Alex Boraine sterf in sy slaap

Alex Boraine. Foto: Facebook

Dr. Alex Boraine, ondervoorsitter van die Waarheids-en-Versoeningskommissie (WVK) van 1996 tot 1998, oudparlementslid en geestelike leier, is in die ouderdom van 87 in sy slaap oorlede.

Boraine is op 10 Januarie 1931 in Kaapstad gebore en het sy loopbaan as Metodistepredikant op die ouderdom van net 19 jaar begin, volgens SA History Online. Nadat hy sy BA‑graad aan die Rhodes-universiteit voltooi het, was hy ʼn tyd lank kapelaan van die Universiteit van Natal en algemene sekretaris van die afdeling vir onderwys en jeugbediening in die Metodistekerk van Suid-Afrika.

Ná verdere studie aan die Universiteit van Oxford en Drew-universiteit was hy lektor aan die Universiteit van Natal, toe hy in 1970 tot voorsitter van die Metodistekerk van Suider-Afrika verkies is, die jongste persoon wat tot dié amp verkies is.

Twee jaar later het hy by die Anglo-American Corporation aangesluit, waar hy veral gemoeid was met die opleiding van swart werknemers en die verbetering van hul werkomstandighede.

In 1974 is hy tot Volksraadslid vir die kiesafdeling Pinelands verkies nadat die dood van die Verenigde Party se kandidaat kort voor die algemene verkiesing tot ʼn tussenverkiesing aanleiding gegee het.

In 1986 het hy en Van Zyl-Slabbert as LV’s bedank en Idasa begin

Hy en nog vyf LV’s van die Progressiewe Party (PP) het hulle in die Volksraad by Helen Suzman aangesluit nadat sy sedert 1961 die enigste Volksraadslid van die PP was. Onder die vyf nuwelinge was manne wat later diep spore as politici in die opposisieparty sou trap, soos Frederik van Zyl-Slabbert en Colin Eglin.

In 1986 het hy en Van Zyl-Slabbert as LV’s bedank en Idasa begin om dialoog en eenheid tussen verskillende segmente van die Suid-Afrikaanse samelewing te bevorder.

Die WVK was Boraine se geesteskind waarvan hy twee jaar lank as ondervoorsitter onder aartsbiskop Desmond Tutu gedien het. Daarna, van 1998 af, was hy professor in die regte aan die Universiteit van New York en direkteur van dié universiteit se regskool se program vir geregtigheid in oorgang.

Boraine word oorleef deur sy vrou, Jennifer, en vier kinders

Hy was die skrywer van minstens twee boeke, A Country Unmasked, wat in November 2000 verskyn het, en sy outobiografie, A life in transition, wat in 2008 gepubliseer is, volgens die uitgewer Jonathan Ball.

Boraine word oorleef deur sy vrou, Jennifer, sy vier kinders, Andrew, Kathryn, Jeremy en Nicholas, hul gades en sewe kleinkinders.

“Ons onthou hom eerstens as ʼn liefdevolle en wyse eggenoot, pa en oupa,” skryf Andrew, sy oudste seun, op Facebook. “Ons salueer sy lewenslange toewyding aan nierassigheid, menseregte, die demokrasie en maatskaplike geregtigheid in Suid-Afrika asook wêreldwyd. Boweal het hy ons geïnspireer met sy lewenslus en sy groot hart.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Essa ·

Alex Boraine, seker nie meer baie van ons oor wat in die dae van die VP en later Progessiewe Party as opposisie vir die Nasionale Party ons politieke bewussyn gekry het nie. Maak nie saak of ons dieselfde siening onderskryf het of nie – jy was ‘n leier, ‘n denker, ‘n gerespekteerde politikus en akedemikus en bowenal ‘n mens met integriteit. Rus met vreugde. My simpatie vir hulle verlies aan die familie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.