Alkoholverbod: Geen wynproeë toegelaat

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Geen wynproeë word toegelaat onder die aangepaste vlak 3 van die afsonderingsregulasies nie.

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandagaand te midde van ’n tweede vlaag Covid-19-infeksies in die land verskerpte maatreëls aangekondig in ʼn poging om die pandemie te stuit. Dit sluit in ʼn derde verbod op die verkoop van alkohol.

Besonderhede rakende die verbod is intussen in die Staatskoerant bekend gemaak.

  • Die verkoop en verspreiding van alkohol is verbode;
  • Die gebruik van alkohol in die publiek is verbode;
  • Die proe en verkoop van drank by wynkelders en wynplase is verbode;
  • Die vervoer van drank is verbode met die uitsondering van uitvoer asook die vervoer van alkohol na fabrieke waar dit benodig word vir die vervaardiging van handreiniger of seep. Alkohol mag wel nou vir veilige bewaring na pakhuise vervoer word;
  • Die uitreik van dranklisensies word verbied.

Die drankbedryf het intussen sy kommer uitgespreek oor die uitwerking wat die verbod op die langtermyn op die ekonomie van dié bedryf gaan hê. Die bedryf sê in ’n gesamentlike verklaring die verbod op alkohol sal ʼn vernietigende uitwerking hê wat moontlik kan lei tot werkverliese. Die bedryf vra vir dringende en gereelde hersiening van die verbod namate die land se gesondheidsituasie verbeter.

Die bedryf het wel die regering se besluit om die vervoer van alkohol vir uitvoerdoeleindes toe te laat, verwelkom.

“Suid-Afrika se alkoholbedryf is een van die belangrikste uitvoerprodukte in ons land en dit is van kardinale belang dat dit onbelemmerd sal voortduur na verskeie streke van die wêreld wat nie alkoholverkope verbied het nie.”

Die drankbedryf waarsku egter dat die verbod op alkohol slegs die onwettige handel in drank tot gevolg gaan hê.

“Die bedryf glo dat beperkings op die verkoop op alkohol op ʼn minder skadelike manier ingestel kan word wat die uitwerking op die gesondheidsorgstelsel kan verlig en die oordrag kan help verminder terwyl dit steeds help om die ekonomie aan die gang te hou.

“ʼn Derde verbod sal klein- en mediumgrootte ondernemings onherstelbare skade berokken wat daartoe gaan lei dat dit waarskynlik nié gaan oorleef nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.