Alex FM van die lug weens plundery

Die gemeenskapsradiostasie Alex FM. (Foto: Alex FM/Facebook)

Die gemeenskapsradiostasie Alex FM is van die lug af nadat miljoene rande se toerusting Dinsdag in die vroeë oggendure by dié bekende plaaslike stasie in Alexandra in Johannesburg in ʼn plundertog gesteel is.

Dít nadat polisiebeamptes glo aanvanklik die gebou, waarvandaan Alexandra se enigste radiostasie uitsaai, gemonitor het, maar later glo onbeman gelaat het te midde van voortslepende stropery.

Isaac Mangena, voorsitter van Alex FM se raad, sê die Yarona-gebou het Sondag al deurgeloop toe plunderaars op die slaghuis en drankwinkel op die grondverdieping van die gebou toegeslaan het.

“Ek het Sondag verwoede oproepe van personeellede ontvang wat bang was dat die oproeriges tot bo sou kom waar Alex FM uitsaai,” lui ’n verklaring deur Mangena.

“Ek het hulle daarvan verseker dat ek die polisie met behulp van die stasiebestuur sou skakel. ’n Handvol polisielede het opgedaag en dit het gelyk of die situasie effens bedaar. Die polisie het egter besluit om die gebou te verlaat en die plunderaars het daarna toeslaan.”

Die voorval volg kort nadat ’n nuusspan van die SAUK oor die naweek van hul toerusting beroof is toe hulle verslag oor die verwoesting in Alexandra gedoen het.

Mangena en Michael Currin, waarnemende direkteur-generaal van die regering se kommunikasie-en-inligtingstelsel (GCIS), het dit as ’n “hartseer dag” vir Alex FM bestempel.

“Die radiostasie dien die gemeenskap van Alex al ongeveer 27 jaar lank en is die stem van die inwoners van Alexandra,” sê Currin in ’n verklaring.

Mangena het ook daarop gewys dat inwoners van Alexandra nou nie meer ’n bron het om hulle oor die einste onluste sowel as watter paaie om te vermy, in te lig nie. Die radiostasie was volgens Mangena boonop inwoners se belangrikste bron van inligting oor die Covid-19-pandemie.

“Dit moet gesê word dat die mense wat die gemeenskap terroriseer geen liefde vir Alexandra het nie, want hul optrede vandag sal môre gevoel word wanneer baie van hulle en hul familielede geen winkelsentrums of fabrieke het om in te werk nie en geen geboue soos skole, biblioteke, en dokterskantore het om na toe te gaan nie.

“Hulle het ook geen gemeenskapsradiostasie om hul eie te noem nie.”

Takalane Nemangowe, stasiebestuurder van Alex FM, sê die radiostasie stel ondersoek in na die plundery en sal tot verdere kennisgewing nie uitsaai nie.

Mangena sê voorts hy sal ’n dringende raadsvergadering belê om die pad vorentoe te bespreek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sandra ·

Wel laat ek dit so stel. As een van die plunderaars my ‘n flat screen tv belowe, sal ek ook my pos verlaat. Regtig jammer vir julle verlies. Ek is seker daarvan dat julle baie beteken het vir die gewone mense in Alex. Voorspoed verder.

Leonard ·

Eis van die polisie wát aangestel wás om toesig te hou oor gebou.
Dít sál hul ‘n ander deuntjie laat sing!

Tanniepetoors ·

Voorwaar hartseer dat vandale gemeenskapsgoed vernietig.

Pietertjie ·

Nee wat, hulle brand ‘n trein of ‘n bus, en die volgende dag gaan staan hulle by dieselfde stasie of halte en wag vir die transport. Dis als Westerse goed. Dit pla hulle nie. Hulle moet net “harder” stem, só sal hulle Utopia haal. Daar is geen parallel tussen die huidige situasie en stem-geregtigheid nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.