Alle oë op Mboweni om Eskom te red

Tito Mboweni. Foto: Elmond Jioyane/GCIS

Daar is groot verwagtinge van Tito Mboweni, minister van finansies, wanneer hy Woensdag sy eerste nasionale begrotingsrede lewer, maar oor een ding is kenners eens – Mboweni sal met ʼn dringende plan vorendag moet kom om Eskom te red voordat dié maatskappy teen April bankrot is.

Ekonome stem saam dat Mboweni, wat sedert sy aanstelling verlede jaar huiwerig was om finansiële reddingsboeie aan staatsinstansies toe te staan, geen ander keuse het as hom weer eens hulp aan die kragvoorsiener te verleen nie.

Daar is egter verskillende sienings oor die aard en omvang van hierdie hulp en hoe lank die nasionale tesourie nog moet instem om die kragreus te onderhou.

Pres. Cyril Ramaphosa het in sy onlangse staatsrede ʼn reeks maatreëls aangekondig insluitend finansiële hulp van die fiskus om die sukkelende maatskappy, met sy skuld van R420 miljard, te help. Eskom is dié week tegnies insolvent verklaar en is net enkele maande weg daarvan om heeltemal bankrot te speel.

Johann Els, hoofekonoom van Old Mutual, sê hy dink dit is onwaarskynlik dat Mboweni in dié stadium R100 miljard van Eskom se skuld sal oorneem, aangesien só ʼn stap Moody’s sal aanspoor om sy graderingsverwagting vir Suid-Afrika van neutraal na negatief te verander.

Die agentskap het juis verlede week in ʼn navorsingsnota gesê die voorgenome herstrukturering van Eskom verander nie aan die maatskappy se skuldvooruitsigte nie, aangesien daar nog geen planne vir kostebesparing is nie.

“Dit is meer waarskynlik dat Eskom nóg ʼn finansiële reddingsboei van tussen R15 miljard en R20 miljard toegestaan sal word,” sê Els. Hy sê hy glo Mboweni kan dié bedrag afknyp danksy die buffer wat geskep word deur bestaande bestedingsbeheer.

“Vir nou is klein hulpverlenings minder riskant as groot skuldoordragings. Tensy daar ernstige fiskus-tuimeling is of die tesourie besluit om R100 miljard van Eskom se skuld oor te neem sonder ʼn ernstige omdraaiplan, verwag ek dat Moody’s sy uitkyk op stabiel sal hou en die huidige beleggingsgradering onveranderd sal bly.”

George Glynos van ETM Analytics was minder hoopvol oor Moody’s se gradering en sê die graderingsagentskap was Suid-Afrika reeds baie genadig om ʼn beleggingsgraad gradering te behou terwyl daar terselfdertyd gewaarsku word dat die koers van fiskale konsolidasie afgeneem het.

“Ek dink Moody’s se geduld raak nou op,” het hy Maandag gesê. Hy sê die enigste manier waarop ʼn handhawing van die kredietgradering regverdig kan word, is as Moody’s reeds die huidige data by sy assesserings ingereken het.

Terwyl ander analiste meen die afname in bestedingsgroei in die eerste drie kwartale van die finansiële jaar (sowat 3% of R20 miljard onder die teiken) sal die minister help om Eskom te ondersteun, sê Glynos die finansiële reddingsboei wat die maatskappy nodig het, is tien keer meer as dit, ongeveer R200 miljard. Hy sê om Eskom egter só ʼn groot kontantinspuiting te gee, sal die BBP teenoor skuldratio tot naby 60% druk.

ʼn Meer waarskynlike scenario is om R100 miljard tot R150 miljard van Eskom se skuld na die regering se balansstaat oor te dra, of om die skuld op Eskom se boeke te los, maar te onderneem dat die staat rentebetalings sal oorneem om die huidige gaping te oorbrug tussen Eskom se maandelikse bedryfsinkomste van R22 miljard en sy maandelikse rentebetalings van R45 miljard.

Glynos sê dié hulpverlening sal steeds nie genoeg wees om Eskom te stabiliseer nie en dit sal waarskynlik nodig wees dat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) ook groot tariefverhogings goedkeur. “Daar sal ʼn groot tariefverhoging moet wees, nie net skuldverligting nie.”

Hy sê die woede van die National Union of Mineworkers oor beplande afleggings nadat Ramaphosa aangekondig het dat Eskom ontbondel sal word, dui op die politieke probleme wat die regering in die gesig staar, veral in ʼn verkiesingsjaar, om die probleem van oorbesteding by Eskom te takel wat deels spruit uit sowat 30% te veel personeellede by die kragvoorsiener.

Dit is deel van ʼn groter ideologiese probleem, sê Glynos, omdat die ANC-regering deur middel van staatsinstansies die vermoë wil behou om op elke vlak van die ekonomie te kan inmeng, eerder as om die private sektor te vertrou om ʼn groter rol te speel. Die uiteinde is dat die staat die lewering van infrastruktuurprojekte en die koers van fiskale konsolidasie opgeoffer het ter wille van ʼn oormatige loonrekening.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Wonder-ma-net! ·

Kan nie…want dan maak die myne toe (hulle het reeds gedreig!)

Dan kan ons maar ons ekonomie ook toemaak..!

