Ambagslui ‘ysters’ wat wêreld se wiele laat draai

Danksy ‘n beurs het Delarey van der Merwe (19) pas met sy ambagsopleiding in pas-en-draai op die Sol-Tech Plaas begin. (Foto: Sol-Tech)

Hy is ʼn ambisieuse jong ambagsman en wenner van die #JouYster-studiebeurslening. En danksy dié beurslening het Delarey van der Merwe (19) pas met sy ambagsopleiding in pas-en-draaiwerk op die Sol-Tech Plaas begin.

Van der Merwe pak dié studie met groot entoesiasme en motivering aan; dit is sy doelwit om eendag sy eie onderneming op die been te bring. Sy eerste dag op die Sol-Tech Plaas was die begin van sy droom, vertel Van der Merwe. En dit was régtig opwindend. Dit was egter nie sy eerste bekendstelling aan die ambagswêreld nie.

Delarey het reeds vroeg in sy matriekjaar die geleentheid gekry om by ʼn ingenieurswerkswinkel op Brits te werk. Die eienaar van Hanzel, die ingenieurswerkswinkel, het Delarey onder sy vlerk geneem en daar het sy voorliefde vir ambagswerk ontstaan.

“Soveel mense het hierdie studiereis by Sol-Tech vir my moontlik gemaak. Al die betrokke persone by Solidariteit, asook die oom by die werkswinkel wat vir my ʼn voorliefde gegee het vir die ambagsberoep. Almal het my gehelp om my droom te verwesenlik,” sê Delarey.

Hy erken dat sy studie nie moontlik sou wees sonder die Solidariteit Ambagnetwerk nie en sê hy is dankbaar vir die geleentheid wat hom op hierdie pad geplaas het. Hy streef daarna om sy eie onderneming ná afloop van sy opleiding te begin. Op hierdie manier wil hy ook geleenthede vir ander skep.

“Ek is baie dankbaar vir die geleentheid om my vakmanskap te kan ontwikkel. Ek sal hierdie kans by Sol-Tech ten volle benut en hoop om eendag ander te help soos wat ek ook gehelp is,” sê hy.

Volgens Dirk Smit, netwerkorganiseerder van die Ambagnetwerk, is Delarey die ideale kandidaat vir die beurslening omdat hy sy voorliefde vir pas-en-draaiwerk bewys het en bereid is om hard te werk en te leer.

“Die lede van die Ambagnetwerk besef ook dat jong mense mentorskappe benodig sodat hulle kan leer hoe dinge in die praktyk moet gebeur en dit makliker kan verstaan,” sê hy.

Wie is #JouYster?

(Argieffoto: Sol-Tech)

Die wenner van die #JouYster-kompetisie is só ʼn mentor vir studiebeurswenners – en benoemings vir vanjaar se kompetisie kan steeds gedoen word.

Tegnologie verander met rasse skrede en Sol-Tech sê die wêreld benodig vaardige en kundige ambagslui om die vinnig veranderende samelewing aan die gang te hou. Hierdie “ysters” is die stille helde in hierdie proses van vooruitgang en met die #JouYster-kompetisie word spesifiek hulde aan Afrikaanse ambagslui gebring.

“Ons erken die uitnemendheid en toewyding van ambagslui deur aan lede van die publiek die geleentheid te bied om hul gunsteling-ambagspersoon te benoem,” sê Smit.

Die doel van die #JouYster-kompetisie is egter nie net om uitnemendheid in die wêreld van die ambagte te erken nie, maar ook om terug te gee aan die gemeenskap deur ʼn geleentheid vir ʼn behoeftige voornemende student te skep om ʼn ambagskwalifikasie te verwerf deur die toekenning van ʼn beurslening.

“Die #JouYster-wenner maak dit moontlik deur ʼn beurslening – met behulp van Solidariteit – aan ʼn student toe te ken. Hierdie lening stel die ontvanger in staat om vir die ambag van sy of haar keuse aan Sol-Tech te gaan studeer en om uiteindelik ʼn rooiseëlkwalifikasie in die ambagswêreld te verwerf.”

Solidariteit het verlede jaar ʼn rekordgetal van meer as 1 000 benoemings ontvang en die organisasie sê die deelname van lede van die publiek dra by tot die sukses van die kompetisie. Dit stel Solidariteit ook in staat om erkenning en steun aan die beste ambagslui te gee.

  • Klik hier om ʼn ambagsman of -vrou te benoem wat jy dink ʼn uitskieter in sy of haar ambag is en ook ʼn mentor vir jong mense sal wees. Die #JouYster-benoemings vir 2024 is oop tot 26 April.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Danie ·

Verseker is hulle ysters. Hulle is die fondasie van ‘n goeie en geordende samelewing.

Hendrik ·

Groot dank aan Solidariteit!! In hd tyd van ekonomiese knelling maak u deure oop vir die toekoms van ons jeug.

Kokerboom ·

Wonderlik Solidariteit. Kanaliseer belastinggeld na tegniese opleiding en verminder gelde aan n groot gros studente wat nuttelose grade by universiteite loop

Delia ·

Presies net so, maar die manne/vroue se salarisse suig steeds aan die agterspeen in ons land

Rocco ·

Solidariteit (Soltech) maak my as ‘n Suid Afrikaner trots. Bou voort op jul sukses.

Aai ·

Stem saam jou Delia in ander lande is dit gesogde beroep en word goed betaal.

Euodia ·

Uitstekend Solidariteit! Julle maak ons as Afrikaanse SArs trots om julle in die land te hê.

SjN ·

Onthou net, geleerdheid. kennis en ondervinding kan niemand van jou wegvat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.