‘Als in plek’ vir NGV

Dr. Joe Phaahla (Foto: Kopano Tlape/GCIS)

Dit kom voor of die beoogde Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) nie meer keer het nie en die instelling van dié wet kan dalk vanjaar al begin.

Dr. Joe Phaahla, minister van gesondheid, het tydens sy debatsrede Dinsdag die parlement bedank omdat hulle die NGV-wetsontwerp goedgekeur het. “Dit sal in twee oorblywende fases in werking gestel word, van 2024 tot 2026 en dan van 2026 tot 2028.”

Die fokus is volgens hom tans op die daarstel van NGV-instellings en -strukture, soos onder meer die direksie en uitvoerende hoof, asook verskeie sleutelkomitees van die NGV-fonds. “Terselfdertyd sal die versterking van die diensleweringsplatform vir gesondheid bespoedig word.”

Volgens Phaahla is die gesondheidsektor ná die Covid-19-pandemie “goed op die herstelpad”.

“Ons hoofdoel is nou om die fondament te lê vir universele gesondheidsdekking, waarvoor daar in artikel 27 van die Grondwet voorsiening gemaak is.”

Pres. Cyril Ramaphosa het ook Donderdagaand in sy staatsrede gesê die NGV-wetsontwerp lê tans op sy lessenaar en dat hy net “ʼn pen soek om dit te teken”. Volgens die president sal die NGV gratis gesondheidsorg in openbare en private gesondheidsfasiliteite vir alle Suid-Afrikaners verskaf.

Volgens Phaahla sal die NGV baie voordele inhou vir Suid-Afrikaners. Die stelsel sal, volgens die minister, onder meer werk skep vir nuwe dokters wat klaar studeer het.

Hy het spesifiek verwys na vordering wat gemaak is met die opleiding van dokters. Veral die Nelson Mandela Fidel Castro-program in Kuba is opgeskerp om meer gegradueerdes vir die NGV te lewer, aldus Phaahla.

“Die gegradueerdes het oor die afgelope 10 jaar byna verdubbel. In 2014 het 1 338 gegradueerdes met hul internskap begin, terwyl  2 511 in 2022 begin werk het. Vanjaar is 2 210 studente in hul finale jaar van mediese studie.”

Die regering het wel skynbaar nie tans plek vir al dié nuwe dokters nie. Maroela Media het vroeër berig sowat 800 pas gegradueerde dokters wag nog om deur die departement in ʼn openbare hospitaal geplaas te word, ʼn probleem wat jaarliks voorkom.

Phaahla het ook op kritiek van sprekers gedurende die debat gereageer en gesê die NGV sal nie ʼn “staatsonderneming soos Eskom” word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

30 Kommentare

Jannie ·

Ek is self in verpleegkunde en al wat ek kan sê is dit gaan nag word met tyd. Ons sal maar terugkeer na boererate en selfhelp.
Ons privaat hospitale het elk geval so agteruitgegaan. Was Desember in Privaat H in Bloemfontein vir week en hulle sien my nie weer nie. Ek vrek eerder in my eie huis.

Minnie ·

Lagwekkend…..
Ek wil graag sien hoe huidige spesialiste en privaat hospitale by die besigheid gaan inpas.
Ek het n klein operasie in n MediClinic November gehad. Een nag daar geslaap……met goedkeuring van ons mediese fonds wat ons R8000 per maand kos.
Operasie was R81 400. Ons moet net onder R29 000 inbetaal vir teater items wat gebruik was.
Hier kom n groot gemors…..en ons gaan met ons lewens betaal.
Kyk hoe lyk provinsiale hospitale? Dis n gemors.
Ek stem saam Jannie. Vrek eerder tuis !

Yolandie ·

Die regering gaan seker die belasting met 50% verhoog om die NGV tot stand te bring. En so gaan die 1 derde vd Suid-Afrikaanse belasting draers skielik nou moet hoes sodat almal na dr’s en hospitale kan gaan. Dit is ‘n totale flop om so iets tot stand te bring in 1ste wereld lande soos Kanada en die VSA. Maar nou dink hulle dit kan werk in ‘n 3de wereld land. Soos Jannie hierbo sê selfs die privaat hospitale se standaard van sorg is agteruit. Die begin van die einde.

