Algehele mediabedryf vereer met gesogte toekenning

(Foto: Héctor Martinez/Unsplash)

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) ken vanjaar die gesogte Nat Nakasa-toekenning toe aan alle joernaliste wat oor die Covid-19-pandemie verslag gedoen het.

Sanef sê joernaliste het elke dag hard gewerk, ten spyte van die moontlikheid dat hulle die virus kan opdoen en terwyl ʼn dikwels onseker toekoms hulle in die gesig staar. Die bedryf loop deur onder massa-afleggings, salarisbesnoeiings en die sluiting van verskeie mediagroepe.

“Die erkenning aan joernaliste in die geheel as wenner van die Nat Nakasa-toekenning is nie net ʼn weerspieëling van hoe briljant hulle magtige indiwidue en instellings in die samelewing aanspreeklik hou vir die ongekende en ingewikkelde maatskaplike uitwerking van die nuwe koronavirus nie, dit vereer ook hulle voortgesette toewyding om ʼn leersame en vrye media te bevorder,” het Sydney Mbhele, uitvoerende hoof: bemarking by Sanlam, gesê.

Die toekenning gaan gewoonlik aan ʼn enkele Suid-Afrikaanse persoon in die koerant-, tydskrif-, uitsaai- of aanlyn mediabedryf. Sanef se bestuurskomitee en ʼn paneel onafhanklike beoordelaars het egter besluit dat alle joernaliste vanjaar die toekenning verdien vir die moed wat hulle aan die dag gelê het.

“Vir baie mense is dit moeilik om na die nuus te luister, om nie eens te praat nie van die tol wat dit eis op diegene wat dit ontleed en verslag doen oor die huidige werklikheid wat ons land en die wêreld in die gesig staar,” het Mahlatse Mahlase, Sanef-voorsitter, gesê.

“Siekte, armoede ontworteling, honger, wreedheid, geslagsgeweld, korrupsie, plundery en die stygende Covid-19-dodetal is net sommige van die hoofopskrifte wat ons lees – en verwag – wanneer ons elke dag ons oë in Suid-Afrika open.”

Mahlase sê dié berigte gaan eindelik oor mense en dat mense dit ook aan die media vertel – dikwels teen ʼn groot risiko vir hulself.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.