Alkoholverbod: Klein brouers ‘kan nie meer’

(Argieffoto: pixabay)

Die Biervereniging van Suid-Afrika (Basa) het nou ook ʼn dringende beroep op pres. Cyril Ramaphosa gedoen om die algehele verbod op die verkoop van drank van 16 Januarie op te hef.

Die verenging bestaan uit die Boetiekbrouersvereniging van Suid-Afrika (BCASA), Heineken Suid-Afrika en Suid-Afrikaanse Brouery (SAB).

Die Drankhandelaarsvereniging het vroeër dieselfde pleidooi aan Ramaphosa gerig.

Basa sê die ophef van die verbod is noodsaaklik om die oorlewing van klein sake- eienaars van boetiekbrouerye te verseker. Talle van hierdie brouers is op die rand van ineenstorting weens die derde alkoholverbod wat verlede week ingestel is in ʼn poging om ʼn tweede vlaag Covid-19-infeksies te stuit.

Basa sê hy is deegliks bewus van die erns van die krisis en besef omstandighede is moeilik vir die regering en burgers terwyl die virus aanhou versprei. Hy waarsku egter dat daar saamgewerk moet word om lewens en inkomstes te red.

Wendy Pienaar, uitvoerende hoof van die BCASA, sê die derde verbod het ʼn verwoestende uitwerking op die boetiekbrouers gehad. Sy sê die vereniging is oorval deur lede wie se spaargeld uitgewis is en nou desperaat vir geldelike verligting is as hulle gaan oorleef.

(Foto: pixabay)

“Die derde verbod is verwoestend vir boetiekbrouers, veral vir klein sake- eienaars wat binne klein marges werk en altyd die welstand van werkers voor hul eie stel. Dit is nou nie meer net ʼn kwessie van die deure oophou nie, dis nou ʼn vraag of sake-eienaars, hul werkers en gesinne vandeesmaand kos gaan hê om te eet.”

Pienaar sê hierdie brouers is dieselfde mense wat verlede jaar, tydens die uiters streng afsonderingstydperk, ingespring het en sop en bredie in hul brouerye gekook het om meer as twee miljoen honger mense te help voed, of saniteerder vervaardig het om die verspreiding van Covid-19 te help stuit.

“Dit is hartverskeurend om oproepe te kry van brouers wat nou die gevaar loop om alles te verloor. Ons moet saamstaan om alternatiewe oplossings vir die algehele verbod op die verkoop van alkohol te vind.”

Lethu Tshabangu, eienaar van Ukhamba Beerworx, is een van dié boetiekbrouers. Hy het verlede jaar ʼn winkel in die Waterfront geopen, maar weens die verbod op die verkoop van alkohol het hy nou skuld van R300 000 en huurgeld wat hy nie meer kan betaal nie.

(Foto: Ukhamba Beerworx/Facebook)

Sonder ʼn inkomste kan Tshabangu nie sy kinders se skoolgeld se betaal nie.

“Ons moet Covid-19 beveg sonder om ander krisisse te veroorsaak. Jy bring nie ʼn slang in jou huis omdat jy ʼn probleem met rotte het nie. Die president beskerm ons teen Covid-19, maar maak ons dood weens honger omdat ons nie mag werk nie. Die regering het my inkomste gekelder, asook dié van my werkers wie se werk baie vir hulle beteken. Hulle het ook gesinne en kinders om voor te sorg,” het Tshabangu gesê.

(Foto: Brewsters Craft/Facebook)

Ook Apiwe Nxusani-Mawela, eienaar van Brewsters Craft, sê sy het geen idee hoe sy die verbod gaan oorleef nie. “Ek hoop ons kan heropen sodat ons ʼn paar verkope kan doen en minstens ons werkers iets kan betaal. Ek het egter vir hulle gesê om nie te veel aan die einde van die maand te verwag nie – dit is ons werklikheid.”

Basa sê die vorige twee verbodsbepalings het tot sowat 7 400 werksverliese gelei, terwyl R14,2 miljoen in inkomste en R7,4 miljard in belasting en aksyns verlore gegaan het.

Die vereniging vra Ramaphosa om die lot van boetiekbrouers in ag te neem en nie die verbod ná 15 Januarie te verleng nie.

Basa sê sy hy is ten gunste van die aandklokreël en dit, tesame met ʼn verbod op byeenkomste en verhoogde polisiëring, sal verseker dat lewens en werkgeleenthede beskerm word terwyl die land Covid-19 beveg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.