Allan Gray oorlede: ‘Hy laat blywende nalatenskap’

Allan Gray. Foto: Allan Gray Orbis Foundation Endowment

Allan Gray, stigter van die gelyknamige batebestuursfirma, is in die ouderdom van 81 oorlede.

Die maatskappy het gesê Gray is Sondag aan natuurlike oorsake oorlede. Moneyweb berig Gray is in Bermuda aan ʼn hartaanval dood.

“Ons gedagtes is met sy familie en as kollegas en vriende rou ons saam met hulle oor die dood van ʼn man wat ʼn onmeetbare impak op baie lewens gemaak het as entrepreneur, belegger en filantroop. Hy verdien om te rus en laat ʼn blywende nalatenskap agter,” het die batebestuursfirma in ʼn verklaring gesê.

Volgens die verklaring het Gray die firma en Orbis gestig met die uitsluitlike doel om langtermynwelvaart vir kliënte te skep, en word die firmas steeds gelei deur sy sterk waardes, sy filosofie en sy benadering tot beleggings.

“Hy het filantropie gesien as ’n natuurlike uitbreiding van die impak wat die beleggingsonderneming op mense se lewens wil bewerkstellig, en het later in sy loopbaan aansienlike fokus en energie bestee aan filantropiese pogings. Hy het sy laaste jare daaraan gewy om die Allan & Gill Gray-stigting op te rig, nadat hy sy familie se beherende belang in die Orbis- en Allan Gray-groep aan die stigting geskenk het.”

Gray is in 1938 in Oos-Londen gebore en het aan Selborne College gematrikuleer waarna hy by Rhodes Universiteit studeer het. Hy het hom as ’n geoktrooieerde rekenmeester bekwaam en het in 1965 ’n MBA aan die Harvard Business School verwerf.

Hy het daarna by Fidelity Management and Research in Boston gewerk, voordat hy in 1973 na Suid-Afrika teruggekeer het en met die proses begin het om ʼn maatskappy, wat later as Allan Gray bekend sou staan, te stig. Hy het Orbis in 1989 begin om op wêreldwye beleggings te konsentreer.

Gray het in 2000 die leierskap van Orbis aan William Gray oorhandig, in 2010 uit die Allan Gray-direksie bedank en hom in 2012 van sy oorblywende beleggingsverantwoordelikhede by Orbis losgemaak voordat hy amptelik in 2016 by Orbis uitgetree het.

Gray word oorleef deur sy vrou en drie kinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Philippus Janse van Rensburg ·

Die vertroue wat hy in sy maatskappy se integriteit deur sy persoonlikheid geskep het, het soveel gerustheid by my as kliënt gewek, dat ek nooit wantrouig was omtrent enige belegging nie!

Gertjie ·

Ek kan ook getuig dat sy nalatingskap, die Allan Gray onderneming, puik is.

Manna ·

Ons het mense met integriteit soos hy nodig om ons land weer op te bou. RIV sterkte vir familie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.