Alleenvaarder dood op seiljag buite Stilbaai gevind

ʼn Soektog na ʼn 60-jarige seiljagvaarder van Mosselbaai, Wes-Kaap, het tragies geëindig toe hy Saterdag dood op sy vaartuig naby Stilbaai gevind is.

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se operasiesentrum is Vrydagmiddag deur die MRCC (Maritime Rescue Coordination Centre) in kennis gestel van die seiljag wat in die see verdwyn het.

Die seiljag het vermoedelik ʼn week tevore uit die hawe van Tafelbaai, Kaapstad, onderweg na Mosselbaai vertrek.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), sê die MRCC het sedert Maandagaand, 15 Augustus, ondersoek ingestel om te probeer vasstel waar die seiljag genaamd Panacea is.

“Ná drie dae waartydens die seiljagvaarder – wat alleen aan boord van die seiljag was – se familie niks van hom gehoor het nie, het sy ma die MRCC meegedeel dat sy bekommerd was,” sê Lambinon.

Tydens ʼn uitgebreide soektog het ʼn helikopter Vrydagmiddag (19 Augustus) die seiljag ongeveer 30 seemyl suidsuidwes van Stilbaai aan die Suidkus gewaar.

“ʼn Lugreddingswemmer van die NSRI is uit die helikopter in die see laat sak, waar hy na die seiljag geswem het. Hy het op die vaartuig geklim en die oorledene onder die dek gevind,” sê Lambinon.

“Met beperkte lugvaartbrandstof oor, het die reddingswemmer ʼn seinbaken op die seiljag geplaas voordat hy in die helikopter opgehys is en hulle na die basis teruggekeer het.”

ʼn Operasie deur owerhede en die polisie is aan die gang om die liggaam veilig van die seiljag te haal en die seiljag uit die see te kry.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.