Algehele afsondering: Woede oor haweloses in skoolkoshuise gehuisves word

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die Gautengse wetgewer het skuilings, waaronder dertig skole, geïdentifiseer wat die volgende drie weke sal dien as skuiling vir haweloses en mishandelde vrou. Skole en belanghebbendes is egter bekommerd dat leerders nou saam met haweloses gehuisves sal word en dat haweloses boonop nie oor drie weke uit die skole sal wil padgee nie. Laerskool Elspark in Germiston, Hoërskool Vanderbijlpark, Jeppe High School for Boys en Parktown Boys’ High School is van die skole wat geïdentifiseer is.

Die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling sê in ’n verklaring skole se bestaande infrastruktuur, waaronder koshuise, sal ingespan word om ’n heenkome vir haweloses gedurende hierdie tyd te bied.

Dié besluit ontvang egter teenkanting uit verskeie oorde. “Die antwoord is néé. Dit gaan nié gebeur nie. Dit kan eenvoudig net nie werk nie,” sê Dirk Bloem, beheerliggaamvoorsitter van die Prinshof-skool vir swaksiendes en blindes in die Pretoriase middestad. Dié skool is een van die 30 skole wat haweloses vir die volgende 21 dae in sy koshuis moet huisves.

“Ons gaan dit nie toelaat nie,” sê Bloem aan Maroela Media. Hy verduidelik dat haweloses nie in die skool se koshuis gehuisves kan word nie aangesien daar personeellede op die skoolterrein bly. Baie van die toerusting vir swaksiendes en blindes word ook in die koshuis gestoor. Die beheerliggaam is veral bekommerd oor diefstal asook die higiëniese implikasies.

Alana Bailey, hoof van kultuursake by die burgerregte-organisasie AfriForum, sê die organisasie besef dat haweloses gedurende die landwye afsondering gehuisves moet word. Die organisasie het egter ook begrip vir beheerliggame se bekommernisse.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Pixabay)

Bailey raai skole aan om so gou as moontlik met die departement in verbinding te tree en dit duidelik te stel dat die besluit nié uitvoerbaar is nie, veral indien leerders gedurende die volgende drie weke se afsondering steeds in die koshuise moet aanbly. “Jy kan natuurlik nie toelaat dat meerderjariges saam met minderjarige leerders bly nie.”

Melanie Buys, ʼn onderwysspesialis by die Skoleondersteuningsentrum (SOS), verduidelik dat verskeie van die skole wat geïdentifiseer is, spesifiek skole vir leerders met spesiale behoeftes of gestremdhede is. “Die moontlikheid bestaan dat sommige van die leerders nie in staat is om na hul ouerhuise te gaan gedurende die afsondering nie. Wat van die leerders se belang?”

Volgens Buys bestaan die moontlikheid ook dat die haweloses nie vrywillig die koshuise sal wil ontruim nadat die afsondering opgehef is nie.

Skole

Luidens die verklaring is vyf skole geïdentifiseer in die omgewing van die Johannesburgse middestad, Roodepoort, Midrand, die sakesentrum van Randburg, Hyde Park, Rosebank, Auckland Park, Booysens en Brixton. Dié skole sluit in Queen’s High School, King Edward V II Preparatory School, Jeppe High School for Boys en Parktown Boys’ High School.

Volgens die departement sal die Laerskool Elspark in Germiston se koshuise beskikbaar gestel word vir die omgewing van Germiston, die sakesentrum van Boksburg, Kempton Park, Benoni, Alberton, Brakpan en Springs.

Argieffoto ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

In Pretoria is Prinshof-skool vir swaksiendes en blindes, Pretoriaskool vir Serebraal Gestremdes en Transoranje- Skool vir Dowes geïdentifiseer om die gebiede van Centurion, Silverton, Sunnyside, die Pretoriase middestad, Menlyn, Lynnwood, Cullinan en Bronkhorstspruit te bedien. Haweloses sal in dié skole se koshuise gehuisves word.

Hoërskool Vanderbijlpark, Phoenix Secondary School en General Smuts High School in Vereeniging is geïdentifiseer in die Sedibeng-distriksmunisipaliteit.

