Alexandria-plaasaanval: Pad vorentoe steeds onbekend

Riaan Scheepers by sy drie kinders, Bianca, Simone en Christo. Foto: Verskaf

Riaan Scheepers (62), die beesboer wat in November wreed aangeval en aangerand is op sy plaas in die Alexandria-omgewing in die Oos-Kaap, is steeds in ʼn ernstige toestand in die waakeenheid van ʼn hospitaal in Port Elizabeth.

Bianca Scheepers, Riaan se dogter, het Dinsdag aan Maroela Media gesê haar pa se toestand verander voortdurend. Scheepers sê haar pa is steeds in die waakeenheid van die Netcare Greenacres hospitaal.

“Die naweek was beter. Die swelling op sy brein het ʼn bietjie gesak en die druk op die brein was beter, maar dit het gister weer hoër geraak. Dit is nog nie duidelik hoekom dit gebeur nie. Dokters sou ʼn lumbale punksie gedoen het, maar het toe daarteen besluit. Hulle gaan nou net ander toetse doen,” het Scheepers gesê.

Volgens haar het die steekwonde aan haar pa se kop al ʼn bietjie herstel en het die swelling op sy gesig heelwat gesak. “Dit lyk duisend maal beter. Dis vir ons baie beter om hom so te sien.”

Scheepers vertel dat die aanval steeds ʼn geweldige skok vir die gesin is en dat dit veral moeilik raak omdat hulle nie met Riaan kan praat nie. “Sy breinaktiwiteit styg nooit hoog genoeg dat hy sal reageer of ons hand druk nie. Ons sien Donderdag weer die dokters om sy toestand te bespreek.”

Riaan is intussen ook voorsien van ʼn trageotomie-buis in sy keel.

Die pad vorentoe is vir die gesin steeds onbekend omdat die omvang van Riaan se breinskade eers bepaal kan word wanneer hy wakker geword het. Scheepers sê Riaan is nie meer in ʼn medies geïnduseerde koma nie “maar slaap nog”.

Siphamandla Petse (24), die man wat vroeër in verband met die aanval op Riaan in hegtenis geneem is, sal vandag vir die tweede keer in die hof verskyn. Die plaaslike polisiewoordvoerder kon nie onmiddellik bereik word om kommentaar oor die vordering van die ondersoek te lewer nie.

Maroela Media het vroeër berig Scheepers is op 25 November tussen 08:10 en 09:00 oorval toe hy by sy huis op die plaas, waar hy al 27 jaar lank met vleisbeeste boer, ingestap het. ʼn Plaaswerker het hom hoor skree, maar die werker is deur een van die aanvallers oorval voordat hy hulp kon ontbied.

Scheepers en die werker is albei in die sitkamer van die huis vasgebind en die werker is geblinddoek. Die werker het gehoor hoe twee aanvallers vir Scheepers erg aanrand voordat hulle uiteindelik met ʼn selfoon, ʼn rewolwer en ʼn bakkie op die vlug geslaan het. Die bakkie is later die dag teruggevind.

Grafiese foto’s van Scheepers se bebloede en gekneusde gesig is ná die aanval op sosiale media versprei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.