Alle laerskole dán weer heeltyds aan die gang

Angie Motshekga, minister van basiese onderwys (14 Februarie 2020) (Foto: Koppano Tlape/GCIS)

Alle leerders van laerskole sowel as skole vir leerders met spesiale behoeftes sal op 26 Julie na die gewone skoolrooster-model wat voorsiening maak vir daaglikse bywoning terugkeer.

Dié bepalings is Vrydag in die Staatskoerant gepubliseer en is van toepassing op laerskoolleerders van graad R tot graad 7 en leerders met spesiale behoeftes van graad R tot 12.

’n “Risiko aangepaste gedifferensieerde strategie” sal wel gevolg word wat daarvoor voorsiening maak dat aanpassings gemaak kan word sou die land se Covid-19-situasie dit teen dié datum noodsaak.

Luidens die bepalings moet die skole teen 26 Julie gereed wees om alle leerders terug te verwelkom en alle ruimtes te benut om oorbevolking te verhoed.

Onderwysers sal dan tussen klasse moet wissel om die beweging van leerders tussen klaskamers te beperk.

Skole wat nie in staat is om hierdie bepalings na te kom nie word versoek om die departementshoof van hul betrokke distrikskantoor teen 30 Junie omtrent hul situasie in te lig.

Die skole sal egter ’n geldige rede moet verskaf waarom hulle nie ’n tradisionele rooster kan volg nie. Indien ’n voldoende rede verskaf is, sal die betrokke skool mag voortgaan met die gedifferensieerde rooster-model wat tans geld.

(Argieffoto)

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) en die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) is albei ten gunste van die gegewe datum.

Dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van Fedsas, het Saterdagoggend aan Maroela Media gesê die departement van basiese onderwys het aanvanklik beoog om die bepalings vanaf 1 Junie te laat geld. Hy aanvaar dat die land se Covid-19-situasie die departement genoodsaak het om die datum tot einde Julie te skuif.

Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU, sê dié datum [26 Julie] is vermoedelik gekies om voorsiening te maak vir die verwagte derde vlaag van infeksie. Hy wys ook daarop dat die datum ná die wintervakansie val en dat die risiko vir die verspreiding van Covid-19 teen dié tyd vermoedelik minder sal wees.

Volgens Deacon is daar wel baie skole regoor die land wat reeds weer ’n tradisionele skoolrooster volg aangesien die bepalings wat in September verlede jaar gepubliseer is reeds daarvoor voorsiening gemaak het. Volgens Deacon is daar tog nog ’n klomp skole wat tot op hede nog nie elke dag klasse aanbied of alle leerders terug verwelkom het nie.

Hy verdeel dié skole in twee kategorieë: Skole met beperkte ruimte en wat nié in staat is om sosiale afstand van een meter tussen leerders te handhaaf nie; en skole waar swak leierskap aan die orde van die dag is. “Dit is skole wat die plek het, maar nie die wil nie,” sê hy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Johan ·

Los nou maar ASB ons kinders in vrede. Hulle was lank genoeg die slagoffers van jul covid vrees speletjies.

Pooksy ·

My kind van Graad 1 is gister huistoe gestuur weens n positiewe toets op een van die maaitjies se ouers, en hulle wil daaglikse bywoning he?
Net laas week was die Hoërskool toe weens gevalle. Nou hoe nou? Stuur ek my graad 1 skooltoe, of hou ek hom tuis? Watse besluit moet n mens neem? Hierdie is n baie moeilike geval. Die gevalle was gister weer oor die 4574 aangemeld. Hou ek hom tuis, verloor hy werk, stuur ek hom, kry hy dalk Covid.

Rayman ·

So is die skole voor die ou covidjie ook toe gemaak as iemand siek was, nee dit was nie so moenie kom met stories nie, die kinders moet lui oor regerings besluit die is ń ” dodelike ding” as dit jou tyd is om dood te gaan dan is dit jou tyd niemand of niks sal dit keur nie

MAGRIETHA ·

Moes lankal al gebeur het ons kinders wil leer en vorentoe gaan dankie vir partye wat betrokke was vir die terug keer skool toe vi ons kinders nou sal hul minder stres

Warrior ·

Ek is n onderwyseres. Ons klaskamers is baie klein. Daar is geen manier hoe daar n meter afstand tussen kinders gehou kan word op volle kapasiteit nie. Hul gaan teen mekaar sit, soos voor Covid. Dis winter. Hulle hoes, neuse loop… so stuur maar almal terug skool toe. Wat is jou kind se lewe werd?? Het jy respek vir ander se lewens? Duisende ouers wat werk en hul kinders op n roterende program tuis help. Wat is dit met julle? Vir sekere skole met spesiale behoeftes is daar nie spasie vir n meter tussen elkeen nie. Daar is rolstoele, looprame. Sal met liefde almal as geheel terug wil verwelkom, dit sal ongelukkig sonder d 1 meter distansie wees. As jy n mamma is, onthou ek is ook een met kindertjies.

Warrior ·

En… as covid n speletjie is, hoekom sterf d kinders dan v covid??

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.