Amazon-belegging in Kaapstad ‘goeie nuus’

Amazon se hoofkantoor in Seattle in die VSA. (Foto: John Moore/Getty Images via AFP)

Die Amerikaanse multinasionale e-handelsmaatskappy Amazon gaan sy Suid-Afrikaanse hoofkantoor setel in ʼn multimiljardrandse ontwikkeling in Kaapstad wat na verwagting duisende werksgeleenthede sal skep. Die belegging is uit verskeie oorde verwelkom en kenners sê dit beteken kapitaal en werkskepping vir Suid-Afrika.

Amazon het in 2004 reeds ʼn kantoor in Kaapstad gevestig en in 2015 ook ʼn kantoor in Johannesburg geopen. Sy hoofkantoor sal nou deel vorm van die enorme River Club-ontwikkeling in Observatory.

Die gemengdegebruik-ontwikkeling gaan voort ná jare lange teenkanting deur omgewingsaktiviste en erfenisbeskermingsorganisasies.

Amazon sal die ankerhuurder van die ontwikkeling wees.

Die ontwikkeling word bestempel as ʼn groot hupstoot vir Kaapstad se ekonomie terwyl die uitwerking van die Covid-19-afsonderingstyd steeds gevoel word.

Die Stad Kaapstad verwag dat 5 239 werksgeleenthede tydens die konstruksiefase geskep gaan word. Die projek sal ook tot 19 000 onregstreekse en sekondêre werksgeleenthede skep.

Benewens Amazon wat hom daar gaan vestig, sluit ander gedeeltes van die ontwikkeling in kantoorruimte van 59 600 m², kleinhandelruimte van 20 700 m², ʼn hotel van 8 200 m², ʼn gimnasium van 4 100 m², asook restaurante, konferensiegeriewe, skole en ʼn ruimte vir byeenkomste.

Volgens die ontwikkelaar word 20% van die ruimte vir blyplek toegewys aan bekostigbare behuising.

Die ontwikkeling word in drie fases gedoen, met bouwerk wat tot vyf jaar kan duur. Die ontwikkeling van die eerste fase sluit in vloeroppervlakte van 60 000 m² vir gemengde gebruik, terwyl fase 2 die Amazon-hoofkantoor insluit.

Belegging verwelkom

Hugo Pienaar, ʼn senior ekonoom verbonde aan die Buro vir Ekonomiese Ondersoek by die Universiteit Stellenbosch, sê die belegging is ongetwyfeld ʼn positiewe verwikkeling vir Suid-Afrika.

“Dit is kapitaal wat Suid-Afrika invloei en ʼn paar duisend mense wat in diens geneem gaan word. Dit is ʼn baie positiewe stap.

“Hierdie ontwikkeling behels regstreekse buitelandse investering: Dit is ʼn belegger wat ʼn kantoor hier kom oprig. Wat Amazon hier doen, is eintlik die soort belegging wat Suid-Afrika wil hê – direkte buitelandse beleggings.”

Pienaar sê die stap kan nie noodwendig beskou word as ʼn breër aanduiding van vertroue in Suid-Afrika nie, aangesien die sake-omgewing hier steeds taai bly. “Daar is baie regulasies waaraan maatskappye moet voldoen en daar is groot mededinging om kapitaal te lok. Maatskappye kyk in watter lande hulle die beste opbrengs kan kry en dikwels ook waar die minste burokratiese rompslomp is.”

Pienaar sê daar was die afgelope paar jaar verskeie beleggings in die IT-omgewing in Kaapstad en ʼn uitbreiding na ander sektore sal ook verwelkom word. “Daarvoor gaan ons ʼn meer sakevriendelike omgewing moet skep om hierdie maatskappye te lok.”

Hy sê ʼn belegging soos dié deur Amazon – groot kantoorruimte en die indiensneming van mense – dui op ʼn sterk verbintenis tot die land.

Dean Macpherson, die DA se woordvoerder oor handel en nywerheid, het Amazon se besluit ook verwelkom.

“Die aankondiging benadruk dat Kaapstad hom aan die voorpunt van belegging en ekonomiese ontwikkeling in die land gevestig het, terwyl plaaslike kwessies ook in gedagte gehou is.”

Hy sê die ontwikkeling gaan talle ekonomiese, maatskaplike en omgewingsvoordele vir die gebied inhou en help om nuwe lewe in die plaaslike ekonomie te blaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kosie ·

Hoekom bou hulle dit nie eerder in Soweto nie; hulle is dan so “woke”?

Edward Donald ·

Goeie nuus vir ons ekonomie, maar met inmenging van onse med, klein & micro sakemense & BBBBEEEEEE sal die projek heelwat langer neem om te voltooi as wat beplan is.
Sterke AMAZON. O! So bietjie raad….minder glas gebruik in die bou strutuur. Hier in SA is baie klip gooiers

capie ·

Groot surprice wag op Amazon. Hulle moet nog die helfte van hul aandele aan parlementslede van anc en eff afstaan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.