Alles oor Ramaphosa se staatsrede  

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand in die parlement in Kaapstad ʼn saaklike staatsrede sonder fieterjasies gelewer wat positiewe reaksie van vakbonde en sommige politieke analiste ontlok het, maar skerp veroordeel is deur opposisiepartye.

Ramaphosa het ʼn oorsig oor die land se koronavirus-situasie verskaf en verwys na die Suid-Afrikaanse wetenskaplike navorsers wat bevind het dat die AstraZeneca-entstof nie genoegsaam effektief is teen die sogenaamde Suid-Afrikaanse variant van die virus nie.

Hy het verder die groot en riskante bewering gemaak dat al Suid-Afrika se provinsiale owerhede slaggereed is om die entstowwe effektief te versprei en toe te dien.

Ramaphosa het benadruk dat geen entstof deur die staat onder die bevolking versprei sal word tensy dit behoorlik in Suid-Afrika getoets en deur die Suid-Afrikaanse Regulatoriese Agentskap vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) goedgekeur is nie.

Volgens Ramaphosa is Suid-Afrika se grootste probleme tans die koronavirus, armoede, hongersnood, werkloosheid en ongelykheid.

Ramaphosa het sy oortuiging uitgespreek dat die regstel van die vorige regering se ongeregtighede ʼn rigtende prioriteit vir die regering moet bly, veral omdat die verloop van die koronavirus-sage volgens hom die negatiewe aspekte van daardie nalatenskap vererger het, deels omdat soveel van die staat se beoogde projekte om die gevolge te verlig, uitgestel of afgestel moes word omdat die nasionale begroting so omvattend oorgedoen moes word.

Pres. Cyril Ramaphosa. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die president meen hoewel die ekonomie in ʼn goor toestand is en ekonomiese groei versand het, kan die ekonomie teen die einde van die jaar met mening herstel.

Volgens Ramaphosa het die staat ook sy deel bygedra om die rampspoedige impak van die koronavirus te verlig, onder meer deur die skep van nuwe vorms van tydelike welsynstoelaes, sake-ondersteuning en belastingverligting.

Die regering se ekonomiese herstelplan gaan voort. Die hoofpilare sluit groot infrastruktuurprojekte en die uitbou van die plaaslike vervaardigingsektor in.

Die regering en tersaaklike rolspelers het 42 prioriteitsbedrywe geïdentifiseer wat by uitstek geskik is vir uitgebreide lokalisering.

Voorts is vier bedryfsmeesterplanne reeds afgehandel en spesifiek die meesterplanne vir die pluimveebedryf en die suikerbedryf word reeds suksesvol toegepas.

Die Suid-Afrikaanse motorvervaardigingsbedryf loop klopdisselboom, met Ford wat pas ʼn verdere belegging van R15 miljard in Suid-Afrika aangekondig het, Toyota wat pas by Prospecton in Durban begin het met die produksie van die eerste hibridiese motor wat in Afrika vervaardig word, en die vervaardigers Nissan, Mercedes Benz en Isuzu wat hul bedrywighede in Suid-Afrika uitbrei.

Pres. Cyril Ramaphosa lewer sy staatsrede. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Ramaphosa meen omvattende swart ekonomiese bemagtiging en spesifiek die swart nyweraars- projek moet uitgebrei word. Hy is in sy noppies oor die toenemende getal maatskappye wat hul werkers aandeelhouding in die onderneming laat verkry.

Die skep van groter plaaslike energie-kapasiteit bly ʼn topprioriteit, en nuwe projekte om 2 600 MW se elektrisiteit met wind- en sonkrag op te wek, lê voor die deur.

ʼn Wateragentskap gaan eersdaags gestig word om die deurgaanse voorsiening van vars water te verseker, ook in sukkelende munisipaliteite.

Die hawens in Durban en Port Elizabeth word opgradeer, asook die spoorlyn tussen Port Elizabeth en Gauteng.

Die sloerende proses om Suid-Afrika se visumvereistes te verander sodat opgeleide mense makliker na Suid-Afrika kan kom en toeriste die land makliker kan besoek, is byna afgehandel en die voortspruitende voorstelle sal binne ʼn week gepubliseer word.

Ramaphosa het onderneem dat die model waarvolgens staatsbeheerde entiteite bestuur word, hersien gaan word, maar het geen aanduiding gegee van hoe dit gaan verander nie.

Aan die landboufront gaan dit redelik goed daaraan toe, deels danksy ʼn milde reënseisoen. Suid-Afrika het in die afgelope jaar die wêreld se tweede grootste uitvoerder van sitrus geword.

Grondhervorming het die afgelope jaar baie momentum gekry.

Ramaphosa het klem gelê op die belangrikheid van etiese gedrag eerder as korrupsie en wanbestuur in die staatsdiens, en gesê skuldiges sal voortaan baie harder gejag en in hegtenis geneem word.

Pres. Cyril Ramaphosa lewer sy staatsrede. (Foto: Elmond Jiyane/GCIS)

Die president het gesê dit is gebiedend noodsaaklik dat diegene wat in die staatsdiens en in stadsrade aangestel word as amptenare oor die vereiste kwalifikasies beskik.

“As mense sonder die vereiste kwalifikasies aangestel word, maak hulle ʼn gemors. Die dae van ʼn gemors maak, is nou verby,” het hy gesê, met geen verwysing na die rol van die ANC se beleid van kaderontplooiing, of enige straf vir die ANC-kaders wat daardie onwettige aanstellings oor die jare gedoen het nie.

Ramaphosa het benadruk dat die geskeduleerde plaaslike regeringsverkiesing wel vanjaar sal plaasvind, soos die Grondwet vereis.

Die president het sy steun aan die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping bevestig, maar was doodstil oor die leiersfigure in sy eie party se ondermynende kritiek teen die kommissie – so asof dit nie gebeur nie.

Die staat gaan wel eersdaags ʼn adviesraad teen korrupsie ryker wees. Wat verdere misdaadbekamping betref is veral kabeldiefstal, grondbesetting, die besetting van konstruksiepersele en die beskadiging van infrastruktuur as prioriteite uitgelig.

Ramaphosa het aangekondig dat die Covid-19-gekoppelde basiese inkomstetoelaag van R350 vir ʼn verdere drie maande verleng word, en het wense vir beterskap uitgespreek jeens die Zoeloekoning, Goodwill Zwelithini, wat in hierdie dae baie siek is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Natasha

Suid-Afrika se grootste probleme tans die armoede, hongersnood, werkloosheid en ongelykheid alles veroorsaak deur die ANC en hulle geslote visie van swart ekonomiese bemagtiging. Klink weereens na net nog ‘n klomp lugkastele wat se fondasies uitmekaar val.

RB

‘Die dae van n gemors maak is nou verby’

Ek lag!!!! Nèt jy en diè in jou gekkeparadys sal jou glo.
N gemors is al waartoe julle in staat is.

Ons wil ook graag hê die dae van gemors maak moet verby wees maar dit beteken:
ANC uit (meeste parlementslede in oranje)
..
..
..
Wou nog paar punte gee maar waarheid is – ANC uit, weg, nie in beheer is in werklikheid al want hulle is die oorsaak van die gemors.

Genoeg bevoegde mense sal die gemors opruim en aanbeweeg.

Manie

Koronavirus, armoede, hongersnood, werkloosheid en ongelykheid kan alles saamgevat word in 1 woord: KORRUPSIE.

Jakes

En so gaan die sirkus voort. Ek skaam my om CR my president te noem en is ek seker dat n kind in graad 8 n beter staatsrede kon lewer. Hy, nes sy party leef in n droomwereld, geen wonder SA sit vandag in hierdie omkeerbare posisie.

Werner

Wonder watter toordokter het hom nou weer voorgese.Weet nie hoe desperaat of naief mense moet wees om die twak wat die ou praat te glo nie.