Alkoholbedryf wil betaling van belasting uitstel

(Argieffoto: pixabay)

Die drankbedryf gaan by die belastinggaarder aansoek doen om uitstel op die betaling van aksynsbelasting te kry totdat die alkoholverbod opgehef word.

Dit volg nadat pres. Cyril Ramaphosa Maandagaand in sy toespraak die alkoholverbod verleng het. Die verbod is oorspronklik einde Desember in werking gestel.

Volgens die Suid-Afrikaanse vereniging van drankhandelsname (Salba) betaal die drankbedryf sowat R2,5 miljard per maand aan aksynsbelasting vir plaaslik geproduseerde en ingevoerde produkte.

Aksynsbelasting op alkohol word op die punt van produksie gehef, wat beteken dat alkoholondernemings ʼn verpligting het om die aksynsbelasting op eindprodukte in hul pakhuise te betaal, wat weens die huidige onbepaalde verbod op verkope nie verkoop kan word nie.

Die bedryf is uitstel van minstens R5 miljard aan aksynsbelasting vir Julie en Augustus verlede jaar toegestaan, net toe die regering alkoholverkope met onmiddellike inwerkingtreding verbied het. Die bedryf het sedertdien hierdie betalings aan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gedoen toe die verkope weer in werking was.

Salba sê afgesien van die skade aan die fiskus het sulke beperkings ook ʼn ingrypende negatiewe uitwerking op die land se reeds onsekere sosio-ekonomies benarde situasie en die lewensvatbaarheid van die bedryf. Daar is geen tydelike werkgewer- of werknemersverligtingskema (Ters) vir enige van die KMMO’s in die sektor nie, waaronder tavernes, restaurante en kroeë.

“Die alkoholverbod dryf ook die werking van onwettige alkoholvoorsieningskanale aan om die mark weer aan te vul en by te dra tot die toename in die verkoop van onwettige – en moontlik gevaarlike – drank,” sê Salba.

Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beloop ongeoorloofde alkohol ongeveer 24% van die algehele SA alkoholmark en kos dit volgens Euromonitor jaarliks meer as R6,4 miljard aan verlore belastinginkomste. Hierdie nagemaakte produkte stel die lewe van verbruikers in gevaar, insluitend sterfgevalle.

Die Suid-Afrikaanse BBP het volgens StatsSA in 2020 met -8% gedaal. Die alkoholsektor dra R172 miljard (3% van die BBP) by tot die land se ekonomie. Die midtermyn-begrotingsverklaring van die tesourie in Oktober beraam ʼn verdere daling van -28% in aksynsbelastingbydrae van R47 miljard in 2019 tot R34 miljard in die huidige boekjaar wat eindig op Februarie 2021. Ons kan verwag dat die verliese sal versleg met elke dag en week dat die huidige verbod gehandhaaf word.

Vinpro, wat 2 500 Suid-Afrikaanse wynprodusente, kelders en belanghebbendes verteenwoordig, het gesê hy skat dat die wynsektor in die 17 weke ná die verbod in Maart 2020 meer as R8 miljard aan direkte verkope verdien het.

“Met minder as ʼn week voordat die oes vanjaar begin, lê die sluiting van ondernemings, werkverliese, afwaartse prysdruk, strukturele skade aan subsektore, ʼn afname in produksie sonder belegging, gehalte wat verswak, die fiskus wat verloor en diversifisering weg van wyn vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf voor,” sê Rico Basson, uitvoerende hoof van Vinpro.

“Hierdie verliese aan werkgeleenthede en verkope sal hul afwaartse spiraal laat voortduur, wat die bedryf en die land net meer skade berokken.”

Kurt Moore, Salba se uitvoerende hoof, sê die regering het nie aangedui wanneer alkoholverkope weer toegelaat sal word nie.

“Dit is verstandig dat die bedryf alle moontlike kostebesparingsmaatreëls toepas om kop bo water te hou: Die vertraging van aksynsbelasting is ʼn belangrike faktor. Die bedryf en sy hele waardeketting word deur ʼn enorme finansiële krisis gekonfronteer, en die vermoë om hierdie betalings te maak is erg beperk,” sê Moore.

Moore meen die verbod op die verkoop van alkohol het ingrypende gevolge.

“ʼn Meer doelgerigte en genuanseerde benadering is nodig, en die bedryf doen ʼn beroep op die regering om oor redelike en lewensvatbare alternatiewe in gesprek te tree. Hierdie strategie sluit in dat beperkte verkope vir huishoudelike verbruik toegelaat kan word, wat ʼn beperkte invloed op die huidige golf van infeksies het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
H

stop geheel en al om belasting te betaal …..

Susan

Die regering flous hulleself want almal kan nog drank koop teen ‘n hoër prys natuurlik die wat dit kan bekostig sal en kan nog koop .Baie mense verloor hulle werk onnodiglik

Mallie

Ek stem saam met H.

Robert

Hoogtyd!

Wakkerslaper

Dit het lankal tyd geword dat die privaat sektor hierdie kommunistiese, terroriste staat ‘n vet pit druk! Die privaat sektor moet eenvoudig net begin doen wat in hulle besighede se belang is, nie die staat se belang nie. Dit geld vir besigheid doen tydens hierdie COVID-19 fiasko en die belaglike regulasies wat die staat instel. So ook ten opsigte van SEB en kwotas – begin eenvoudig net om werkers op grond van meriete aan te stel. Wat gaan die staat doen? Die hele privaat sektor toemaak? Ek dink die staat is heelwat meer afhanklik van die privaat sektor, as wat… Lees meer »