Alexandra-brand dalk nié deur kragpaal veroorsaak

Die Stjwetla- informele nedersetting in Alexandra, Johannesburg. (Foto: Verskaf)

Die brand wat Dinsdag verwoesting in die Stjwetla- informele nedersetting in Alexandra in Johannesburg gesaai het, was nié deur ʼn kragpaal veroorsaak soos aanvanklik vermoed nie.

ʼn Brand het gister omstreeks 13:30 in dié informele nedersetting uitgebreek. Meer as 100 plakkershutte is verwoes voordat die brand omstreeks 17:00 onder bedwang gebring is.

Daar is aanvanklik vermoed dat die brand ontstaan het weens ʼn kragpaal wat omgeval het. Oorhoofse kraglyne het glo op plakkershutte in dié nedersetting geval.

Isaac Mangena, woordvoerder van City Power, het Woensdag gesê dat getuies en ’n voorlopige ondersoek egter ’n ander weergawe van gebeure vertel. “Die kragpaal het glo gedurende die brand omgeval nadat die brand in ’n plakkershut onstaan het,” verduidelik Mangena.

“Ons kan dus nie finaal sê die brand is deur die kragpaal en oorhoofse lyne veroorsaak nie. Kragpale word ontwerp om swaar weerstoestande en sterk winde te weerstaan. Dus sal ons ondersoek ook kyk of die struktuur van die kragpaal moontlik verswak of beskadig is tydens die oprig van plakkershutte en of dit veroorsaak het dat die kragpaal omgeval het.”

Nana Radebe, woordvoerder van die Johannesburgse nooddiens, het aan Maroela Media gesê dat 142 plakkershutte in die brand verwoes is. Niemand is egter in die voorval beseer nie, sê sy.

City Power het dwarsdeur die nag gewerk om kragtoevoer na die ooste van die stad te herstel wat weens dié brand sonder elektrisiteit gelaat is.

“Ons sal vandag begin om die pale en oorhoofse lyne te vervang. Die herstelwerk sal geen invloed hê op elektrisiteitstoevoer nie, aangesien ons daarin geslaag het om weer elektrisiteit te verskaf aan gebiede waarvan die kragtoevoer gister gesny is,” het Mangena gesê.

Alhoewel Radebe nie in die stadium ʼn skadeberaming kon verskaf nie, skat Mangena dat die brand tussen R3 miljoen tot R5 miljoen se skade aan infrastruktuur aangerig het. Die uiteindelike skadeberaming sal van die finale assessering afhang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

D B ·

2 – 5 Milj. Rand se skade, en wie betaal daarvoor? Mooi man. Het hierdie mense ooit betaal vir die krag wat hulle so lekker gebruik?

Bekommerd ·

Hoekom gebruik die regering nie die korrupsie geld om vir die mense ordentlike baksteen huise te bou nie dan sal dit nie gebeur nie. As dit nie vloede is nie dan is dit brande

ne ·

@D B – hoe kan jy nou verwag die armste van armste moet betaal? Almal kry mos ALLES verniet in SA. Die belasting betaler sal sorg.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.