Alle oë op Tito Mboweni

Tito Mboweni, minister van finansies (Foto: ANA)

Alle oë is vandag op Tito Mboweni, Suid-Afrika se pasaangestelde minister van finansies, wanneer hy sy mediumtermynbegrotingsrede in die parlement in Kaapstad lewer.

Vanmiddag se mediumtermynbegroting sal ʼn vuurdoop vir Mboweni wees wat die leisels net twee weke gelede by Nhlanhla Nene oorgeneem het. Talle kenners meen Mboweni sal veral aan sy vermoë om staatsbesteding en -skuld onder beheer te bring, gemeet word.

Die parlementêre begrotingskantoor (PBK) het voorspel die nasionale begrotingstekort sal vanjaar 4% van die bruto binnelandse produk (BBP) bereik, vergeleke met die nasionale tesourie se raming van 3,6%.

Die PBK se skatting stem ooreen van met dié van Moody’s en is grootliks gegrond op laer as verwagte groei in die huidige finansiële jaar. Die kantoor het ook ʼn meer negatiewe vooruitskatting oor die vlak van skuld as persentasie van die BBP en voorspel dat die prentjie teen 2020/21 nog donkerder sal lyk.

Die PBK het aan die parlement se staande komitee oor finansies gesê optimisme oor wêreldwye ekonomiese herstel is vervang met onsekerheid en ontluikende markte gaan gebuk onder die impak van onlangse skerp dalings in die wisselkoers.

In terme van inkomste-invordering lyk die prentjie vir Suid-Afrika egter effens meer rooskleurig as verwag.

PBK-beamptes het talle vrae geopper oor die regering se stimuluspakket en die potensiële impak daarvan op die ekonomie – en daarop gewys besonderhede oor die beplande allokerings is maar skraps – asook of die regeringbesteding hierop “tekort neutraal” sal wees.

Pres. Cyril Ramaphosa en Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: Phando Jikelo/African News Agency(ANA)

Die kantoor het ook bevraagteken of die regering voldoende beleggings uit die private sektor sal kan werf om ʼn aansienlike getal werksgeleenthede te skep. Op ʼn vraag hoekom die PBK meen die nasionale tesourie se vooruitskatting is nie betroubaar nie, het beamptes gesê die departement se wêreldklas-modeleenheid gaan gebuk onder ʼn tekort aan vaardighede.

Intussen het David Maynier, die DA se skaduminister van finansies, gesê Mboweni se grootste fokus moet wees om ernstig aandag te gee aan Suid-Afrika se verkwistende besteding en dit aansienlik te beperk.

“Ons kan nie van gewone mense, wat klaar sukkel om kop bo water te hou, verwag om weens belastingverhogings en verhogings in brandstofpryse aan te hou opdok vir die skokkende nasionale skuld en skulddienskoste wat oor die mediumtermyn tussen 2018/19 en 2020/21 R592 miljard sal beloop nie. Suid-Afrikaners kan ook nie aanhou betaal vir zombie-staatsinstansies soos die SAL wat oor die mediumtermyn tussen 2018/19 en 2020/21 R22 miljard sal kos nie,” het Maynier gesê.

“Daarom kort ons ʼn omvattende bestedingsoorsig wat gefokus is op die sny van verkwistende besteding in Suid-Afrika.”

Die mini-begrotingsrede sal om 14:00 in die parlement begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann ·

Ej voorsoel die selfde ANC attitude… ons gaan hierso NOG vat, en die wat reeds gee en gee en gee gaan NOG en NOG moet gee, sodat die ANC kan stemme werf deur BOG en MEER weg te gee of SELF te vat! Die Begroting alla ANC LEGACY

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.