GWS ·

Hier kom groot marakas as die NGV ingestel word. Die wat nou mediese fondse het gaan vir die wat nie kan betaal nie instaan. Net nog ‘n melkkoei vir die regering. Ons huidige staatsgesondheid stelsel is pateties en werk nie, hoe gaan die nuwe stelsel werk!!! Ek sien hier kom ‘n groot boggerop!

miraclealigner ·

Daar moet ‘n wetgewing wees dat daar 6maande voor verkiesings GEEN nuwe wette ens kan geimplementeer word nie – dié klomp los die probleem vir die inkomende regering, en die kiesers is diegene wat daaronder sal ly….

Papsak ·

Lagwekkend huh is n horror hoe klinieke en hospitale operate die plekke is vuil stink hospitale nie eers beddens of water nie krane af geroes pasiente moet in skottels op hille beddens sit en was hoe pateties kan jy nou kry in apartheids jare was hospitale en klinieke silwer skoon jy het badkamers gehad toilette met deure asn nou is daar nie eers meer deure aan nie nou hoe nou is dit vooruitgang ek dink liewers agteruitgang sies!!!!!!

Manie ·

Indien die wet deurgevoer word en ek nie meer dokters en hospitale van my keuse kan besoek nie, kanselleer ek my mediese fonds dadelik, want dit maak geen sin om vir ‘n privaat diens te betaal terwyl ander verniet op my rug gaan ry nie.

Anel ·

Die begin van die einde! Die spul dink net aan al die geld wat van iewers af moet kom en nie wat daarmee gedoen moet word nie. Daar is nie geld om die bestaande staatshospitale en dokters te betaal nie, hoe dink hulle gaan dit nou beter wors? Daar is hoeveel verpleegpersoneel en dokters sonder werk en nou wil hulle ‘n spul dom kubane op ons loslaat???? Hierdie moet beveg word met al wat ons kan!!! Dit werk nie in engeland of enige van die eertste wêreld lande nie!!!! Hoe verwag ‘n tiende wêreld dat dit beter by hom gaan werk!!!!!

Aai ·

Alles is net gemik om stemme te kry soos altyd maar nie rerig iets te doen.So nou gaan ons wat duisende rande betaal vir medies ook in rye sit soos die wat die sisteem gebruik en nie bydra.

Ruby ·

Phaala, kry asb eers “als in plek” by die kliniek op die hoek, julle kan DIT nie eens doen nie!

hendrik ·

Shame die hele regering dink en doen soos Escom hierdie gaan maar net ook in die ry staan ou Paal moet maar lekker room hy ry seker nog nie n MB nie, Sal een moet kry

BELINDA ·

Net soos alles anders wil julle goed wat werk op dons – soos privaat skole – nee julle wil beheer daaroor hê, die privaat sektor moet inspring om alles wat julle opgeneuk het te herstel – nou ook die medies….

Die grootste probleem is al die beloftes wat julle maak om stemme te werf – soos die “Tydelike” toelae aan arm mense -R350 wat julle beloof om permanent te maak – verniet tersiere onderrig … gratis gesondheid sorg – al die goed moet deur iemand gefinansier word – die belasting betalers….

Althes ·

Absurd! SA het genoeg dokters, waarvoor nog dokters invoer van Kubane!

Martie Smartie ·

Ek dink die stelsel gaan so vrot bestuur word, dinge gaan in 10 jaar dieselfde bly. Eerstens gaan daar ‘n paar hofsake kom tot in die grondwetlike hof. Want dis baie edel om vir almal gratis gesondheid sorg te wil gee. Dit is reeds daar maar die staat het sy eie hospitale tot in die afgrond in bestuur. Nou wil hy inbreuk maak op mediese fondse, privaat instansies en die publiek se regte. En ek dink die grondwetlike hof gaan hierdie stelsel fyn kou en uitspoeg. Die eerste groot hekkie om te oorkom is: waarom ruk die staat nie sy eie fasiliteite reg nie? Jy kan nooit vir ‘n privaat instansie dwing om gratis dienste te lewer of teen so ‘n verlaagde tarief dat hy bankrot gaan word nie. Dan sit jy met ‘n bankrot staat stelsel en ‘n bankrot privaat stelsel. Maar tipies ANC, is daar van breinkrag geen sprake nie. Die hele stelsel is niks anders as nasionalisering van die gesondheidsbderyf nie. Naakte onbeskaamde Kommunisme en Sosialisme met ‘n stewige skeut Korrupsie en Afrika Wanbestuur daarby. Die African Dream. ‘n Dodelike Konkoksie.

