Algehele afsondering: Moenie polisie toets nie

Tentoonstelling van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag. (Foto: Potchefstroom Armed Forces Day, Facebook)

Dit is nog nie heeltemal duidelik hoe presies die polisie die regulasies van die algehele afsondering, wat vanaf middernag vanaand van toepassing is, gaan afdwing nie. Dit is ook te betwyfel of wetstoepassingsowerhede genoeg kapasiteit het om die regulasies landwyd toe te pas. Maar kenners het dit eens: moenie moeilikheid soek met die polisie nie, want hulle kán jou in die tronk stop.

Dr. Johan Burger, senior navorser aan die instituut vir sekerheidstudies, sê die regulasies gee baie duidelik die polisie toestemming om mense wat dit oortree deur byvoorbeeld onnodig op die pad te wees, onmiddellik te beboet of in hegtenis te neem. “Hoe presies hulle gaan kan vasstel dat jy werklik op pad is dokter toe of om kos te koop, is nog onduidelik. Ons sal maar moet staatmaak op individuele polisielede se goeie oordeel in dié verband,” sê Burger.

Hy sê dit is nou belangriker as ooit dat mense altyd ʼn identiteitsdokument by hulle het wanneer hulle reis.

Burger sê ook dit sal goed wees indien wetstoepassers ʼn stelsel uitwerk waarvolgens hulle waarskuwings kan uitreik. “Om elke persoon op die plek in hegtenis te neem veroorsaak weer ander uitdagings, want hierdie mense moet iewers in ʼn tronk gehou en verhoor word. As elkeen vir die geringste oortreding in hegtenis geneem word, sal dit net onnodige druk op die owerhede plaas,” sê hy.

Tentoonstelling van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag tydens Weermagdag op 21 Februarie 2015 in Potchefstroom, Noordwes (Foto: Potchefstroom Armed Forces Day, Facebook)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag sal ook van Vrydag af ontplooi word om die polisie by te staan.

Die militêre ontleder Helmoed-Römer Heitman sê die weermag sal hoofsaaklik aan diens wees om kosbare vrag soos kos en medisyne te bewaar en versprei en die polisie te help om padblokkades en patrollies uit te voer. Hy twyfel egter of daar genoeg soldate is om behoorlik landwyd te funksioneer.

“Daar is net minder as 80 000 weermaglede, indien ons reserviste ook bytel. As ons in ag neem dat omtrent 2 000 reeds in die Kongo ontplooi is, nog 1 000 ons grense patrolleer en baie van die ander kokke of ingenieurs is, sal die oorblywende weermaglede maar yl gesaai wees,” sê Heitman.

Die SANW het Donderdag laat weet dat hulle ʼn noodsaaklike skenking van beskermende mediese toerusting vanaf die Chinese regering ontvang het. Dit sluit in 2 000 beskermende brille en 3 000 gesigmaskers om te gebruik tydens die drie weke van algehele afsondering.

Heitman het lede van die publiek gemaan om beleefd te wees, sou hulle in aanraking kom met wetstoepassingsowerhede. “Dis nie ʼn maklike werk nie en polisie en weermaglede word ook moeg. Drie weke is lank en ons almal gaan bietjie geïrriteerd raak met mekaar, so hanteer mekaar met respek.”

Hy voorspel egter daar sal vir seker mense wees wat die reëls breek en die grense toets. Hierop sê Burger dis belangrik vir elkeen om individueel verantwoordelikheid te neem om die verspreiding van die virus te help bekamp.

“Die doel van afsondering is om menslike kontak en beweging te beperk, sodat die verspreiding van die virus stopgesit kan word. Dit is dus ter wille van ons eie gesondheid dat ons die reëls moet gehoorsaam, en nie bloot omdat ons nie uitgevang wil word nie.”

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Fae Fubar ·

My baas toets die reëls sommer namens my. Ek word verplig om werk toe te gaan om beuselagtige takies by die kantoor te gaan verrig. Ons sal maar moet wag tot môre om te sien wie van die personeel eerste gearresteer sal word. Terwyl ons baas homself ingeburger het op die werksperseel en glad nie hoef te reis nie.

LD ·

Ek verstaan jou frustrasie! Ek sit met die selfde probleem. Ek werk vir n private sekuriteits maatskappy maar werk slegs as n admin. Ek is nie deel van die Gewapende Reaksie of beheerkamer nie, my werk is bloot om maandelikse premies in the vorder. Ek is nie eers by Psira geregistreerd nie maar word gedwing om te werk. Ek het Februarie verlof ingesit met die lang naweke in April,gister moes ek hoor as ek my verlof vat dan is dit “no work no pay”. Toe ek vandag Se dis reg hulle kan my op “unpaid leave” sit toe word daar vir my gese hulle sal my dan kennis gee, en iemand anders in my plek aanstel. Ek woon buite op n plaas en met die wat hulle die paaie gaan toemaak met padblokkades is ek baie baie bang vir my lewe en gesondheid. Ons het wel elk n brief gekry wat die maatskappy gegee het wat toestemming gee om te gaan werk maar soos ek verstaan is ek nie deel van die “essential” nie. Ek het al verskeie mense genader oor my situasie maar niemand kan my werklik se wat is my regte nie?!?!

Jaco ·

Die SAPD ‘n baie laks menseregtebenadering teenoor misdaad, veral teenoor sekere groepe. So nou wonder ek maar net, hoe gaan hulle oornag, binne baie MINDER as 24 uur, skielik in behoorlike streng wetstoepassers verander?

Michael 1 ·

2000 in die Kongo ontplooi en 1000 wat die grense moet patrolleer, duidelik is die prioriteite nie reg maar kom ons gee kans tyd sal leer.

Johan Venter ·

Moenie ons wetsgehoorsame burgers dreig en kom frustreer met die graas van jul voertuie of helikopters nie, ons wil rustig wees, gaan soek op Google Maps se ‘satellite’ en ‘streetview’ die skuldiges, maak van gevorderde tegnologie gebruik.

Pieter ·

Sal graag wil weet hoe sal hulle kan Google maps gebruik om skuldiges vas te trek?

Johan Venter ·

hehehe … probeer met ‘satellite’ en ‘streetview’, aanhouer wen. Maar hulle sal nie ophou probeer voor Google Maps nie gebreek is nie.

Simon ·

Hulle is bang…baie bang. Die kanse dat hul magsbasis ‘n massiewe knou kan kry is groot…baie groot

Piet ·

Dit sal kostegewys baie goedkoper wees om die troepe wat in die Kongo is, hier in SA te ontplooi. SA is moet ‘n groter prioriteit. Daar sal dan 3 000 troepe beskikbaar wees om die grens te patroller.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.