Alles wat sakelui en werknemers moet weet van Covid-19

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Die Wet op Beroepsgesondheid en -veiligheid bepaal dat ’n werkgewer ’n plig teenoor sy of haar werknemers het om ’n veilige werkplek daar te stel. Dié plig rus nou swaar op werkgewers se skouers te midde van die nuwe koronavirus bekend as Covid-19. Baie werkers vat boonop nou uitgebreide siekverlof of versoek om van die huis af te werk.

Kenners verskaf raad aan Maroela Media oor ʼn paar van dié kwessies.

Moet ’n maatskappy sluit?

Die departement van arbeid en indiensneming het vandeesweek in ’n verslag benadruk dat werknemers dié virus by die werkplek kan opdoen én versprei, sou die nodige maatreëls nie toegepas word nie. Sakeondernemings wonder nou of hulle hul deure moet sluit of aanspreeklik gehou word vir werkers se gesondheid.

Sakelui verseker dat dit hoegenaamd nie nodig is nie. Daar sal wel sekere aanpassings gemaak moet word.

Phil Davel van Solidariteit se regsdienste verduidelik aan Maroela Media dat die Nasionale Raad vir ekonomiese ontwikkeling en arbeid (Nedlac) in ’n onlangse spesiale sitting bepaal het dat sake nié soos normaal kan voortgaan te midde van die pandemie nie. Werkplekke moet dus nuwe maniere moet vind om kwessies soos verkorte werkure, skofwerk en verlof te bestuur.

Christo Bester van die LWO Werkgewersorganisasie het tydens ʼn webinaar deur die organisasie Sakeliga verduidelik dat elke sakeonderneming ’n risikoplan gereed moet hê. Dié plan behoort nou te midde van Covid-19 aangepas te word spesifiek vir die hantering van ’n virussituasie.

Indien die situasie egter verander en sakeondernemings deur die regering gedwing word om hul deure te sluit, sal maatskappye ander planne moet maak om te verseker dat sake nie heeltemal tot stilstand kom nie.

Jahni de Villiers, ʼn arbeidskenner, is van mening dat alle werkgewers nou reeds gebeurlikheidsplanne gereed moet hê. “Werkgewers gaan moet bepaal hoe die maatskappy se werksaamhede kan voortgaan sodat alle werksaamhede nie bloot tot stilstand kom wanneer die maatskappy sluit en werknemers verplig word om huis toe te gaan nie.

Tegnologie kan ingespan word om dit vir werknemers moontlik te maak om hulle werk tuis te doen. Werkgewers kan aan personeel die nodige toerusting soos internettoegang en rekenaars verskaf sodat hulle met gemak tuis kan werk.”

Volgens Fergus Ferguson van Fergusmor Action Coach kan sakeondernemings nie in dié stadium bekostig om op te hou met bemarking nie. “Die stryd gaan nou oor die oorlewing en behoud van jou kliëntebasis.”

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Wat is maatskappye se aanspreeklikheid?

De Villiers sê dit is van uiterste belang dat werkgewers én werknemers pro-aktief optree om die verspreiding van die virus te bekamp. Sy sê werkgewers moet duidelike higiënebestuur- en veiligheidsmaatreëls binne hul maatskappye instel en alle werknemers moet van dié maatreëls bewus gemaak word deur middel van inligtingsessies, plakkate in die werkplek en elektroniese kommunikasie soos e-pos, sosiale media of WhatsApp-boodskappe.

Die departement van arbeid en indiensneming help met nuttige riglyne. Luidens die departement se verslag kan

  • lugsuiweraars in kantore geïnstalleer word,
  • kantore se ventilasie kan opgeskerp word,
  • afskortings tussen personeel se lessenaars kan aangebring word,
  • siek werknemers mag aangeraai word om tuis te bly,
  • kontak tussen werknemers kan verminder word (stel vergaderings uit of vergader via Skype),
  • roteer werknemers of laat werknemers in skofte werk en
  • skort sakereisplanne op.

De Villiers sê dit is ook belangrik dat werkgewers verantwoordelik is en ʼn veiligheidsassessering van alle werknemers en die werkplek doen. Werkgewers moet die volgende vrae vra:

  • Het enige personeel onlangs na of van hoërisikogebiede gereis, groot vergaderings bygewoon of met groot groepe mense in aanraking gekom?
  • Is daar ’n moontlikheid dat hulle enige risiko vir die maatskappy en ander werknemers inhou en die virus sodoende moontlik kan versprei?

Sy is wel van mening dat werkgewers nie aanspreeklik gehou kan word wanneer een werknemer ander personeellede aansteek nie, want geen kriminele regulasies in die verband is tot op hede aangekondig nie.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Verlof

Volgens Davel mag werknemers in hierdie tyd op verpligte verlof geplaas word. Werkloosheidversekering kan moontlik dan geëis word.

