Alle SA webtuistes móét nou regeringsnuus oor Covid-19 dra

ʼn Soldaat in ʼn straat in Johannesburg se middestad kort ná die instelling van die algehele landswye afsondering. (Foto: Jerome Delay, AP)

Die regering het nuwe wetgewing gepubliseer wat alle webblaaie  met ʼn domeinnaam wat eindig met .co.za, verplig om ʼn skakel op hul tuisblad te dra wat direk met die regering se inligtingsblad oor Covid-19 verbind. Die regering het weke gelede inligting oor die aantal gevalle, die verspreiding en bekamping van Covid-19 op www.sacoronavirus.co.za begin bekendmaak.

Dié regulasies is deur Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie, onderteken en Donderdag in die Staatskoerant gepubliseer. Dit is egter nie duidelik teen wanneer dié skakels aktief moet wees nie, slegs dat dit duidelik sigbaar moet wees.

Die bepaling maak deel uit van regulasies wat ten doel het om elektroniese media te gebruik om die verspreiding van die virus in Suid-Afrika te help teenwerk. Elektroniese dienste word as noodsaaklike dienste beskou tydens die tydperk van algehele afsondering en dit word van alle telekommunikasie- en elektroniese dienste verwag om voort te gaan met dienslewering.

Dit bepaal ook dat entiteite wat uitsaailisensies het, verplig is om inligting te ontvang en te versprei oor die nasionale regering se pogings om die verspreiding van die virus te beveg. Alle elektroniese kommunikasieplatforms moet ook ʼn platform skep waardeur openbare aankondigings aan kliënte en intekenaars gemaak kan word. Al dié platforms is ook verplig om enige fopnuus wat verband hou met Covid-19, onmiddellik van hul platform te verwyder nadat dit as sodanig geïdentifiseer is.

Volgens die regulasies vervat in die Rampbestuurwet is dit nou ʼn strafregtelike oortreding om fopnuus oor die koronavirus te versprei en oortreders kan tronkstraf opgelê word.

Die regulasies noem nie watter straf geld indien ʼn instansie of diensverskaffer nie aan hierdie regulasies gehoor gee nie.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johnny ·

Nóg ‘n onafdwingbare maatreël wat geen sin maak of bydrae lewer nie . . .

DieKriek ·

Ek kan nog steeds niks Covid nuus op News24 lees nie tensy ek inteken.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.