Ambrose Monye getuig in Chanelle Henning-saak

Ambrose Monye Foto: EWN

Ambrose Monye, een van die mans wat glo deel was van die sameswering om Chanelle Henning te vermoor, het Woensdagoggend in die Pretoriase hooggeregshof getuig.

Monye, ʼn voormalige Olimpiese atleet van Nigerië, se prokureur het gesê sy kliënt sal in sy eie verdediging getuig. Prokureur Matthew Klein het aangedui dat hy nie enige ander getuies vir Monye se verdediging sal roep nie.

Henning (26) is op 8 November 2011 in Faerie Glen, Pretoria, deur twee mans op ʼn motorfiets doodgeskiet net nadat sy haar seun by die kleuterskool afgelaai het.

Monye en sy medebeskuldigde, André Gouws, het onskuldig gepleit op vyf aanklagte wat verband hou met ʼn beweerde komplot om Henning te vermoor.

Monye het egter enige aandeel aan Henning se moord ontken. Hy sê Gerhardus du Plessis en Willem “Pike” Pieterse lieg as hulle hom beskuldig. Du Plessis en Pieterse het vroeër skuld erken op hul aandeel in die moord. Hulle dien tans elk 18 jaar tronkstraf uit.

Monye het Woensdag erken dat hy Pieterse en Du Plessis aan Gouws voorgestel het. Hy sê Gouws het hom versoek om twee wit mans te kry wat hy vir sekuriteitswerk kan gebruik.

Henning se vervreemde man, Nico, is ʼn naby vriend van Gouws.

Monye het ook erken dat hy geld en dwelms aan Du Plessis en Pieterse oorhandig het.

Monye het vroeër geweier om uit die selle te kom. Klein het aan die hof gesê sy kliënt is ontsteld. “Die probleem is my kliënt se woede. Hy baklei, hy wil nie uit die selle kom nie,” het hy gesê. Monye het gesê hy het twee jaar lank in die tronk spandeer en het Henning of Nico nie geken nie. “Ek het hom nog nooit ontmoet nie. Ons sal mekaar nie kan uitken nie,” het Monye gesê.

Nico was nog nooit in die hof nie en Monye het gevoel indien ʼn vrou vermoor is, moet haar man in die hof verskyn, het Klein gesê. “Hy wil Nico Henning in die oë kyk. Ek het aan hom gesê dit is nie moontlik nie. Hy het toe aan my gesê hy bly dan liewer in die tronk.”

Klein sê sy kliënt se uitbarsting is vanweë ʼn koerantberig waarvolgens die staat aangedui het dat hy sy saak afgesluit het. “Hy het nie gisteraand geslaap nie. Hy is ontsteld oor die hele situasie. Hy is ook baie dors. Ek weet nie of dit ʼn mediese toestand is nie.”

Daan Mostert, verdediging vir Monye se medebeskuldigde André Gouws, het die hof versoek om in ag te neem dat die twee mans ʼn sel deel.

“Dit lyk of hy persoonlike kwessies in die verband het, maar hy kan nie die hof aan ʼn draadjie hou nie,” het Kruger gesê. Kruger het die hoftolk versoek om Klein te help om met sy kliënt te praat.

Lees alle berigte wat met die Henning-moordsaak verband hou, op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.