‘Alle plaasaanvalle ewe belangrik’ – TLU

(Argieffoto: Maroela Media)

TLU SA het Woensdag gesê dat alle plaasaanvalle en -moorde op ʼn gelyke wyse ondersoek en behandel moet word. Dit nadat die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, slegs sekere plaasaanvalle verdoem het.

Volgens TLU se insidenteregister vir plaasaanvalle en -moorde was daar vanjaar reeds 153 aanvalle op plase, wat tot die dood van 25 mense gelei het.

TLU sê minister Thoko Didiza het egter min oor hierdie voorvalle te sê gehad totdat ʼn swart gesin se liggame verlede week op ʼn Vrystaats plaas buite Harrismith gevind is. Didiza het haar skok oor die voorval uitgespreek en dit as barbaars beskryf.

Lt.genl. Semakaleng Manamela, polisiehoof van Mpumalanga, het ook verlede week gesê dat die polisiemag nie sal rus voordat die verdagtes agter tralies is wat ʼn swart veiligheidswag op ʼn plaas naby Brondal buite Mbombela (Nelspruit) doodgeskiet het nie.

“Dit is baie moeilik om nié die afleiding te maak dat die minister en haar kollegas sekere mense se moorde meer belangrik as ander s’n ag nie,” het Henry Geldenhuys, president van TLU, gesê.

“Elke plaasaanval of -moord is ontstellend, onnodig en onaanvaarbaar. Didiza moet elke aanval in die openbaar veroordeel en geen steen onaangeraak laat om enige van die aanvallers aan te keer nie. Die minister en haar kollegas moet alle Suid-Afrikaners gelyk behandel, soos wat die Grondwet dit vereis.”

TLU het bygevoeg dat daar nie genoeg gedoen word om Suid-Afrikaners van alle rasse se veiligheid te verseker nie.

Meer as 11 700 beamptes het glo in die afgelope vier jaar die polisiediens verlaat, wat beteken dat elke polisielid vir 200 mense verantwoordelik is.

“Die polisiëringsbegroting is ook intussen besnoei en dit wat oorbly word wanbestee deur moedswilligheid en gierigheid,” het Geldenhuys gesê.

“Dit is duidelik dat die veiligheid van Suid-Afrikaners nie vir die regering ʼn prioriteit is nie. Die onlangse kabinetskommeling sou die ideale geleentheid gewees het om die onderpresteerders en onbekwame lede van die uitvoerende gesag te verwyder, maar dit blyk dat die skommeling meer van ʼn politieke posisionering as enigiets anders was.”

Volgens Geldenhuys doen TLU steeds ʼn beroep op pres. Cyril Ramaphosa om die polisiediens van bo af skoon te maak sodat bekwame persone oor die veiligheid van Suid-Afrikaners kan waak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pietertjie ·

Jip, our people is meer belangrik as ons mense. Soos Jorts Orwell gesê het : all people are equal, but some are more equal than others. Die praktyk bewys dit.

Tiptol ·

Maak die polisie van bo af skoon. Ha ha. Gaan nooit gebeur nie. Hulle is in mekaar se g a t t e opgekruip.

Danie ·

En waar kry jy daardie sogenaamde “bekwame” persone nogal?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.