Alles wat jy wil en moet weet van SA se rommelstatus

geld 7

Argieffoto.

Terwyl Suid-Afrika se staatseffekte vandag, die eerste keer sedert 2000, met die rommelstatus van twee internasionale kredietgraderingsagentskappe verhandel het, wonder sommige Suid-Afrikaners steeds oor wat rommelstatus is en hoe belangrik dit vir die land se ekonomie is. Dié artikel sal jou vrae oor “rommelstatus” beantwoord:

Fitch Ratings het Vrydagmiddag die land se staatskuld (buitelands en plaaslik) tot onder beleggingsgraad afgegradeer nadat Standard & Poor Global Ratings (S&P) op 3 April aangekondig het dat hulle Suid-Afrika se staatskuld in die buiteland tot rommelstatus afgegradeer het. Moody’s het op 4 April gesê hulle is besig met ʼn hersieningsproses wat 30 tot 90 dae sal duur.

Die meeste ontleders verwag dat Moody’s ook ʼn kredietafgradering sal gee en hulle reken dit is ook net ʼn kwessie van tyd voordat randeffekte afgegradeer sal word.

Wie is die spelers en hoe werk die kredietgraderingsproses?

Die sogenaamde “groot-drie” van kredietgraderingsagentskappe bestaan uit S&P, Fitch en Moody’s. S&P en Moody’s is in die VSA, terwyl Fitch vanuit beide New York en Londen bedryf word.

“Eenvoudig verduidelik, is die taak van dié agentskappe om die kredietwaardigheid van instellings – meestal regerings en groot besighede – en die kans dat hulle nie hul bestaande skuld sal betaal nie, te bepaal,” het Gerhard van Onselen, navorser by die Solidariteit Navorsingsinstituut, gesê.

Volgens Van Onselen is staatskuld die een ding wat die agentskappe gradeer. Verskillende maatstawwe word gebruik om kredietwaardigheid en wanbetalingsrisiko te bepaal. In die geval van ʼn regering word S&P se buitelandse valutagradering op die volgende stellings gebaseer:

  • Politieke risiko en die effektiwiteit van staatsinstellings – ʼn politieke telling;
  • Ekonomiese groei en -vooruitsigte – ʼn ekonomiese telling;
  • Buitelandse likiditeit en internasionale beleggingsposisie – ʼn eksterne telling;
  • ʼn Land se staatskuldvlakke en fiskale posisie – ʼn fiskale telling; en,
  • Oorwegings van monetêre beleid en die aanpasbaarheid daarvan – ʼn monetêre telling.

“Uit die bogenoemde sien ons dat die graderings van staatskuld baie te doen het met die prestasie van staatsinstellings, waarvan die belangrikste waarskynlik die nasionale tesourie en die Reserwebank is,” het Van Onselen gesê.

In 2014, toe Fitch en S&P ook vir SA ʼn kredietafgradering gegee het, het hulle gesê dis weens die langdurige staking in die platinumsektor, gebrekkige ekonomiese groei, handel- en begrotingstekorte en ʼn kommer oor Suid-Afrika se toekomstige bestuur van belastingsgelde.

Fitch het vanjaar se kredietafgradering na rommelstatus hoofsaaklik toegeskryf aan pres. Jacob Zuma se omstrede middernagtelike kabinetskommeling, wat waarskynlik sal lei tot ʼn verandering in die rigting van die land se ekonomiese beleid. Volgens S&P bly die tempo van ekonomiese groei in Suid-Afrika ook ʼn graderingswakheid.

Is rommelstatus werklik so ’n groot monster?

Ontleders verskil wel oor die graad van ernstigheid van ʼn afgradering. Sommige ontleders verwag ʼn grootskaalse uittog van kapitaal, soos beleggers wat nie in spekulatiewe skuldgraderings mag belê nie. Ander ontleders wys daarop dat die markte reeds heelwat risiko van ʼn afgradering verreken het en dat die impak van ʼn afgradering meer beperk sal wees.

