Alles wat jy móét weet oor onderwys gee in China

Derek Watts (Foto: Facebook)

ʼn Ondersoek deur M-Net se nuusprogram Carte Blanche het bevind altesaam 50 jong Suid-Afrikaners is op die oomblik in China vasgekeer nadat hul paspoorte deur die polisie afgeneem is weens foutiewe visums.

Dit is stories soos dié, en ook verhale soos dié van ʼn vrou van Alberton wat 16 dae in ʼn detensiesentrum in China moes deurbring weens ʼn foutiewe visum, wat die honderde Suid-Afrikaners wat jaarliks na China stroom vir ʼn oomblik in hul spore stuit en ʼn eens blink geleentheid om geld te verdien én die buiteland te verken na ʼn nagmerrie laat lyk.

Alle hoop is egter nié verlore nie. Kenners wys daarop om skool te hou in China – of selfs in Rusland, die Midde-Ooste of Asië – is steeds ʼn wonderlike geleentheid om tegelyk te reis én te werk. Dís nou mits jy gewapen is met die régte reisdokumente.

“Die Chinese ambassade in Suid-Afrika het verlede jaar alleen meer as 1 200 visums aan Suid-Afrikaners toegeken wat in China gaan werk het,” sê Derek Watts, ondersoekende joernalis van die Carte Blanche-program.

Die groep van 50 jeugdiges wat op die oomblik in China vasgekeer is, is almal in diens geneem deur Sanda Youth International – ʼn maatskappy wat jongmense werf om in die buiteland skool te hou. Hoewel die jeugdiges aanvanklik vir ʼn paar maande skoolgehou het, word hulle nou krimineel ondersoek deur die polisie omdat hulle glo nié die regte werksvisum, bekend as ʼn Z-visum, deur die werwingsmaatskappy toegeken is nie.

Die Chinese ambassade in Pretoria het aan Carte Blanche bevestig dat ʼn ondersoek aan die gang is, en daarby saam Suid-Afrikaners gewaarsku om hulself eers van die Chinese wetgewing te vergewis voordat hulle besluit om na China te reis om skool te gee.

Andries Opperman saam met sy Chinese leerders (Foto: Verskaf)

Hoewel dié saak nou deur Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, hanteer word, is dit nie ʼn afsonderlike geval nie. Tientalle Suid-Afrikaners het hulself al in dieselfde penarie bevind – en moes dan op eie onkoste sonder hul besittings na Suid-Afrika terugkeer.

Steeds is skoolgee in China nié ʼn slegte idee nie, sê Andries Opperman, konsultant vir die Chinese Culture and International Education Exchange Centre.

Opperman, wat deesdae ʼn beroep daarvan maak om die Chinese taal te onderrig en self ook in die noordooste van die land skoolgehou het, sê mits die regte stappe gevolg word, is só ʼn geleentheid om in die buiteland skool te gee ʼn oplossing vir baie jeugdiges wat nié onmiddellik werk in hul tuisland kry nie.

Opperman meen die Chinese Culture and International Education Exchange Centre is getaak om taal, opvoeding en kultuur en tussen Suid-Afrika en China te bevorder, en dié ooreenkoms vloei uit ʼn memorandum van verstandhouding wat in 2015 onderteken is. Hy sê meer as 800 studente het al in die verlede suksesvol met behulp van dié program in China gaan werk.

“Daar is geruime tyd al wetgewing in China wat bepaal in watter distrik met watter visum buitelanders moet werk,” sê Opperman. “Die wetgewing was nie altyd oral streng toegepas nie, maar van einde verlede jaar is daar opdrag gegee dat al die distrikte hierdie wetgewing streng moet begin gehoorsaam. In die geval van Madri van den Heever, die vrou wat 16 dae in ʼn detensiesentrum moes deurbring weens ʼn foutiewe visum, is dié wetgewing waarskynlik toegepas. Jou Z-visum laat jou slegs toe om in ʼn sekere distrik te werk, en as jy in ʼn ander distrik werk, kan jy in hegtenis geneem word.”

Opperman in die klaskamer (Foto: Verskaf)

Opperman sê baie jong mense wat in die verlede al in die moeilikheid beland het, het aangevoer dat hul dokumente in Chinees aan hulle oorhandig is. Hy sê dís ʼn bloutjie wat jy nié moet loop nie.

