Almal hou asem op oor brandstofprys

(Foto: Maroela Media)

Terwyl Suid-Afrikaners asem ophou vir ʼn aankondiging oor volgende maand se petrolprys, meen politici die regering kan heelwat doen om die petrolprys met tot R6 goedkoper te maak.

Die departement van minerale en energie moet voor Woensdag sê hoeveel Suid-Afrikaners in Augustus vir brandstof moet opdok.

“Die enigste aankondiging wat die ANC‑regering moet maak met betrekking tot die petrolprys volgende week, is om ʼn einde aan oordadige heffings te maak en só die prys van brandstof met R6 per liter te verlaag,” het Kevin Mileham, die DA se skaduminister van energie, Saterdag gesê.

Hy sê aanduidings dat die regering beplan om die petrolprys met “net” R1 te verlaag, is lagwekkend. Maroela Media het vroeër berig dat Suid-Afrikaners ʼn beduidende verlaging in die petrolprys kan verwag, nadat die prys van Brent-ruolie Dinsdag in die omgewing van $105 per vat gedraai het, ’n gemiddelde verlaging van sowat 10% vergeleke met die gemiddelde prys vir Junie.

Mileham sê die skade wat berokken is deur ʼn buitensporige brandstofprys, sal nie ongedaan gemaak word deur klein verlagings in die prys na aanleiding van ʼn daling in die olieprys nie.

Dr. Wynand Boshoff, die VF Plus se woordvoerder oor minerale hulpbronne en energie, sê oor die afgelope maande van rekordpryse is verskeie voorstelle om prysstygings in toom te hou, gemaak. Hoewel die prys van brandstof nie ten volle binne die regering se beheer is nie, het hy tog ʼn wesenlike invloed daarop.

“Die grootste deel van die petrolprys is die basiese prys. Dit is hoofsaaklik op die waarde van die rand teenoor die Amerikaanse dollar, sowel as die internasionale prys vir Brent ruolie gegrond. Dit is ook die deel wat van maand tot maand wissel.

Dit is juis hiér wat die party meen die regering die grootste verskil kan maak.

“Hoe laer die waarde van die rand is, hoe duurder kos brandstof vir Suid-Afrikaners. Laer ruoliepryse kan slegs tot voordeel van Suid-Afrika wees as dit nie met verlaagde waarde van die rand gepaard gaan nie. Wanneer ʼn mens in ag neem dat die waarde van ʼn land se geldeenheid as barometer vir internasionale vertroue in die ekonomie is, is dit duidelik watter verskil die regering werklik kan maak,” sê hy.

“Ekonomiese beleid wat vertroue skep, arbeidsbeleid wat tot werkskepping lei, stabiliteit wat die land uit rommelstatus lig en die afskaffing van transformasiegedrewe inmenging in die ekonomie, kan die rand se waarde herstel.”

Deregulering nie die antwoord

Daar was die afgelope ruk verskeie oproepe dat die prys van petrol gedereguleer word om groter mededinging te verseker. Boshoff sê egter indien in ag geneem word dat alle vervoer en winste minder as R4 van die algehele brandstofprys uitmaak, die vraag ontstaan hoeveel verskil deregulering op hierdie vlak kan maak.

“Dit kan wel tot groter konsentrasie in die bedryf lei en landelike handelaars dwing om pryse op te skuif, terwyl werksverliese onvermydelik kan wees.

“Deregulering is ʼn goeie opsie in ʼn betreklik vrye mark. In Suid-Afrika is daar egter min ondernemings met die vermoë om brandstof in te voer en te berg en slegs een raffinadery. Hierdie ondernemings het ʼn oorheersende posisie teenoor groot- en kleinhandelaars wat beteken dat deregulering die kwesbare deel van die waardeketting nog meer kwesbaar sal maak. Die sowat sestigduisend brandstofjoggies kan as gevolg daarvan nuwe werk soek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.