Davel wys daarop dat werkgewers egter ook altyd voorsiening kan maak vir spesiale betaalde verlof. Spesiale betaalde verlof is verlof wat die werkgewer toestaan teen betaling in gevalle waaroor nié in die Wet op Basiese Diensvoorwaardes (WBDV) voorsiening gemaak word nie.

Die roete wat die meeste sakeondernemings egter in dié stadium volg is om bloot werknemers huis toe te stuur om tuis te werk. Die werknemers is egter steeds onder die werkgewer se bestuur en voer steeds alle redelike opdragte van die werkgewer uit.

Sou ’n werkgewer verkies dat sy of haar werknemers steeds in die kantoor werk, maar ’n werknemer het wel moontlik in kontak met ’n bevestigde geval gekom, mag daar van dié werknemer verwag word om by die huis te werk. Dié werknemer is egter steeds geregtig op volle betaling.

Sou die persoon voet by stuk hou dat hy nié ’n risiko inhou nie en weier om tuis te werk, mag die werkgewer hom of haar dwing om van die huis af te werk, verduidelik Davel.

De Villiers noem egter werkgewers kan werknemers ook nie verplig om tuis te bly indien ’n korona-geval daar aangemeld is nie.

Positief vir Covid-19

Sou ’n werknemer positief vir Covid-19 toets, moet die persoon dadelik op siekverlof geplaas word. Davel verduidelik dat siekverlof oor ’n siklus van drie jaar bereken word.

Indien ’n werknemer vir twee dae of langer of twee keer binne ’n agt week periode siek is, mag die werkgewer die persoon versoek om ’n mediese sertifikaat in te dien. Indien so ’n sertifikaat nié ingehandig word nie, mag dit gebeur dat die werkgewer nie die werknemer betaal vir die dae wat die persoon afwesig was nie.”

Verlof en kwarantyn

Davel verduidelik dat kwarantyn ’n baie interessante kwessie in die werkplek word aangesien daar besluit sal moet word watter verlof hiervoor geld. Indien ’n persoon Covid-19 het en in kwarantyn moet bly, geld siekverlof.

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

Hy verduidelik dat kwarantyn egter ook vrywillig geneem kan word sonder dat iemand siek is. ’n Werkgewer kan ook natuurlik ’n werknemer beveel om self in kwarantyn te gaan, indien hy of sy moontlik in aanraking met die virus kon kom.

Volgens Davel moet die hantering van sulke kwessies steeds voldoen aan die maatstaf van billikheid en regverdigheid. Indien die persoon nié ’n mediese sertifikaat kan inhandig nie, kan dit in terme van artikel 23 van die WBDV ʼn tydperk van onbetaalde verlof behels.

Verlengde siekverlof

Davel meen sakeondernemings kan hul siekverlof aanpas, sou hulle werknemers in dié stadium tegemoet wil kom. Daar is egter tans geen voorsiening in die wetgewing gemaak vir verlengde siekverlof nie en dus geen plig op die werkgewer om dit te betaal nie.

Volgens Bester kan sakeondernemings ook altyd werknemers se werkure afskaal te midde van die pandemie. Dit sal egter beteken dat personeellede ’n kleiner salaris verdien. Die verlies kan egter van die Werkloosheidsversekeringsfonds geëis word, sê hy.

Personeel kan egter nie tydelik afgelê word nie aangesien dit as onbillike ontslag sal geld. Aflegging is die laaste opsie, meen Bester.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Carina ·

Dit is vir baie besighede heeltemal onmoontlik om personeel van die huis af te laat werk. Wat van plekke soos garages en ander werkswinkels waar 80% van die werk hande arbeid is om goed te herstel? Kantoor personeel kan ook nie die werk daaraan verbonde van die huis af doen nie, jy moet daar in die werkswinkel wees om te weet wat aangaan. As dit nie gebeur nie, kom daar geen geld in nie. So niks kan betaal word nie, insluitend salarisse. So dan kan ons maar permanent ons deure sluit. Die regering laat klink dit asof werkgewers ‘n oneindige put vol geld het om vir die volgende maand toe te sluit en nog steeds betalings te doen asof daar niks fout is nie. Dink die regering die bank gaan maar sê dis okay, jy hoef nie die maand jou lening terug te betaal nie?
Ons kan nie dat die virus die land tot stilstand bring nie. SA kan dit eenvoudig nie bekostig nie, ons ekonomie is klaar in sy tjops soos dit is. Mens kan maar net sover soveel moontlik doen om jou personeel veilig te hou.

Niné ·

Dis presies wat die banke moet doen. Stop vir n paar maande huislenings, motorlenings, kredietkaarte ens todat mense weer tot normaal kan terugkeer. Dit sal al klaar baie help.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.