Alle Gautengse gr. 1’s en gr. 8’s nou geplaas

Panyaza Lesufi, Gauteng se LUR vir onderwys. (Foto: Mariska Nanni)

Die Gautengse departement van onderwys sê al sy gr. 1- en gr. 8-leerders wat aanlyn aansoek gedoen het vir die 2022-akademiese jaar is teen Vrydag in ’n skool in dié provinsie geplaas.

Altesame 25 448 leerders is die afgelope twee weke geplaas sedert die departement sy stelsel vir laataansoeke oopgestel het. Die leerders is almal in skole met beskikbare ruimte geplaas en het dus onmiddellike plasing ontvang.

Ongeveer 1 432 aansoeke om appèl is gedurende die aanvanklike aansoektydperk ingedien. Altesame 71 van die aansoeke is op meriete oorweeg wat daartoe gelei het dat die leerders by die skool waar hulle aansoek gedoen het, geplaas is.

Altesame 1 337 van die appèlaansoeke is egter van die hand gewys en hierdie aansoekers is by skole met beskikbare ruimte geplaas. Nog 24 appèlaansoeke word in dié stadium nog verwerk.

Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, sê hy is “verlig” dat al die provinsie se gr. 1- en gr. 8-leerders eindelik geplaas kon word.

Daar word nou gespook om beskikbare plek te identifiseer vir leerders in gr. 2 tot 7 en gr. 9 en 11 wat nog nie geplaas is nie.

Dié leerders se ouers word versoek om nie die departement se hoofkantoor te besoek vir hulp met hul kind se aansoek nie, maar eerder die departement se distrikskantore te kontak.

Die LUR het intussen die departement se bestuurspan versoek om dadelik met die hersiening van die aanlyn registrasieposes te begin sowel as klagtes wat deur ouers geopper is. ’n Hersieningsverslag moet voor die nuwe ronde van registrasies ter tafel gelê word.

  • Die Gautengse departement van onderwys het 347 216 aansoeke vir toelating vir die 2022-akademiese jaar ontvang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

casper ·

Lefoefie – Julle het maar net vir die mense laat weet hulle moet maar volgende jaar weer probeer.

Pietertjie ·

Wat ‘n hengse prestasie! En lesufi was seker persoonlik verantwoordelik die reuse-sukses!

Marius ·

Die departement moet maar eerder die aansoeke en plasings oorlaat aan die skole self wat dit vir dekades sonder enige probleme gedoen het. Die regering wil hul onkundige vingertjies oral indruk en dan val die pap op die grond.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.