Alma-oproer: Gemeenskap eis ANC-raadslid se kop

Ontstoke inwoners vandeesweek buite Alma. (Foto: Verskaf)

Gemeenskapslede van ʼn informele nedersetting in Alma in Limpopo eis hul wyksraadslid se bedanking terwyl die plaaslike munisipaliteit vandeesweek moes bontstaan om gemoedere te kalmeer.

Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, het Donderdag aan Maroela Media gesê die inwoners van ʼn nedersetting van sowat 150 huise en ander skuilings dring sedert verlede week daarop aan dat die ANC-wyksraadslid Grace Mashiditso hulle toespreek.

Mashiditso het egter geweier om gehoor te gee aan dié versoek uit vrees vir haar lewe waarna ontstoke inwoners opgeruk het.

Maroela Media het vroeër berig paaie is Maandag met buitebande wat aan die brand gesteek is, versper waarna vier plase in die omgewing, die raadslid se huis en die munisipaliteit se plaaslike satellietkantoor Dinsdag aan die brand gesteek is.

Die inwoners is ook woedend oor die afgelope jaar se swak selfoonopvangs in hul gebied nadat ʼn selfoontoring verlede jaar in ʼn storm omgeval het.

Dié toring het reeds in April 2018 omgeval waarna die munisipaliteit sowat drie maande later vir die inwoners gratis WiFi by die satellietkantoor laat installeer het. Die nodige selfoondiensverskaffers is ook ontbied en die munisipaliteit gee aandag aan die opvangsprobleem in die gebied hoewel dit maande sal duur om op te los.

Die opvangs was dus steeds ʼn probleem en daarom het die satellietkantoor ook Dinsdag onder ontstoke gemeenskapslede deurgeloop.

Van Staden het te midde van die onluste ʼn vergadering met die hoofswepe van die ANC, EFF en die DA byeengeroep waarna hulle die gemeenskap Woensdag toegespreek het.

Een van die plase wat aan die brand gesteek is. (Foto: Ian Cameron/Facebook)

Hiér moes Van Staden mooi verduidelik dat die munisipaliteit nie die mandaat het om Mashiditso af te dank soos die gemeenskap eis nie. “As burgemeester het ek nie die mag om ʼn verkose verteenwoordiger te verwyder nie,” verduidelik sy.

Van Staden vra dus dat inwoners die toepaslike politieke strukture in hul griewe benut en dit onder die ANC se aandag bring. Dié party het Mashiditso in 2016 aangestel.

“Geweld, vernietiging en intimidasie is nooit die antwoord nie.”

Sy verduidelik dat die plase wat vandeesweek deurgeloop het niks met die raadslid óf die selfoontoring te doen het nie. “Hulle wou net aandag trek.”

Drie verdagtes het tydens vandeesweek se onluste op aanklagte van openbare geweld in die hof verskyn. Die munisipaliteit asook Mashiditso het ook sedertdien sake van brandstigting by die polisie aanhangig gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

wraggies ·

Die mense verantwoordelik vir hierdie anargie moet onmiddelik inhegtenis geneem en aangekla word en voor ‘n hof verskyn.

Keelvol ·

Dit is nie net die inwoners van die nedersetting wat met sein sukkel nie. Sedert die toring omgeval het sukkel almal in die omgewing .
Om op die plaas te wees sonder behoorlike selfoon sein is nie goed nie. Van Telkom is daar nie sprake nie. Hulle het jare gelede reeds opgehou met instandhouding van lyne. Hier is nie meer Telkom nie.
Ons het dus dieselfde griewe as hulle, eintlik meer want ons het nie gratis wi-fi nie.
Al die gepraat en regte kanale volg het nog nie gehelp nie.
Die brandstigting veroorsaak baie skade. Al die boere in die omgewing spandeer tyd om die brande te blus.Jy kan mos nie dat jou medeboer se goed afbrand nie. Die boere dra self die koste van diesel , toerusting en arbeid wat moet help.

chrisjan ·

Daar hoort ‘n gesamentlike eis vir brandbestryding kostes aangegaan deur boere, na brande opsetlik deur “betogers” veroorsaak is, teen die regering ingestel te word.

Slagyster ·

Stadig maar seker verander hierdie streek ook in ‘n derde wereldse omgewing en raai wat die ANC is ook weer by hierdie saak betrokke, volgens die berig. Nog ‘n mislukking !!! Sterkte vir die boere en handelaars wat onskuldig moet deurloop. Hier in die groot stede, maar ek glo ook op die platteland is alles gekriminaliseer en ons weet nie meer wie vriend of vyand is nie, totdat jy beroof of aangeval word. Al wat jy in die stede hoor is, “is jou deur gesluit?, draai toe jou venster!, jy moet obserweer as jy geld trek of stilhou by vierrigtingstop! en in die baie gevalle word verkeersreel nie meer gehoorsaam nie.

Deon ·

Die ink van die laaste verkiesing is nog nie behoorlik droog nie. Weereens het hulle vir die ANC gestem en weer word daar gebrand en betoog oor dienslewering. Sekeres kan en wil nie leer nie.

Lynette ·

Voor mense, wat so gou gou goed afbrand wat nie aan hulle behoort nie, forseer word om vir die skade te betaal, sal niks ophou nie. Niemand word verantwoordellik gehou vir enige skade, diefstal of korrupsie nie, van regering tot heel onder, so hoe dink julle sal mense leer dat jy verantwoordelik is vir jou aksies? Dat jy moet betaal as jy skade veroorsaak. Voor dit nie aan hulle sakke raak NIE, sal hulle nie leer nie!!!!!

JR ·

Dit is hoekom hulle vir die ANC stem dan mag hulle mos doen wat hulle wil net wit en buitelanders mag nie die wet oortree nie

Alida ·

As die stadrade net hul werk doen sal daar geen betogings wees nie. Die mense is kwaad en gatvol vir beloftes.

LD ·

Ons boere op Alma sukkel ook maar met die grondpad want ons moet produkte en lewendehawe vervoer, en dit is nog ‘n rede wat die mense moeilik maak. Ek kan verstaan dat die stof deur die woongebied gesondheids probleme inhou.
Die probleme moet aangespreek en opgelos word .

Tiger ·

Waarom is MM doodstil oor die skade wat boere gely het deur die veldbrande wat doelbewus gestig was ???Partydigheid gaan MM sink.

Grobler Steyn ·

Is dit nou die mense wat so hartstoglik lief is vir die grond en hul selfrespek sal herwin deur te herkonnek met die aarde??? die hemel behoed ons van hierdie demone

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.