Algehele drankverbod ‘nie oplossing’ – drankhandelaars

(Argieffoto: Unsplash)

Die Drankhandelaarsvereniging het sy absolute steun gegee vir die regering se pogings om die Covid-19-pandemie te stuit terwyl ʼn tweede vlaag van die virussiekte oor die land spoel.

Hy het egter ook ʼn beroep op die regering gedoen om met die bedryf saam te werk om oplossings te vind wat tot gemeenskaplike voordeel is – nie net om die Covid-19-pandemie te bestry nie, maar ook om die een miljoen werksgeleenthede wat op die drankbedryf staatmaak, te beskerm.

“Ons dink nie ʼn algehele verbod op alkoholverkope gaan ʼn oplossing op kort óf lang termyn wees om die vlaag positiewe Covid-19-gevalle te stuit nie,” het Lucky Ntimane, sameroeper van die Drankhandelaarsvereniging, gesê.

Die vereniging stel ʼn aandklokreël voor wat onnodige reise vir die publiek beperk, terwyl dit ook die belang van die toerismebedryf – wat staatmaak op die beskikbaarheid van alkohol – in ag neem.

Die vereniging stel ook voor dat indien enige verdere beperkings wel op drankverkope geplaas word, die verkoop van drank vir tuisgebruik steeds toegelaat word. Die vereniging vra ook vir ʼn spesiale toegewing wat tavernes sal toelaat om drank op dié manier binne beperkte handelsure te verkoop.

“As drankhandelaars het ons met teleurstelling kennis geneem van die gebrek aan voldoening aan die beheermaatreëls deur sommige mense wat hulle nie gedra op ʼn manier wat gepas is vir patriotiese Suid-Afrikaners nie,” het Ntimane gesê.

“Hulle het versuim om kennis te neem van ʼn beroep deur die president om só op te tree dat hul gedrag die land help om die tweede vlaag van die virus te bestry.

“Ons doen ʼn beroep op al ons drankhandelaars en die publiek om die Covid-19-maatreëls te gehoorsaam wat betref die dra van maskers ten alle tye, die gereelde sanitering en was van hande en die handhawing van sosiale afstand.”

Ntimane sê deur aan dié eenvoudige bepalings te voldoen, sal nog ʼn Kerstyd saam met vriende en familie gewaarborg word.

Hy sê die vereniging verstaan die situasie waarin die land hom bevind en is bewus van die feit dat die president en sy regering in die komende dae moeilike besluite sal moet neem. Die vereniging steun ook die regering se pogings om Covid-19 te bekamp.

“Ons glo egter dat enige besluit wat ons bedryf raak voor die tyd met ons bespreek moet word en ons insette oorweeg moet word voor enige besluit aan die publiek deurgegee word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.