Algehele afsondering: Nasionale belang kom nou eerste

Foto ter illustrasie (Foto: Pixabay)

Niemand het enkele weke gelede geweet dat die wêreld en Suid-Afrika so dramaties anders sou wees en lyk in Maart 2020 nie. Covid-19, of die nuwe koronavirus, het ʼn verwoestende impak reg oor die wêreld gehad op mense, ons lewenswyse en die ekonomie. Die president se afkondiging van ʼn periode van algehele afsondering van 21 dae, wat Donderdag om middernag in werking tree, gaan Suid-Afrika ongetwyfeld toets, dalk nog meer as met die 1994 demokratiese oorgang, sê Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

“Die komende tyd gaan ons karakter as land en nasie in die vergrootglas geplaas word. Hierdie is nou die tyd waarin burgerlike gehoorsaamheid tot die uiterste beproef gaan word. Dit is die een uiterste, maar die ander uiterste is dat ons weet Suid-Afrikaners planmakers is en dra ons kennis van skole wat planne vir leerlinge maak, universiteite vir studente, kerke maak planne vir lidmate en winkels maak kreatiewe planne vir kliënte.

“In die tyd wat ons elke dag sien hoe die wêreld en Suid-Afrika ook geaffekteer word, het ons ook met ons lede gekommunikeer. Ongetwyfeld is dit so dat ons nie die president of die regering kwalik kan neem vir die drastiese stappe wat gedoen is nie. Die groot onbekende faktor bly die maatskaplike en gesondheidsnetwerke van ons land. Die tyd sal leer of ons gereed en gerat was om die koronavirus suksesvol te stuit,” voeg Bosman by.

“Namens die Nasionale Raad van die Afrikanerbond wil ons graag langs die weg ons dank en waardering uitspreek teenoor elke mediese en nooddienswerker, elke lid in ons veiligheidsdienste en ander rolspelers aan wie reeds groot eise gestel is en van wie in die komende dae die haas onmoontlike en amper onmenslike verwagtinge gestel gaan word. Al kan Suid-Afrikaners nie veel meer in ons huise in die staat van inperking doen nie, kan ons wel die personeel in ons gebede en gedagtes ondersteun.

“Net so moet ons as Suid-Afrikaners ook weet dat dit nie nou die tyd is vir selfsugtige eie en persoonlike belang nie, maar dat dit in die komende dae en weke rondom die groter nasionale belang gaan. Dit is ook nodig vir groot insig en wysheid in regering en president Ramaphosa het in die laaste weke getoon dat hy wel oor leierskap- en staatsmanvaardighede beskik om Suid-Afrika deur die krisis te lei. Hy en sy regering en veral hulle in die nasionale koronavirusbevelsraad, wat in die voorpos staan van kritieke besluite en uitvoering, kan daarom staatmaak op gebede van baie Suid-Afrikaners, wat net soos ons staatmaak op die leiding,” sê Bosman.

“In die onbekende tyd het ons almal vrese en onsekerheid. Maar, net soos telkens in die verlede weet ons dat dit sal oorgaan en ons opnuut sterker hier sal uitkom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Jaco ·

Ek wik en weeg tussen 2 scenarios:
1. Hierdie lockdown gaan nie werk nie. SONDER lockdown is daar klaar te min wetstoepassers om misdaad behoorlik te bekamp. Ek gee lockdown 1 week, dan gaan die regering dit weer unlock en erken dat dit te moeilik/onmoontlik is om toe te pas.
2. Aan die anderkant: corona is VEEL ligter in SA as in China, Spanje en Italië. So is dié lockdown dalk net ‘n poging van ons regering om wit besighede finaal te breek en om alle wit werkers finaal werkloos te maak? Daars dan reeds gesê net swart besighede en besighede wat regstellende aksie en BEE reg toepas gaan gehelp word.

Dr Pieter ·

Jaco, die logika is vir my vreemd. U sê, “Corona is VEEL ligter in SA as in China, Spanje en Italië.” Moet dit eers erger word voordat ons optree? Hierdie maatreëls is ten bate van die hele land en opofferings is nodig ter wille van oorlewing. Het u al gedink wat gaan gebeur wanneer hierdie virus die informele nedersettings tref, waar huise teen mekaar staan?

Moedeloos ·

Wel my werkgewer stel sy belange eerste. Alles moet aangaan soos normaal en almal het nie toegang tot rekenaars by hul huise nie dus moet jy inkom kantoor toe.

Michael 1 ·

Hulle doen maar almal of die meerdeheid stel hulle belange eerste.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.