Vortext ·

Volgens Etzinger het Eskom die afgelope twee jaar hulle onderhoud afgeskaal om geld te bespaar. Wow ! Lyk al hoe meer na n groot ramp wat wag om te gebeur.

Judge Dredd ·

Help julle niks – Groter vraag is of SA nog wil BBBEE or not to BBBEE?

Zumie ·

“Alle oe op Mboweni om Eskom te red” Kan hy dan toor…?

(of die ou truuk om weer die belastingbetaler se geldsak te roof)

honourable member ·

Julle bedoel seker die belastingbetaler gaan weer vir die gemors moet opdok.

What a mess! ·

Hehe en wat presies dink jy Mboweni gaan jy kan doen om die sinkende skip te help…ai hoe lekker lag nou…mooi man ek hou dop …Hier kom nog n helse vernedring en soos Kreun se nog vars gemaakte bailouts….Die geld vloei mos soos watervalle in Suid Afrika het jul dan nie geweet nie….Ou Lord safe us….????

Gert ·

PIC sal seker weer geld gee. Hulle speel met mense se geld. Fire n klomp bestuurders en maak werk mag minder.

Jacques ·

Ja laat die verbruiker nog meer betaal sodat hulle in weelde kan leef . Alles gaan op behalwe my salaris , so wat nou . Wanneer gaan die uitstaande gelde daadwerklik begin invorder word of is julle te bang hulle brand en breek af omdat hulle iets moet betaal waarvoor die wittes al jare lank betaal ? Hoeveel keer gaan die handjie vol mense nog moet opdok vir die foute van die regering ?

Gert J ·

Hierdie mense ken net om te ontvang en dit onder hulleself te verdeel. Hulle dra SA se belange nie!!!

John ·

Verkoopsbelasting en petrol kan dalk op en tolgeld en lenings by individue soos destyds vir Sasol… Alles sal gedoen word om die stemmers te kalmeer. Grondgrype kan dalk ook beloof word…. Kollektebordjies in kerke is ‘n opsie want baie dominees brag oor hul groot harte… Snoepie geld is nog een… maar nogal ‘n taai toffie… daai een. Vergeet van my spaarvarkie… hy het klaar ander weivelde gaan soek.

LHS ·

Waarom word die verantwoordelik hiervoor se bankrekenings nie summier gevries nie. Die stelers maar ook die delers wat heel moontlik groot ANC name gaan insluit.

(F)luister ·

Daar is vir enige probleem altyd ‘n oplossing. Die vraag is net wat is die korrekte en volhoubaarste oplossing? In my oe en gegewe die benarde situasie waarin die algehele openbare sektor en staatsgesubsidieerde entiteite hulle bevind, is daar ‘n hele klompie sulke oplossings, onder andere:
– Stel die kundigste persone aan om te bestuur en die werk te doen. Maak nie saak watter velkleur daardie kundigste persoon is nie.
– Beperk die personeelkorps dwarsdeur die staatsdiens en ander openbare sektore tot 20% van hul jaarlikse begrotings . Net om meer en meer mense aan te stel om die werkloosheidkoers goed te laat lyk, is dwaas.
– Skep so veel moontlik opleiding inrigtings/fasiliteite (nie oorvleuling van tersiere instellings nie) waar skoolverlaters en werkloses in noodsaaklike beroepe en kundigheid opgelei kan word en betaal sulke studente ‘n voorwaardelike nominale toelaag terwyl hulle studeer.
– Uitbreiding van die vervaardigings sektor in samewerking met die privaat sektor waar bogemele mense indiens geplaas kan word. Laat ons land selfvoorsiend word.
Daar is nog vele meer moontlikhede en om dit als te implementeer sal vir ‘n ruk lank pynigend wees. Dit weet ons, maar ai tog! Hoe sal die korrupte spul en hul trawante dan oorleef!?

Alida ·

Geld kan Eskom nie red nie opgeleide mense kan. Wat verstaan hulle nie?

Johan H. ·

Fluister!! Ek en jy weet wat is die andwoord. Maar jy kan dit nie verwag van die spilonk nie,

Grassie ·

Mboweni is nie Superman of ‘n wonderwerker nie. Ek dink nie hy is onnosel nie en hy sou graag vir Eskom geheel of gedeeltelik wou privatiseer, maar dan loop hy hom kop eerste teen die Zuma-faksie en die klomp sosialistiese vakbonde vas. Dit kan hom en CR sink. Die land en die ANC kan nie ‘n totale ineenstorting van Eskom bekostig nie daarom gaan hy waarskynlik ‘n tydelike, wanhopige besluit neem om ‘n baie groot bedrag belastinggeld, aangevul deur geld van die staatsdienspensioenfonds soos Gert hier bo sê, in Eskom se leë bodemlose koffers te gooi. Sy eerste doelwit sal wees om Eskom staande te hou tot na die verkiesing.

Hennie ·

Stem saam net nog n ding ons moet ophou om die Lotto te speel soos die Powerball wat op amper 250000000 staan dit is geld wat Ituba bymelaar maak vir Eskom. Waar het jy gesien R 74000000 word gespeel dis geld wat van ons mense afkom so eintlik is ons nie te bad nie daar is baie geld in omloop.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.