Alle oë op belangrike parlementspos

Alf Lees saam met DA-leier Mmusi Maimane. Foto: DA/Twitter

Interessante verwikkelinge is besig om op te bou oor die voorsitterskap van die enigste oorsigkomitee in die parlement waarin ʼn lid van die opposisie as voorsitter optree, naamlik die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor).

Skoor is die belangrikste oorsigkomitee van die parlement en het ʼn oorkoepelende oorsigrol oor alle staatsdepartemente om toe te sien dat belastingbetalersgeld korrek bestee word.

In die Britse Statebond is die gebruik dat dit die enigste parlementêre oorsigkomitee is waarin die regerende party sy meerderheid gebruik om ʼn lid van die opposisie tot voorsitter te verkies. Hierdie tradisie is van 1910 tot 1994 in die vorige Suid-Afrikaanse bedeling gevolg, en met ʼn enkele uitsondering van omtrent ʼn jaar ook in die demokratiese Suid-Afrikaanse parlement.

Van 1994 tot 1999 was Ken Andrew van die destydse Demokratiese Party (DP) die Skoor-voorsitter, van 1999 tot 2001 was dit dr. Gavin Woods van die IVP, van 2001 tot 2004 was die NNP se Francois Beukman die voorsitter, en toe is die tradisie tussen 2004 en 2005 verbreek toe die ANC se Vincent Smith die voorsitterstoel vir ʼn kort rukkie beset het.

Die afgelope 14 jaar al, van 2005 tot en met die pas afgelope verkiesing, het Themba Godi van die APC opgetree as Skoor-voorsitter. Die APC het egter so sleg gevaar in vanjaar se verkiesing dat Godi sy setel kwyt is. ʼn Nuwe voorsitter moet dus nou aangestel word.

Nou het die DA ʼn belangrike skuif gemaak in die enigste provinsie wat nie deur die ANC beheer word nie, naamlik die Wes-Kaap. Die DA het as regerende party in die provinsiale wetgewer die provinsiale Skoor-voorsitterskap, wat jare lank deur die ACDP ingeneem is, aan die ANC aangebied.

Die ANC het dit aanvaar, en die ANC-LPW Lulama Mvimbi, ʼn voormalige burgemeester van die Bitou-munisipaliteit in Plettenbergbaai, is die nuwe Wes-Kaapse Skoor-voorsitter.

Skaars is daardie skuif afgehandel of die DA benoem een van sy mees gerespekteerde lede, Alf Lees van Ladysmith, om op die nasionale parlement se Skoor te dien.

Hoewel niemand tans enige aanduidings gee van formele onderhandelings nie, het die DA-hoofsweep, John Steenhuisen, betekenisvol laat val dat hy dink Lees sal ʼn puik voorsitter vir Skoor wees.

Dit was genoeg om parlementêre waarnemers te prikkel, en alle tekens word nou dopgehou om te kyk of die DA vir die eerste keer ʼn Skoor-voorsitter kan oplewer wat die regering verantwoordbaar kan hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Niel ·

lees ek reg??? DA gee ‘n ANC lid die skoor voorsitterskap vir Weskaap? Dalk is dit ‘n dobbelspel om seker te maak DA kom in as nasionale voorsitter op Skoor.. hmmm. Soos ek hier lees lyk my hierdie voorsitterskap is ‘n belangrike posisie wat lekker druk kan plaas op regering. Dalk die dat DA bang is vir die “klein party” vir weskaap as voorsitter – dat hulle DA dalk gaan opskroef in Weskaap? Ons kort dringend druk dat misdaad op plase deeglik ondersoek moet word en beveg moet word.

Manie van Worcester ·

Plaasmoorde is baie baie laag op alle anc , bont, blou en rooi se agendas. Is maar VF+ en Afriforum wat daar probeer iets doen

Cherokee ·

…oor alle staatsdepartemente om toe te sien dat belastingbetalersgeld korrek bestee word? Van wanneer af? Hulle kos die belastingbetaler net nòg meer want as daar enige departement was wat daarvoor verantwoordelik was, en hul werk gedoen het, dan was dit nie nou nodig om belastinggeld te mors op ‘n kommissie om staatskaping te ondersoek nie. Waar was Skoor toe hulle moes skoor soek daaroor? Miskien ook in ‘n Gupta-sak.

piet piet ·

Ek hoop nie ek sien enigeen wat DA gestem het kla hier nie want dit is die beste nog eers hand om die blaas met die eff en nou met die anc, het die kiesers julle n mandaat gegee of het julle dit nie nodig na julle die klomp met leuens gevang het om vir julle te stem.

Cherokee ·

piet piet, onthou my woorde; soos daar geeneen nou is wat ja gestem het, sal die DA-kiesers ook binne die afsienbare toekoms te skaam wees om te erken hulle het DA gestem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.