willie ·

Yup, hier kom ons moelikheid en ons almal weet wie die voordeel hieruit gaan skep!!!!!

Karoo ·

Natuurlik is alles in plek… om. oor te neem, en te vernietig, soos alles voor dit… en na dit sal wees. Gesindheid van afbreek.

Jacobus ·

Ek wonder of hulle al ‘n impakstudie gedoen het oor die hoeveelheid mediesefondswerknemers en privaat mediesepraktyke wat hulle mense sal moet laat gaan agv die NGV? Kyk hoe lank vat die vergoedingskommissaris om eise aan dokters ens uit te betaal? Tot hulle gebruik 3de partye om die geld voor te skiet en dan vorder die party die geld in. Daar gaan ook werksverliese kom… Wat beteken dit alles? Stygende werkloosheid.! Die ANC kan dan nie eers huidige interns plaas nie so hoe wil hulle NGV laat werk. En CR, ai tog, is al wat ek op die platform kan sê anders skop hulle my af, maar hy weet regtig nie wat ons weet nie en kyk na SONA wat gebeur met die markte, dollar ens wat weer beteken brandstof gaan op volgende maand met +-R1.58 wat mense weer onder druk plaas, inflasie laat styg, rentekoerse hoog hou ens. Hier is baie groter moeilikheid oppad as wat ons eintlik besef.

Hester ·

Sê my, beteken dit dat die wat tans privaatmediese fondse het ook moet betaal vir al die buitelanders wat gratis mediese behandeling kry? Kan nie werk nie.

Marous ·

Stem saam Manie. Daar is geen doel om aan ‘n mediese fonds te behoort nie. Totale inploffing.

Samuel ·

Ek wonder wat rook of drink hierdie kamtige politici om sulke snert kwyt te raak. Gaan nooit werk nie en die ministers gaan steeds oorsee vir hulle mediese behandeling.

Jacobus ·

Soos verwag – heel eerste – die miljoene per joppies vir gekose kaders. Laat die papskep begin!

AREND1 ·

Oo en nou wil hulle kubaanse dokters kry om hier te werk,want hulle is te sleg om dokters in suid afrika op te ly.Of wil hulle net toi-toi en hulle wil nie leer nie.

Cassie Carstens ·

Hoe kan die storie al ver gevorder wees as die president nog nie eers geteken het nie. Sodra hy teken word onmiddellike hofaksies teen die regering ingestel – ek kan nie insien dat NGV gou sal begin nie. Sodra hofaksies ingestel word, moet die hele trein eers stop.

SjN ·

Al plek wat nog geld het en oor is wat geplunder kan word deur die klomp kaders.

Jacobus ·

Hierdie word ‘n geveg tussen opgeblase ego’s. Dat die land verder in die afgrond gaan is ‘n bysaak. Solank die kaders kan skep is funksionalteit ‘n absolute bysaak. Moet net nie die honger draadsitters in privaat sektor miskyk nie.

Danie ·

Martie Smartie, ek dink ons leef in ‘n droomwêreld as ons dink die Konstitusionele Hof gaan hierdie NGV storie uitgooi. Kyk maar net na die samestelling van die hof, dan praat ons weer!! Die saak gaan ook as prioriteit beskou word en aangehoor word voor enige ander sake. Cassie Carstens, het jy al gesien hoe vinnig loop rampie se “bullet” trein? Hierdie saak gaan vinniger op hofrolle geplaas word as wat ons dink en dit gaan nie, soos met huidige sake, vir jare uitgestel word nie. Die regte mense sal gebruik word om die “klagtes” aan te hoor en als te bespoedig!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.