Luidens die verklaring sal kospakkies deur die nasionale skoolvoedingsprogram gedurende die tydperk aan die haweloses verskaf word.

Kospakkies sal ook steeds aan leerders op die program beskikbaar gestel word. Die departement sal deurgaans ook sanitêre ware soos seep, tandepasta en handreinigingsmiddels en maskers aan behoeftige leerders verskaf.

Skuilings vir mishandelde vroue

Luidens die verklaring is altesaam 30 skuilings in die provinsie beskikbaar gestel vir mishandelde vroue wat oor die volgende drie weke deur huishoudelike geweld geraak word. Die nodige ondersteuning sal by dié skuilings gebied word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

daniel ·

Dit wil voorkom asof die ANC spesialiseer in onkunde . Hierdie idee is sekerlik die onnoselste uittarting wat ek nog gesien het.
Die anc moet kennis neem van hierdie virus en dit sien as n vingerwysing van God.
.

Belinda ·

Regte stupidste idee. Daar is soveel geld eenkant gesit, koop ‘n klomp tente en slaan dit op staatsgronde op – groot oop spasies, huur tydelike toilette en storte in met ‘n water trok. Hierdie mense is uit eie keuse op straat, wil jul nou sowaar dat mense wat nie eens waarde vir hul eie lewens het nie, ander mense se laaste kanse en waardes opneuk. Ek voel jammer vir mishandelde vroue, maar hul gaan elke keer terug na die een wat hul so mishandel, nou wil julle regtig die jeug wat nog ‘n kans het om ‘n lewe te maak en te wil lewe se kanse gryp. Die gled wat geskenk is, is nie vir ministers en staatswerkers om pligte uit te voer nie……. tot Nando’s eet is vir julle ‘n opdrag en moeite. Dit is juis vir diesulkes wat nie ‘n blyplek het nie. Sit ‘n kombuistent op, laat hulle kook en handig raak, nee hul ontvang mos net alles, daarom het hul nie geleer om self iets te doen nie. Jy kan nie kinders se toekoms in gevaar stel vir sulke mense nie!!!!

Benn ·

NEE! Dit is malligheid! Gestremde mense kan hulle self nie verdedig nie!

koos10 ·

Kan jy nou meer, sommer net so. Tjoef Tjaf en daar is plan gemaak.

1. Die haweloses gaan weier om te trek na 21 dae.
2. As hulle uiteindelik gaan trek vat hulle alles van beddens, vensters tot wasbakke en stortkoppe saam.

Wie gaan die water en ligte rekeninge moet betaal? Seker die skool (die ouers?).
Wie moet na die veiligheid van die geboue omsien? Seker die skool.
Wie gaan die haweloses moet verwyder na 21 dae? Seker die skool met ‘n hof bevel?
Wie gaan vir die skade moet pa staan? Seker………..

Wondermaarnet ·

Hulle sal tot die toilette uit die grond uit breek. Glo my, hulle sal!

Kobus ·

Hoekom Gebruik Hulle nie die Spook Hospitaal in Kempton park nie?

Na die CoVid-19 verby is kan die Staat weer Spook om almal daar uit te kry.

Michael 1 ·

En so bewys die anc elke dag vir ons dat hulle nie eers n spaza winkel op die Platte land kan bestuur nie maar hulle sal seker in beheer van die land en ons wees tot in ewigheid…dankie de klerk

Scalla ·

Moenie teen die natuur gaan nie, hul is gewoond aan die leefwyse.

Maria ·

Stem saam. hulle kan in tydelike ramphuisies bly op sportveld met kospakke en mobiele toilette

Jannie van Niekerk ·

Boek die haweloses in by ANC, EFF, COSATU , BLF en SAKP ondersteuners. Hulle is die oorsaak dat daar soveel haweloses in die land is.

Anna ·

Hul huiswerk weereens nie gedoen nie:
Laerskool Elspark HET NIE KOSHUISE NIE
Gaan haweloses in klaskzmers op vloer lê

Regtig regering skrik wakker
Is daar net haweloses in woonbuurte wat genoem is of waar is die lys van skole in townships waar haweloses gehuisves kan word nee gaan seker die hele township met busse aanry net nog n las vir ons wat belasting betaal

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.