Alles moontlik gedoen om ma en baba te red, sê hospitaal

Christa (skuilnaam) en haar ongebore baba is Donderdag in 'n hospitaal dood. Foto: Facebook

Christa (skuilnaam) en haar ongebore baba is Donderdag in ‘n hospitaal dood. Foto: Facebook

Die Dr. Yusuf Dadoo-hospitaal in Johannesburg het Maandag gesê hospitaalpersoneel het alles in hul vermoë gedoen om ʼn jong ma en haar ongebore baba te red wat Donderdag by die hospitaal dood is.

ʼn Woordvoerder van die Gautengse departement van gesondheid, Vuyo Sabani, het aan Maroela Media gesê Christa* is in die hospitaal opgeneem nadat sy asemnood ervaar het. “Sy is gestabiliseer en het die nodige behandeling ontvang, insluitend om suurstof te ontvang. Alle ondersteunende sorg was in plek terwyl sy gemonitor is,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër berig Christa (26) en haar ongebore babadogtertjie is ure nadat sy by die hospitaal opgeneem is dood. Die familie het bevraagteken of die regte prosedures wel gevolg is om Christa te behandel en geëis om te weet hoekom ʼn noodkeisersnee nie gedoen is om die baba te probeer red nie.

Christa se man het Maandag beweer die hospitaal het nooit aan hulle ʼn verduideliking gegee waarom Christa dood is nie, maar bloot gesê dat haar hart gaan staan het. “Ek is ook nie seker of sy regtig enige suurstof by die hospitaal ontvang het nie. Hulle het vir haar ʼn masker opgesit, maar ek weet nie of daar suurstof deurgegaan het nie.”

Op ʼn vraag hoekom ʼn noodkeisersnee nie gedoen is nie, het Sabani geantwoord dat dit hospitaalprosedure is om eers die pasiënt te stabiliseer voordat daar geopereer kan word. Sabani het gesê die oorsaak van Le Grange se dood kan nie bekendgemaak word nie, omdat dit ʼn skending van die pasiënt se reg op vertroulikheid sal wees.

“Ons wil graag ons meegevoel aan [Christa] se familie oordra,” het hy gesê. Volgens Sabani is die hospitaal nie bewus van enige interne of eksterne ondersoek na Christa se dood nie.

*’n Skuilnaam word gebruik op versoek van die familie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Agterdogtig ·

Iets klink nie reg nie. Hoekom ‘n skuilnaam gebruik? Hoekom die oorsaak van haar dood ‘n geheim hou? Hoekom nie in die eerste plek ‘n dokter ontbied nie – stukkies bloed in die badwater, maar wil steeds nie dokter toe gaan nie..? Was dit nie maar ‘n selfmoordpoging nie? Of het sy nie die baba probeer afbring nie? Ek wonder maar net. Jammer as ek verkeerd is!

Anita ·

@Agterdogtig: Hou asb jou simpel agterdog vir jouself! Die familie het ‘n geliefde vrou/ma/dogter/vriendin en haar ongebore baba verloor.

Regtig, daar is ‘n tyd en plek vir alles!

Spokie ·

Agterdogtig kry jou feite reg, ek ken die familie, ek sou ook nie na n provinsiale hospitaal toe gegaan het nie, as jy nie iets goeds te se het nie bly eerder maar stil, hierdie mense gaan deur baie hartseer en het nie sulke aanmerkings nodig nie.

heleen ·

Ek voel vir die gesin. Ek sal niemand aanraai om na daai plek se ongevalle te gaan nie. Kinder saal baie goed maar ongevalle is n nagmerrie.

Berhalet Beukes ·

Ek sou ook ‘n skuilnaam gebruik. Hospitaal personeel dreig maklik. Wat sterftes in staatshospitale hospitale betref, prosedures my voet. Besef mense hoe nalatig die hospitale regtig is? Beleef dit self dan sal enige een wat wonder weet, dit is skokkend verby!

Persoonlikervaar ·

My innige medelye aan die familie en vriende. Ek het self ‘n nagmerrie ervaring in hierdie hospitaal gehad. Ek moes my pa soontoe neem en ons was nog nooit so ongeskik en sleg behandel nie. My pa is as gesond ontslaan na ‘n week in die hospitaal. Bietjie meer as ‘n uur na sy ontslag het hy gesterf. Voel of mens deesdae hospitaal toe gaan om vinniger te sterf en nie om gesond te word nie.

Mayday mayday ·

Skending van die patient se reg op vertroulikheid?
As ek die eggenoot was sou ek onmiddelik n nadoodse ondersoek laat doen.
Miskien kom die waarheid uit?

Elize ·

Sy het met haar en haar ongebore kind se lewe gespeel…..hoekom het sy nie dadelik gegaan vir mediese hulp nie? Nou word al die blaam NET op die hospitaal geplaas….

Michiel ·

Volgens die berig in die Krugersdorp News het nog die ambulans, nog die hospitaal suurstof gehad om vir die pasiënt te gee. Nou sê hulle weer hulle het “alles” gedoen wat hul kon om haar te red. Tog het dit onnodig lank geneem om haar by die hospitaal te kry. Wat moet mens nou glo?

Christie Joubert ·

Die hospitaal het alles in hul vermoe gedoen vir ma en kind…Hmmmm, klink my sy het twee panados in pleks van net een gekry! Ek het die afgelope naweek weer die “voorreg” gehad om in Steve Bicko se trauma afdeling te staan met n iemand wat homself beseer het. Ek is bitter dankbaar dat ek vir myself n medies het, en het weereens besef dat dit n n(d)oodsaaklikheid is. My hart gaan uit na die man wat ek daar moes aflaai. Daar is absoluut geen “sense of urgency” nie. Treurig verby en dan nog n houding ook.

M ·

Ek stem saam met agterdogtig. Iets klink nie reg nie.
Baie jammer oor die lewens verlies. My vraag is – wat het aanleiding gegee tot die situasie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.