“Ek reken die impak van rommelstatus sal eers op die langtermyn deursyfer. Daar is baie balanserende elemente en ʼn mens sal beleggers kry wat nie omgee om met ons hoë-risiko staatskuld te spekuleer nie.

“Rommelstatus is egter vir my soos ʼn stadigwerkende soort gif. Dit los ʼn merk op die gehalte van ons land se skuld en ʼn vinger moet gewys word na hoe die land bestuur word. Dit is dalk nie ʼn onmiddellike ramp nie, maar dit gaan ons ekonomie stadigaan verder belemmer,” het Van Onselen gesê.

Die graderingsagentskappe het al in die verlede onder skoot gekom vir hul aandeel in die 2007/8-finansiële krisis. Die Europese Unie het in 2014 ʼn stel reëls ontwerp in ʼn poging om die kredietagentskappe in toom te hou uit die vrees dat ʼn afgradering die potensiaal het om ʼn land te destabiliseer. Die Amerikaanse finansiële waghond, die Securities and Exchange Commission (SEC), hou ook ʼn streng oog op die optrede van die agentskappe.

“Soos ek verstaan moet ʼn land instem om deur die agentskappe gegradeer te word en dit beteken ons heg tog waarde aan wat hulle sê. Mense wat staatskuld koop, heg ook waarde aan die agentskappe se gradering,” het Van Onselen gesê.

Hoekom is ʼn goeie kredietgradering belangrik vir SA?

Die regering gaan nou meer moet betaal aan sy toekomstige skuld. Dit beteken iets soos die beoogde R1 biljoen-kernkragplanne gaan ons dalk ʼn biljoen of twee meer kos, reken ontleders.

“Suid-Afrika het tans beide handel- en begrotingstekorte. Ons voer meer produkte in as wat ons uitvoer. Die staat bestee meer as die belasting wat ingevorder word. Dit beteken dat dié tekorte uit geleende geld befonds moet word.

“Die staat leen geld op die plaaslike en internasionale beurse. Rente is betaalbaar op geleende geld en ʼn regering is nie daarvan vrygestel nie. Vanweë rommelstatus, wat op verhoogde beleggingsrisiko dui, verreis beleggers gewoonlik hoër rente op skuld. Dit beteken dat die staat voortaan meer aan rente op nuwe skuld sal moet betaal.

“Indien meer rente betaal word, bly minder geld oor vir ander staatsbesteding. Dit kan die staat onder druk plaas om belasting te verhoog,” het Van Onselen gesê.

Wat kan ʼn land doen om weer opgegradeer te word? Wat sal SA moet doen?

Van Onselen reken Suid-Afrika sal drie punte moet aanspreek in ʼn poging om die land se goeie beleggingstatus te herwin:

  • Goeie, stabiele beleide wat gerig is op ʼn vryemark-ekonomie.
  • Onderonsies en verdeeldheid in die ANC moet uitgesorteer word.
  • Staatsbeheerde instellings soos Eskom en SAL moet beter beheer word, terwyl die regering sal moet bewys en verseker die Reserwebank en tesourie word steeds goed bestuur ten spyte van die kabinetskommelinge en bedankings.

“Zuma se bedanking sal ʼn stap in die regte rigting wees, maar ʼn mens moet jouself vra watter soort beleide bly agter en watter remme het die beleide op ekonomiese groei? Ons het beleid nodig wat nader is aan die vrye mark en dit sal byvoorbeeld beteken swart ekonomiese bemagtiging (SEB) moet afgeskaf word,” het Van Onselen gesê.

Adam Jacobs, ʼn onafhanklike ekonoom, het vroeër aan Maroela Media gesê vir ekonomiese groei om gestimuleer te word moet daar vinnig duidelikheid oor Suid-Afrika se ekonomiese beleid kom.

“Indien daar nie vinnig baie verander op die politieke front nie, gaan die rand, effektebeurse, ekonomie, werkloosheid en armoede onder druk bly. Dit beteken die slegte ekonomiese tye gaan langer met ons wees,” het Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep, gesê.

