Alomgeliefde dominee sterf: ‘Hy het mense hoop gegee’

Ds Henk Calitz (Foto: Verskaf)

“Hy het altyd ’n glimlag op sy gesig gehad. Dit het mense hoop gegee.”

Só sal die Carletonville-gemeenskap ds. Henk Calitz (40) onthou, nadat hy Vrydagoggend tragies en onverwags oorlede is. Die gemeenskap is geruk deur hul geliefde dominee se skielike heengaan. Op versoek van die familie maak Maroela Media nie die oorsaak van sy dood bekend nie. Die publikasie kan wel bevestig dat hy nie weens Covid-19 oorlede is nie.

Calitz is in Carletonville gebore en sy lewe was met dié gemeenskap verweef. Hy was die afgelope nege jaar die leraar by die Nederduitsch Hervormde Kerk Carletonville.

Elmarie Myburgh, die administratiewe beampte van die kerk, sê Calitz se skielike afsterwe was ’n groot skok vir die gemeente. Myburgh sê sy gemeentelede het opgekyk na hom as kerkleier.

“Hy het gehelp waar hy kan en altyd tyd gemaak om na mense se probleme te luister,” vertel Myburgh.

Calitz was bekend onder die Carletonville‑ en Fochville-gemeenskap vir sy bereidwilligheid en vriendelikheid. Hy was onder meer betrokke by die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) op die dorp en het die laaste sewe jaar as voorsitter van Laerskool Dagbreek se beheerliggaam gedien. Calitz het self ook jare gelede skool gegee.

“Hy was nie net ’n voorsitter van die beheerliggaam nie, maar ook ’n bemiddelaar. Hy het al die kwessies met ’n rustigheid en kalmte hanteer,” vertel Cindy Smith, die finansiële voorsitter van die beheerliggaam.

Ds Henk Calitz en sy vrou Martie (Foto: Facebook)

Calitz word oorleef deur sy vrou, Martie, en vyf kinders. Sy ouers woon ook steeds in die omgewing.

“Hy sou sy laaste bietjie gee om ander te help wat dit nodig het sonder om twee keer te dink. Hy was ʼn ikoon, ’n regte staatmaker wat altyd geglimlag het, of dit goed of sleg gaan,” vertel Martie.

“Vir ons oudste dogter, Kyla (18), het haar pappa haar geleer om sterk te wees en alles wat ons aanpak tot die beste van ons vermoë te doen. Vir Carli (14) was hy ons kaptein, haar held en beste vriend. Vir Drikus en Benja (9), ons tweeling, was hul pappa hulle held,” vertel Martie.

Martie sê Calitz het sy stempel afgedruk waar hy gaan. Medelye het sedert Calitz se dood op Facebook ingestroom.

Maroela Media het einde April berig oor Calitz wat vir polisiebeamptes by ’n padblokkade gebid het toe hulle hom afgetrek het.

“En daar staan ek tussen hulle. Doen ʼn gebed in my beste Engels, wat juffrou Susan Brits en meneer Deon Le Roux my geleer het. Ek sê Amen. Elkeen van hulle kom na my toe. Skud my hand. Sê dankie en ‘May the Lord bless you and your family’,” het Calitz geskryf.

Smith sê Calitz laat ’n massiewe leemte in die dorp.

“Hy was alomteenwoordig. Jy het altyd hom in sy bakkie in die dorp sien rondry. Op pad iewers heen. Op pad om iemand te gaan bystaan of help. Hy het hoop gebring waar hy gaan. Ek kan nie die dorp nou indink sonder hom nie,” vertel Smith.

Ds Henk Calitz saam met een van sy hokkiespanne (Foto: Facebook)

Smith sê Calitz was ’n bok vir sports en het kerkbasaars altyd prettig probeer maak. “By verlede jaar se kerkbasaar as fondsinsamelingsinisiatief, het Calitz hom in ’n hok laat toesluit en mense kon ‘borggeld’ betaal om hom uit te kry. Hy het heeldag in die hok gesit om geld vir sy kerk in te samel,” vertel Smith.

Calitz het ook hokkie in sy vrye tyd afgerig. Hy het Hoërskool Carletonville en Laerskool Dagbreek se eerste meisieshokkiespan afgerig en was ’n afrigter by die Gryphons-hokkieklub Potchefstroom.

“Sy liefde en passie vir hokkie het deur sy afrigting gestraal. Hy het sy spelers motiveer en hulle het hom as mentor beskou,” vertel Smith, wie se dogters by hom hokkieafrigting gekry het.

Calitz se begrafnis vind op 30 Junie in Carletonville plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Stofdonkie ·

En so lees ons die hele artikel om teen die einde steeds te wonder hoe die Dominee oorlede is. Is hy oorlede van korona of hoekom word dit nie genoem nie?

Megan Swart ·

Dagsê Stofdonkie
Op versoek van die familie word die oorsaak van sy dood nie bekendgemaak nie. Die oorsaak was wel nie Covid-19 nie en die artikel is bygewerk.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Linda ·

Die 4e sin in die artikel sê sy familie het versoek dat die oorsaak van sy dood nie bekend gemaak word nie….

Magda ·

Ek ook nou gewonder waaraan die Dominee oorlede is, baie sterkte aan sy familie en vriende.

Megan Swart ·

Dagsê Magda
Op versoek van die familie word die oorsaak van sy dood nie bekendgemaak nie.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Linda ·

Die 4e sin in die artikel sê sy familie het versoek dat die oorsaak van sy dood nie bekend gemaak word nie….

Smurf ·

Baie tragies. Sou ook graag wou geweet het wat die oorsaak was.

Megan Swart ·

Dagsê Smurf
Op versoek van die familie word die oorsaak van sy dood nie bekendgemaak nie.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Linda ·

Die 4e sin in die artikel sê sy familie het versoek dat die oorsaak van sy dood nie bekend gemaak word nie….

Oujongvrou ·

Die familie wil seker nie uitsaai waaraan hy dood is nie. So hou op wonder en gee simpatie. Hele gemeenskap is in rou gedompel. My hart bloei vir hulle.

Daleen ·

Ai die mense wat tog so graag wil weet waaraan is iemand oorlede is uit pure nuuskierigheid en om dan daarna te kan skinder. My innige simpatie aan die familie en mag die Liewe Heer julle vertroos in die moeilike tyd.

Willem ·

Ag ontspan Daleen, mense is van nature nuuskierig ALMAL wonder altyd ek is seker JY OOk, mens vra dit ALTYD as jy hoor enige iemand is dood, nie ALMAL skinder dan daarna nie, genade.

Daleen ·

Nee Willem ek wonder toe NIE! Want ek was in die situasie – my seun is in motorongeluk oorlede en dadelik is daar geskinder en gewonder of daar drank betrokke was. En NEE daar was nie. So tot JY in so situasie is/was los jou kommentaar vir jouself. En genade vir ‘n man is jy baie sensitief oor skinder – ontspan. En inplaas van nature nuuskierig wees wees eerder van nature simpatiek en respekteer die familie se wense in die baie moeilike tyd.

Sons ·

Ai hulle se dan in die berig hulle kan bevestig dis nie van Covid 19 nie

Japsnoet ·

Nee hy is beslis nie oorlede aan Covid nie, en ander mense se privateheid en seer het niks met niemand anders te doen nie. As jy in sy gemeente was sou jy geweet het wat gebeur het so mense hou op om sensasie te soek uit ander se seer. Gee bietjie respek vir die familie en vir Ds Henk al is hy nie meer met ons nie. Mag Jesus sy familie se trane afvee en hul deur hierdie moeilike seer tyd dra. Sterkte

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.