Alle onnies moet Maandag terug skool toe

(Foto: Unsplash)

Die departement van basiese onderwys het Saterdag gesê alle onderwysers met toestemming om gedurende die algehele landwye afsondering van die huis af te werk, moet Maandag, wanneer vlak 1 van die afsonderingstydperk ʼn aanvang neem, weer terugkeer skool toe.

Vlak 1 tree om middernag op Sondag 20 September in werking.

“Die implikasie van die president se aankondiging om die land na vlak 1 te skuif beteken dus dat die toegewings om van die huis af te werk nie meer vanaf middernag Sondag sal geld nie.

“Die werknemers wat hierdeur geraak word, moet hulle dus van Maandag 21 September af weer vir diens aanmeld. Diegene wat nog steeds nie gesond is nie, word aangeraai om die gewone siekteverlofprotokol te volg,” het die departement vanmiddag in ʼn verklaring gesê.

Luidens die verklaring is toestemming aan meer as 22 500 onderwysers oor die hele land verleen om die afgelope ses maande van die huis af te kon werk te midde van die Covid-19-pandemie.

Die departement is egter oortuig dat die infeksierisiko te midde van vlak 1 aansienlik verminder het.

Skoolhoofde word versoek om klasroosters aan te pas sodat alle onderwysers vanaf Maandag ingesluit word. Aanpassings moet ook aan roosters gemaak word om te verseker dat slegs ʼn persentasie van leerders op dieselfde tyd skool bywoon.

Beheerliggame word versoek om te verseker dat alle regulasies Maandag reg ingestel is om sosiale afstand by skole te handhaaf.

Die departement het gesê hy is bewus van gevalle waar plaasvervangeronderwysers aangestel is in die plek van onderwysers met die nodige toestemming om van die huis af te werk. Die departement maan skole nou om steeds hul kontraktuele verpligtinge teenoor plaasvervangers na te kom ondanks die feit dat alle onderwysers Maandag terugkeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Moedeloos ·

Jy ken sekerlik nie iemand in die onderwys nie dan sou hierdie aanmerking nie gedoen gewees het nie.

Erik ·

Die gedeelte oor aangepaste roosters en slegs ‘n sekere persentasie van leerlinge wat terugkeer in die berig is verkeerd. Die nuutste direktief sê juis roosters hoef nie aangepas te word nie en dat 100% van leerlinge mag terugkeer, mits daar aan die voorwaardes (o.a. 1m uitmekaar sit in klas, dit was voorheen 1.5m) voldoen word. SAOU het ook hierdie week dit bevestig in ‘n brief wat aan hul lede uitgestuur is.

Anel ·

Nou wat se werk het die lot by die huis gedoen as dasr plaasvervanger onderwysers was? Ek weet in elke geval van skole wat al ‘n hele ruk op 100% funksioneer. Kinders gaan nou siek word van ander goed soos asemnood en uitputting van die gemasker draery. Dit word nou somer hier in elke geval. Die virus hou in elke geval nie van hitte nie.

Danie ·

Ek dink nie dit het vreeslik wonderlik gegaan in die lande wat tans hul somer gehad het nie.

Marney ·

Die artikel is swak geskryf. Noem asb. redes waarom sommige onderwysers toestemming gekry het om van die huis af te werk nl. ernstige komorbiditeite. Die meeste onderwysers het onverpoos vanaf April digitaal gewerk en klasgegee en is weer vanaf einde Mei terug skooltoe. Ek is regtig moeg daarvoor dat alle onderwysers gedurig in ‘n slegte lig gestel word deur halwe waarhede en halwe beriggewing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.