Alexandra-betoging: Weermag ontbied

Brandende bande in die strate van Alexandra tydens 'n beoting oor die verkiesing op 8 Mei 2014 Foto: @MakhotsoG, Twitter

Brandende bande in die strate van Alexandra tydens ‘n beoting oor die verkiesing op 8 Mei 2014 Foto: @MakhotsoG, Twitter

Die weermag is ontbied om ʼn gewelddadige betoging in Alexandra, noord van Johannesburg, te beheer.

“Lt.genl. Joel Mothiba, provinsiale polisiekommissaris, het aangedui dat die inwoners van Alexandra geboue betree en mense aangerand het,” het Nomvula Mokonyane, Gautengse premier, Vrydag gesê. “Die weermag is ontbied.”

Keith Khoza, woordvoerder vir die ANC, het gesê die party is in kennis gestel dat die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF) mense met busse na Alexandra aangery het om die betoging aan te vuur. “ʼn Sekere politieke party, wat aan die verkiesing deelgeneem het, bring mense na die informele nedersetting. Ons kan nie geweld of die vernietiging van eiendom goedkeur nie,” het Khoza gesê.

Die betogers eis glo dat diegene wat Donderdag tydens ʼn betoging in hegtenis geneem is, vrygelaat moet word.

Dali Mpofu, leier van die EFF in Gauteng, het ontken dat sy party betogers na Alexandra gebring het. “Lede van die EFF, die DA en die IVP was Donderdag betrokke by ʼn gyselaarsituasie oor bewerings van stemknoeiery,” het Mpofu gesê. “Die EFF het prokureurs uitgestuur om dié situasie te hanteer. Ons keur nie geweld goed nie en hulle gaan natuurlik, van al die partye, die EFF uitsonder.”

Kate Bapela, woordvoerder van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), het gesê die kommissie het van die betoging te hore gekom, maar het nog nie ʼn enkele klag oor die stemproses in Alexandra ontvang nie.

Die polisie in Gauteng het gesê rubberkoeëls en skokgranate is Vrydagmiddag gevuur om die betogers te verdryf. “Tussen 300 en 400 mense het buite die hof in Alexandra saamgedrom en bande gebrand. Hulle het betoog oor die verdagtes wat Donderdagaand vir openbare geweld in hegtenis geneem is,” het brig. Neville Malila, woordvoerder van die polisie, in ʼn verklaring gesê. Altesaam 44 mense is vir openbare geweld in hegtenis geneem.

Geen beserings is aangemeld nie.

Malila het vroeër gesê ʼn vertrek in ʼn gemeenskapsentrum wat deur die OVK gebruik is, is Donderdagaand gebrand. Daar was in daardie stadium mense in die sentrum, maar niemand is beseer nie. Altesaam 31 mense is in hegtenis geneem in verband met Donderdagaand se brandstigting. Malila sê die rede vir die brandstigting is nie bekend nie.

Altwee groepe sal Maandag in die Alexandra landdroshof verskyn. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Marie vlok ·

mens wil eintlik lag, maar die grappies is so stuuuuuuppppppiiiiiid, jy kan nie eers daaroor lag nie. IK’s is laer as slakdinges!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.