Alkoholbedryf steun groter waaksaamheid oor feestyd

(Argieffoto: Yutacar/Unsplash)

Die Suid-Afrikaanse alkoholbedryf sê hy steun pres. Cyril Ramaphosa se versoek vir groter waaksaamheid oor die feestyd om die verspreiding van Covid-19 te bekamp.

Ramaphosa het Maandagaand die land toegespreek en bykomende regulasies en die strenger toepassing daarvan aangekondig.

“Die bedryf ondersteun die regering se benadering van gelokaliseerde ingrypings en die instel van bykomende beperkings in koronavirus-brandpuntgebiede,” het betrokkenes in die bedryf in ʼn gesamentlike verklaring gesê.

“Die bedryf sal voortgaan om nou met die regering saam te werk om te verseker dat die vlak 1-afsonderingsregulasies nagekom word en dat almal waaksaam bly.”

Volgens die bedryf word daar reeds saam met provinsiale regerings in die meeste provinsies wat erg deur die tweede vlaag geraak word, saamgewerk.

“Die bedryf het hom reeds daartoe verbind om 1 000 gemeenskapspatrolleerders op te lei en in die Covid-19-brandpuntgebiede te ontplooi. In samewerking met die polisie en die verskillende gemeenskapspolisiëringsforums sal die patrolleerders toesien dat die regulasies by alkoholafsetpunte in dié gebiede streng nagekom word.”

Die bedryfsliggame – die Suid-Afrikaanse vereniging van drankhandelsnaameienaars (Salba), die Biervereniging van Suid-Afrika (Basa), die Drankhandelaarsvereniging van Suid-Afrika (LTASA), die Verbruikersgoedereraad van Suid-Afrika (CGCSA) en VinPro – sê hulle sal geen feeste of musiekkonserte tydens die feestyd steun nie. Dit is ter ondersteuning van die regering se beperkings op groot byeenkomste om so die verspreiding van die virus te bekamp.

Verder het die bedryf die regering se erkenning van die noodsaaklike bydrae wat die wynbedryf tot die land se toerismesektor lewer, verwelkom. Ramaphosa het aangekondig dat geregistreerde wynplase steeds oor naweke wynproe-geleenthede mag hou en wyn mag verkoop vir verbruik weg van die perseel.

Volgens die bedryf lewer brouers ʼn ewe waardevolle bydra. “Hoewel hulle nie eksplisiet genoem is nie, is die hoop dat die bydrae van mikrobrouerye tot die toerismebedryf ook erken sal word.”

Die rolspelers sê die beperking op die verkoop van alkohol by handelaars wat slegs tussen 10:00 en 18:00 van Maandag tot Donderdag toegelaat word, bly kommerwekkend.

“Net soos kruidenierswinkels het drankwinkels probeer om die nodige veiligheidsprotokolle te handhaaf. Dié ernstige beperking sal ʼn verdere vernietigende impak hê op die bedryf wat moontlik tot werkverliese in die kleinhandelsektor kan lei.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Samuel

Die handelaars sal seker weer eenkant toe kyk. Dit gaan mos oor geld.

Manie

Die beperking op die verkoop van alkohol gaan net oor diegene wat nie hulself kan beheer nie en dus deur streng maatreëls deur die staat beheer moet word. Dit gaan niks verander aan die hoeveelheid drank wat aangekoop of verkoop gaan word nie. Ek wil nog sien hoe elke shebeen om 22:00 gaan toemaak, die lotjie gaan net vroeër begin drink.

Anel

Daar is nou al hierdie reëls en inperkings, vir 9 maande. Wanneer gaan dit nou eendag ophou!!!!

Coenraad

“Die bedryf het hom reeds daartoe verbind om 1 000 gemeenskapspatrolleerders op te lei…” soooo die bedryf het al ‘n geruime tyd geweet dat strenger reëls in gestel gaan word? Nou is my vraag hoekom dan nie vroeër die land in kennis stel nie, dan het almal nie nou hulle vakansie gelde verloor t.o.v. verblyf betaal ens. nie? O nee skies ‘n mens noem dit sommer net skelm, want so sorg die bleek siele vir die land ekonomie.