer in die pad gelê het. ʼn Vierde man is ook in ʼn kritieke toestand aan die oorkant van die pad aangetref.

Llewellynn Hemmens, AfriForum se veiligheidskoördineerder vir die Noordstreek, sê daar is minstens 40 keer op die vyf mans geskiet. Altesaam 20 koeëlgate is in die motor gevind. Hy sê dit is duidelik dat grootkaliber-wapens tydens die skietery gebruik is.

“Leë magasyne en koeëldoppies is binne die voertuig gevind. Vuurwapens, wat blykbaar aan die oorledenes behoort het, is ook daar gevind,” het Hemmens gesê.

Die beseerde mans is na ʼn nabygeleë hospitaal geneem, waar een van hulle by die hospitaal aan sy skietwonde beswyk het.

Die vyfde insittende het sonder ʼn skrapie van die voorval afgekom. Dit is nie duidelik waarom slegs hy geen beserings opgedoen het nie.

Volgens Makhubela is die motief vir die skietery of die identiteit van die verdagtes in dié stadium nog nie bekend nie.

Hemmens sê die moontlikheid dat die skietery dalk met taxi-geweld verband hou, kan nie uitgeskakel word nie, aangesien gevalle van taxi-geweld gereeld in daardie spesifieke gebied voorkom.

“Dit is egter ʼn baie onstabiele toneel, en die omstandighede rakende die skietery kan nog nie bevestig word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Persheks Adri ·

Groot kalibers interessant en seker lisensies en niemand is gearresteer nie pragtig gggmmmfff elke dag se stories dit raak erger!

Chris dupreez ·

Daar is gelisensieerde AK 47 gewere in senior ANC lede se besit.

Persheks Adri ·

Natuurlik is dit ontstellend! Hou wragtag nie op nie hel man!

Mariana ·

Klink soos ou rolprent waar die mafia op mekaar losgebrand het. SA deesdae soos fliek maar als gebeur regtig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.