Algehele ineenstorting dreig by Denel

Denel sukkel reeds maande lank net om sy salarisse te betaal. (Foto: Denel)

Denel is tegnies bankrot en behoort gesluit te word – en daar is al hoe meer aanduidings dat die sukkelende wapenvervaardiger nie veel langer die ligte sal kan aanhou nie.

Michele Clarke, die DA se woordvoerder oor openbare ondernemings, sê Denel moet in sakeredding geplaas word. “Dit word al hoe duideliker dat ineenstorting die instelling in die gesig staar,” waarsku Clarke.

Die oënskynlike wanbestuur van Denel het ʼn lang aanloop en sedert verlede jaar sukkel hy om selfs net sy salarisse te betaal.

Helgard Cronjé, adjunkhoofsekretaris van die openbare bedryf by Solidariteit, sê die voorstel van sakeredding is egter nie noodwendig prakties moontlik nie. Heelwat wetgewing is ter sprake wanneer bates van ʼn semistaatsinstelling verkoop word en dit is ʼn opdraande stryd – soos blyk uit die sakereddingsproses by die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL).

Cronjé sê Denel benodig eerder private beleggings, maar die departement van onderskeidelik openbare ondernemings en verdediging moet saamstem oor dít wat verkoop kan word sodat kapitaal kan invloei.

Hy sê dit lyk of die twee departemente egter nie konsensus hieroor kan bereik nie, terwyl verskeie voorstelle wat in Denel se omkeerplan gemaak is, boonop nooit ondersteun of deurgevoer is nie.

Solidariteit het verlede maand ʼn lasbrief bekom om beslag te lê op Denel-bates van sowat R12,7 miljoen sodat werkers se salarisse betaal kon word. Cronjé sê hoewel die balju die bates reeds opgeskryf het, is daar nog nie daarop beslag gelê nie.

Denel probeer intussen om van sy uitstaande geld te betaal, maar gebruik oënskynlik die geld vir huidige salarisse daarvoor. Dit beteken salarisse in sommige afdelings word weereens net gedeeltelik of selfs glad nie betaal nie.

Cronjé sê Solidariteit berei intussen voor vir nog regstappe om Denel te dwing om die uitstaande geld te betaal.

“Dit is ʼn aaneenlopende probleem waarvoor ʼn oplossing nog nie gevind is nie. Dit het in April verlede jaar begin toe die derdepartybetalings nie gedoen is nie.

“Daar is ʼn voortdurende toutrekkery om enigiets te laat gebeur. Dit het vir tydperke beter gegaan namate die kontantvloei gewissel het wanneer kliënte byvoorbeeld betaal, maar Denel strompel tussen kontantinspuitings en kliëntebetalings.

“Intussen is daar mense wat nie salaris kry nie totdat iemand eendag besluit hy sien nou kans vir dié probleem.”

Die vakbond Uasa het die afgelope week ook gesê Denel se afleggingsbeleid is nie sedert 2007 hersien nie en enige veranderings aan beleid terwyl afleggings op die tafel is, gaan met teenstand begroet word.

“Meer afleggings is nie die antwoord op die land se probleme nie. Ons moet mense laat werk en ekonomiese sektore aan die gang hou om werkloosheid en die Covid-19-krisis te bowe te kom,” sê Abigail Moyo, woordvoerder van Uasa.

Die regering het dit vroeër reeds duidelik gemaak dat hy nie nog geld aan Denel gaan gee nie en al hoe meer skokonthullings oor die omvang van Denel se probleme kom aan die lig.

Verlede maand het die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) aan die parlement gesê die aanstelling van ʼn nuwe raad van direkteure in 2015 het nie die gewone proses vir staatsbeheerde instellings (SBO’s) gevolg nie. ʼn Vennoot van die Gupta-familie het boonop oënskynlik ʼn lys van voorgestelde raadslede voorgelê.

Daar is ook gekyk na bewerings dat Denel nie die regte proses gevolg het om IT-veiligheid- en regsdienste te bekom nie, en ook nie vir die ontwikkeling van ʼn witskrif nie.

Die SOE het aan die komitee gesê die aanstelling van VR Laser Services vir die vervaardiging van militêre voertuie was onreëlmatig en daar was heelwat botsing van belange.

Volgens die eenheid word daar ook ondersoek ingestel na bewerings dat Denel se intellektuele eiendom wederregtelik toegeken is. Die bewerings het ingesluit dat sogenaamde missieldatapakke na Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate gestuur is. Daar is glo deur misdadige optrede saamgewerk om Denel se intellektuele eiendom te misbruik om ander lande se staatsinstellings te help.

Die SOE sê in die 2019-’20-boekjaar het Denel se bates net R8,53 miljard beloop, terwyl sy laste op nagenoeg R10,8 miljard neergekom het. Die instelling word tegnies beskou as hoogs insolvent en indien die regering nie finansieel ingryp nie, behoort dit gesluit te word, het LP’s gehoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

JohanR ·

Nog ‘n ANC sukses storie! Dink aan Queen se We Will Rock You….we will, we will destroy you!

Elize ·

Denel moes dalk maar onder Departement van Verdediging gebly het, klink of DPE maar redelik verrot is.

Andre ·

Alle staatsentiteite is verrot, so dit sou geen verskil gemaak het nie.

Wielspore ·

Laat Solidariteit dit koop, trek oud soldate en tegniese personeel terug en maak die instansie winsgewend. Dit kan gedoen word, daar is heelwat mense daar buite wat oor die kennis en ervaring beskik om die werk te doen.
Verander dan die naam van Denel na SolKryg!

Werner ·

Maak liewer n lys van wie nie bankrot is nie die hele land is op die drumpel van totale ineenstorting

LANA is ELANè ·

Wel, na die insetsel op Carte Blanche gisteraand is daar sekerlik nie veel te wagte nie.
Nes die res vd groot staatsbeheerde entiteite drup dit van korrupsie, diefstal, wanbestuur danksy oa die spul Guptas en Zumas wat vryvoël verklaar is in die UAE, en hul rykmanslewe terdeë geniet buite die kamtige vangnet v SA wat ook maar net oogverblindery is.
Ek voel bitter bitter jammer vir ieder en elke personeellid van Denel, dit was eens op ‘n tyd die trots van selfs die gewone man op straat en nou sit ‘n klomp Arabiere met ons intellektuele eiendom, asof dit van hul kundigheid en jare se hardewerk kom. Lot skelms, saam met die regerende party.
Mag die persoon boet wat daarvoor verantwoordelik is!!!

SomeOne ·

waarvoor sake redding, julle sien dit werk nie en is net ‘n verkwisting van geld, sluit die plek toe en onthou om net die ligte af te skakel

Nico ·

Hierdie is ‘n bewys dat die ANC regering absoluut onbevoegd is om ‘n land te regeer, al die geld wat daar was is belê in privaat bank rekeninge, hoe het dit gebeur dat ‘n persoon met std. 3 ‘n land regeer. Danell wat die top wapen vervaardiger was is tot niet, laat dit oorgeneem word deur instansies wat die kennis het.

Korrelkop ·

Hulle het my lewe opgemors, so kry vir julle. Hoe gouer, hoe beter!

Anoniem ·

Kan iemand vir my mooi verduidelik HOE het Denel tot hierdie vlak gedaal???? Waar kom al die skuld vandaan???? Het Kaders hiermee iets te doen?????

Johan D ·

Ek wonder nou net in hoe ʼn mate sal Denel se treurmare vir Rheinmetall Denel raak!

Korrelkop ·

Hulle het duisende mense se lewens geruïneer deur hulle af te betaal so, geen simpatie hier nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.