“Dis baie belangrik om enige werksdokumente wat in ʼn ander taal is te laat vertaal sodat jy presies weet waarvoor jy jouself inlaat en wat die vereistes van jou visum en verblyfpermitte is. Ek sal persoonlik by my aankoms in die buiteland self na die plaaslike polisiestasie gaan om aan te meld met my verblyfpermit en net om klarigheid te kry of alles inderdaad afgehandel is. Dan weet jy uit die staanspoor of jy wettig werk al dan nie.”

Hy sê hy is juis vroeër vandeesmaand deur bekommerde ouers gekontak wat gesê het hul seun sit met ʼn toeristevisum in die noordooste van China en die regering het toegeslaan. “Die ouers was onseker of hy in hegtenis geneem sou word, maar die polisie het al die buitelandse onderwysers se paspoorte afgeneem. As ek vir enigiemand kan raad gee, is dit om nooit met ʼn toeristevisum in ʼn ander land te gaan werk nie, selfs al verseker die maatskappy dat hulle binne ʼn week of minder ʼn Z-visum – die regte visum om mee te werk – aan jou sal uitreik.”

Is dit ʼn goeie idee om in China te gaan skoolhou?
Opperman sê vandat die nuwe wetgewing strenger toegepas word, het vergoeding in China ook toegeneem. Dis daarom veral vir jongmense nog ʼn tydelike maar goeie oplossing.

“Daar is ʼn kleiner bron van onderwysers wat daartoe lei dat dié groep mense beter vergoed word. ʼn Paar jaar gelede het Suid-Afrikaners uit die land gestroom om te gaan au pair – en om Engels oorsee te gee is beslis in my opinie ʼn beter manier om die wêreld te verken én verder te leer.

“Vandag is dié programme baie gestruktureerd en jy hoef nie van een gesin se goedgesindheid afhanklik te wees soos wanneer jy au pair nie. Ek kan nie iemand sterker aanbeveel om Chinees aan te leer nie; en as jy dié geleentheid kry terwyl jy in China werk, gryp dit met albei hande aan.”

Wat het ek nodig om in China skool te gee?

ʼn Vrou loop onder bauhinia-blomme deur in Liuzhou in Suid-China se Guangxi Zhuang-streek. (Foto: Li Hanchi, Xinhua)

Nuwe wetgewing bepaal volgens Opperman dat jy nie permanent aangestel kan word vir ʼn Z-visum as jy nié minstens 24 jaar oud is of ʼn B-graad het nie. Hy sê hoewel daar distrikte is wat nie noodwendig die wetgewing so streng toepas nie, sou hy niemand aanraai om sonder daardie vereistes na China te gaan om skool te gee nie.

“As jy nié ʼn B-graad het nie en ook nie 24 jaar oud is nie, kan die skool dalk wél ʼn Z-visum reël, maar ek sou nie sommer iemand aanraai om dit te doen nie. Die ergste wat in so geval kan gebeur is waarskynlik dat jou visum teruggetrek kan word en jy sal gedeporteer word. Maar as jy op die regte plek is en met die regte dokumente werk sal jy nie in die moeilikheid beland nie.”

Ander belangrike punte om dop te hou is om te verseker dat die onderwysinstelling of skool waarvoor jy gaan werk, gelisensieerd is. Opperman beklemtoon om enige maatskappy se besonderhede en getuigskrifte in die fynste detail na te gaan en te ondersoek of die werwingsmaatskappy of skool al in die verlede enige probleme ondervind het. Onthou ook om altyd jou paspoort of ʼn afskrif daarvan saam met jou te dra – veral as jy besoek aan ʼn ander stad wil aflê.

Is daar reëls wat in gedagte gehou moet word?
Opperman sê die belangrikste ding vir Suid-Afrikaners wat na China reis is om te onthou dat China nie vrylik toegang tot die internet bied soos Suid-Afrika nie. China het as’t ware ʼn intranet geskep wat in wese die land se internet geword het.

“Die regering blokkeer platforms soos Facebook en YouTube. Baie mense maak gebruik van ʼn VPN om toegang tot hierdie blaaie te kry, en dit gaan jou nie noodwendig in die moeilikheid laat beland nie, maar Suid-Afrikaners moet oppas om hulself nie dan op hierdie platforms teen die Chinese regering uit te spreek nie.

“Onthou; dis onwettig – dit kan dus nie goedgepraat word nie. Ek sou voorstel respekteer die basiese reëls en beginsels wat die regering stel,” sê hy.