 Is dit moontlik om uit rommelstatus opgegradeer te word?

 Dit kan Suid-Afrika baie lank neem om weer beleggingsgraad te bereik, maar dit is nie onmoontlik nie. Lande wat voorheen deur kredietgraderingsagentskappe afgegradeer is, het wel al tot tien jaar gesukkel om beleggingstatus te herwin.

Suid-Afrika het ook 17 jaar gelede rommelstatus gehad en dit het vyf jaar geduur voordat die land weer ʼn belegginggraad gehad het. “Dit sal minstens twee jaar neem om Suid-Afrika se beleggingstatus te herwin, waarskynlik vyf,” het Roodt in ʼn nuusbrief aangevoer ná S&P se afgradering na rommelstatus.

Rommelstatus – is daar dan geen meer hoop vir ons nie?

Rommelstatus is die informele woord vir nie-beleggingsgraad of spekulatiewe graad. Volgens die kommentator en rubriekskrywer Victor Kgomoeswana is daar wel ʼn lewe ná ʼn kredietafgradering, maar dit is ʼn duurder soort opsie.

Verskeie Afrika-ekonomieë is besig om te groei en word doeltreffend bestuur ten spyte van ʼn rommelstatus. Hy verwys na lande soos Ehiopië, Kenia, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Ghana, Angola en Kaap Verde, wat steeds daarin slaag om buitelandse beleggers te lok. “Dit word wel teen ʼn hoër uitleenkoers gedoen. Hulle moet ook staatmaak op beleggings van China en Rusland wat nie veel slaap oor die menings van Fitch en Moody’s verloor nie.”

Kgomoeswana meen ons kan kredietafgraderingsagentskappe haat en blameer vir die probleme van die land se ekonomie, maar ons moet ons eie traagheid en onbevoegdheid net so walglik vind. “As ons aanhou om die kwaliteit van onderwys, gesondheidsdienste en inklusiewe ekonomiese groei vir die meerderheid te ignoreer gaan die kredietafgraderingsagentskappe op ons hakke bly. Al wat hierdie agentskappe immers doen, is om die beleggingsbelange van Amerikaners te beskerm. Die vraag is hoekom ons vir buitelandse belegging moet vra as ons maklik selfstandig kan wees?” skryf hy in ʼn onlangse rubriek op IOL.

Volgens Roodt is die markte se gedempte reaksie tot dusver en die feit dat die rand net in ʼn smal band van tussen R13,72 en R13,82 verhandel en nie vinniger verder verswak het nie, ʼn mate van goeie nuus. “Dit is ʼn bewys dat ons reeds die prys vir ons vreesaanjaende politiek leierskap betaal het. Dinge kan seker erger word, maar Zuma het heel waarskynlik sy laaste troefkaart gespeel en hy kan homself nou net meer isoleer van die res van sy ondersteuningsbasis.

“Ons het ʼn grootskaalse ondergewaardeerde geldeenheid, aantreklike opbrengste op ons effektebeurs en fantastiese maatskappye om in te belê. Tans skree Suid-Afrika ‘koop!’ aan beleggers,” het Roodt gesê.

Van Onselen meen Suid-Afrika kan steeds beleggers lok ten spyte van ons rommelstatus: “Maar Suid-Afrika verarm beslis en dit is ʼn onnodige verarming. Rommelstatus beteken nie alle beleggers gaan nou onmiddellik die hasepad vat nie, inteendeel ons kan ander beleggers vir staatskuld kry, maar teen watter koste? Dit is ʼn baie vloeibare situasie na alle kante toe. Tog hoop ek rommelstatus dwing die ANC om te herbesin oor hul beleidsrigting.

“Hopelik besef hulle ʼn mens kan nie die gans wat die goue eiers lê net slag en dan voortgaan sonder gevolge nie. Rommelstatus kan die ANC dwing om hul beleidsrigting hopelik meer na die middel aan te pas – weg van ʼn linkse, sosialistiese beleid.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae