Altesaam 1626 verdagtes vas tydens Vrystaat-klopjagte

Argieffoto: SAPD

Argieffoto: SAPD

Die Vrystaatse polisie het Vrydag gesê 1 626 mense is in die provinsie in hegtenis geneem op verskeie aanklagte wat insluit moord, verkragting, roof, aanranding en dwelmbesit.

Brig. Billy Jones, polisiewoordvoerder, het gesê die mense is sedert die begin van Oktober in hegtenis geneem as deel van die polisie se Operasie Fiela om onwettige aktiwiteite in die Vrystaat hok te slaan. “Hierdie verdagtes is gedurende polisie-klopjagte wat in die vroeë oggendure uitgevoer is, in hegtenis geneem,” het hy gesê.

“Verskeie aanklagte is aanhangig gemaak, wat insluit moord, poging tot moord, huisbraak, sakeroof, aanranding met die doel om ernstig te beseer, dronkbestuur, onwettige besit van ʼn vuurwapen en ongedokumenteerde mense. Daar is ook op verskeie items beslag gelê soos 12 vuurwapens, 201 gevaarlike wapens, 14 gesteelde voertuie, 140 kg dagga en 2 539 nagemaakte items,” het Jones gesê.

Altesaam 1 773 verkeers- en munisipale boetes is ook tydens hierdie klopjagte uitgereik.

“Ons sal voortgaan om kriminele elemente uit ons gemeenskappe te verwyder om te verseker dat ons provinsie die veiligste in die land is,” het lt.genl. Thabethe Mpembe, provinsiale polisiekommissaris, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

leon ·

Goeie werk maar kan Jones vir ons se hoeveel ander arrestasies is gemaak wat nie deel was van operasie Fiela nie want ek is bewus daarvan dat hulle die gewone daaglikse arrestasie ook insluit by sulke operasies om goed te lyk

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.