Mense verkyk hulle Dinsdag aan kersiebloeisels tydens ʼn blomwaarderingsgeleentheid by Zhongshan-park in Qingdao in Oos-China se Shandong-provinsie. (Foto: Li Ziheng, Xinhua)

China laat ook nie sommer betogings toe nie, sê hy. “Daar is wetgewing in China wat jou verhoed om ʼn optog of ʼn byeenkoms soos ʼn optog te reël. Laat dit en moenie daarby betrokke raak nie. China is egter nie Noord-Korea nie. Ek het nie een keer gevoel die regeringswette perk my lewe in nie. Ek was totaal en al vry om te doen wat ek wou doen, maar ʼn mens moet besef dis nie jou land nie en dis nie jou land se wette nie.

“Daar is baie ander goed wat mense ook in ag moet neem, soos onder meer respek vir gesag. Tree hoflik op en respekteer ander. En vermy dit om met die Chinese te praat oor politiek, jy is ʼn gas in hulle land en dis doodeenvoudig nie goeie etiket nie.”

Opperman sê baie mense sal ʼn kultuurskok in China ervaar. “Die verhouding tussen die onderwyser en die student is baie anders in China. Studente het meer respek vir gesag, en so moet die onderwyser ook respek hê vir die gesag wat bo hom of haar gestel is. Onthou ook jy gaan in ʼn omgewing waar jy waarskynlik nie die taal kan praat nie – en die skole wil dit hê want hoe meer Engels met die kinders gepraat word, hoe meer leer hulle.”

Solidariteit bied nou die geleentheid vir jongmense tussen 21 en 30 jaar oud om vir ʼn M-graad in China te gaan studeer. ʼn Tweede program bied opleiding in vroeë kinderontwikkeling (vir diegene tussen 18 en 34 jaar) by die Shandong Normal University. Om meer uit te vind oor albei hierdie programme, besoek Helpende Hand of stuur ʼn e-pos na [email protected] of skakel 072 309 6195.

Kliek hier om Opperman se Learn Chinese Facebook-blad te besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Steeds nie sleg? ·

Steeds nie n slegte idee nie? Opperman jy meen dit is deel van die avontuur om gejaag te word deur die Chinese polisie? Ek dink nie so nie.

marco polo ·

Sela. Goed saamgevat, Cyril. Belangrikste is dat jy n Z-visa MOET he voordat jy vertrek. Dis mense wat kortpad probeer vat het en met toeriste visas gaan werk het, wat dit nou nodig gemaak het vir die Chinese regering om op te tree. Ek werk al n tydjie in China en het nog net vriendelikheid en respek ervaar. En nee, die gewone mense eet nie allerhande snaakse goed nie.

Peer ·

Wel, hulle praat nie Chinees nie, daar bestaan nie n taal soos Chinees nie, dis standaard Mandarin.

marco polo ·

Heeltemaal reg, Peer. Mandaryns is die amptelike taal wat almal leer, maar daar is ook groot streektale soos Cantonese, en die Wu taal met baie dialekte wat rondom Shanghai gepraat word.

jaco ·

al is die visums en werkspermitte ook alles reg, hoe kan iemand uit SA in China gaan skoolhou sonder om Chinees te praat? Dis een van die moeilikste tale in die wereld en word beslis nie oornag aangeleer nie.

marco polo ·

Jaco, Mandaryns is gladnie so moeilik soos meeste mense glo nie. Om dit te skryf is wel moeilik, maar praat is redelik eenvoudig en baie klanke stem ooreen met Afrikaans. As jy klas gee, doen jy dit in Engels en mens word eintlik afgeraai om Mandaryns te gebruik, want dan raak die studente lui. In skole is dasr in elk geval Chinese hulponderwysers wat help met vertaal en klas dissipline. Ek werk by n taalsentrum waar studente eers op n vlak gebring word waar hulle effens verstaan, dan leer jy hulle verder. Dit is n baie bevredigende werk waarin jy n groot verskil aan mense se lewens kan maak, sonder stres.

jaco ·

die korrekte Afrikaans vir die werk wat onderwyser doen, is SKOOLHOU, nie skool gee nie. Hier verlaat klaar al hoe meer Afrikaanssprekendes SA om in ander lande te gaan werk. So kan ons wat agterbly, asseblief bietjie moeite doen om darem die Afrikaans min of meer korrek te praat?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.