Alle lewens maak saak, sê Mabuza oor plaasmoorde

Adjunkpres. David Mabuza (17 Julie 2019). (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Adjunkpres. David Mabuza het aan die Nasionale Raad van Provinsies gesê die regering se standpunt is dat die lewens van boere, plaaswerkers en plaasbewoners en elke inwoner van die land, swart en wit, saak maak.

Mabuza het Woensdag reageer op geskrewe vrae van politieke partye wat in die NRP verteenwoordig word, onder andere oor programme om plaasaanvalle hok te slaan.

In reaksie op ʼn vraag oor programme om landbouondersteuning aan gemeenskappe in afgeleë landelike gebiede te bespoedig en hoe om gewelddadige aanvalle op boere en plaaswerkers te verhoed, het Mabuza gesê daar is ʼn doelgerigte poging deur die interministeriële komitee oor grondhervorming en landbou om die volhoubaarheid van die bedryf, as die lewensaar van die ekonomie, te verseker.

Hy het benadruk dat landbou steeds veerkragtigheid toon te midde van ʼn krimpende ekonomie en dat landbou steeds ʼn sentrale deel bly van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Hy het benadruk die belangrikste hulpbron in die landboubedryf, insluitend landelike boeregemeenskappe, is die mense wat op die grond bly en werk.

Wat betref plaasmoorde en maatreëls om die teistering te takel, het Mabuza die regering se standpunt benadruk dat die lewens van boere, plaaswerkers en plaasbewoners en elke inwoner van die land, swart en wit, saak maak. “Alhoewel misdaadvoorkoming die prioriteit bly van ons polisiediens, word ons getroos dat waar oortreders aangekla word, die howe hul onafhanklikheid en bekwaamheid bewys om geregtigheid te laat seëvier vir die slagoffers van gewelddadige misdade soos moord. Hulle is deeglik en toon geen genade aan diegene wat fisiese, sielkundige en ekonomiese skade berokken aan die gemeenskappe wat kos op ons tafel en op tafels wêreldwyd plaas nie,” het Mabuza bygevoeg. “Die Suid-Afrikaanse Polisiediens sal steeds verhoudinge bevorder met alle verteenwoordigers in plaasgemeenskappe.”

Hy het verwys na die voorval waartydens ʼn swanger ma en vrou onlangs op hul plaas in Weenen vermoor is. “Selfs tydens Vrouemaand word ons gekonfronteer met geweld teen vroue en kinders.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Vlooitjie ·

En tog word daar nie daadwerklik meer gedoen om boere, hul gesinne en plaaswerkers te beskerm nie. Plaasaanvalle word al hoe meer geweldadig en neem daagliks toe, maar ons moet glo “alle lewens maak saak” vir ons regering? Ek is jammer, ek het geen vertroue dat die regering boere se belange op die hart dra nie.

Kobus ·

Bla bla bla. Praat onophoudelik sonder om iets te sê. Wat doen julle om lewens te beskerm?

PH ·

Dié mense dink as jy praat oor ‘n probleem, dat die probleem nou verdwyn het.

christo ·

Iemand soos David Mabuza moet liefs nie praat nie, hy self het ‘n geraamte of twee in die Mpumalanga kas wat verklaar moet word. Dit bekommer my dat die boere nie uit die geskiedenis wil leer nie. Hierdie is ‘n Retief en Dingaan storie wat weer herhaal gaan word. Boere moet NIE die regering vertrou NIE!

Jakes ·

So ver as my kenns strek is Mabuza n volgeling van Zuma en nes CR oraat hulle te veel en doen te min.

JohanR ·

Nee my Onder Onder Adjunk Adjunk President, laat ek vir jou se hoe werk plaasmoorde. Julle die ANC gee die geld vir die aanvalle, die EFF doen die logistieke werk, en die taxis ry die aanvallers aan na die uitgesoekte area of provinsie, en as die aanval deur gevoor is, ry die taxis die aanvallers weer huis toe vanwaar hulle seker ‘n bruin koevert kry. Moenie ons vir dwase hou nie!

Juls ·

En die geld van onwettige sigarette word gebruik om sulke aktiwiteite te bevonds

Niklaas ·

Dis verblydend wat hy kwytraak , maar ek sukkel om die man te glo. Dade , instede van woordjies en mooi prag beloftes is wat saakmaak . Begin om plaasaanvalle daadwerklik aan te sê en dan eers volg ons applous .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.