Ambulanse, nie ampsmotors vir Noord-Kaap

Zamani Saul, die nuwe premier van die Noord-Kaap. (Foto: verskaf)

Die Noord-Kaapse premier, Zamani Saul, het ʼn “mens-gesentreerde” provinsiale regering aan inwoners van dié provinsie beloof, en sê die begroting vir nuwe voertuie vir lede van die uitvoerende raad (LUR’e) gaan gebruik word om ambulanse te koop.

Saul kondig Woensdag sy nuwe uitvoerende raad aan en sê dit gaan kleiner wees danksy die herstrukturering van departemente.

“Die bekendmaking (van LUR’e) gaan nie gevolg word deur ʼn inkopietog vir nuwe voertuie nie. Voertuie vir LUR’e gaan net gekoop word as dit absoluut noodsaaklik is en dan net met goedkeuring van die premier. Alle ongebruikte geld wat vir nuwe motors begroot is, moet aan die departement van gesondheid oorgedra word om ambulanse te koop,” het Saul tydens sy inhuldigingstoespraak in Kimberley gesê.

“Ek onderneem om ʼn aktivistiese premier te wees wat tussen die mense bly. Ek gaan nie tyd deurbring in die gemak van die kantoor en in die skadu van selfverheerliking nie.”

Saul het gesê hy gaan die dienslewering by die departemente van onderwys en gesondheid self dophou en vir hom ʼn kantoor by die onderwysdepartement én die Robert Sobukwe-hospitaal se ongevalle-eenheid inrig.

“Ons gaan ons onderwysstelsel weer op dreef kry en een van die bes presterende provinsies in die land word. Ons gaan die gesondheidsdepartement verbeter en waardigheid aan pasiënte gee.

“My erns om ʼn moderne, groeiende en suksesvolle provinsie te bou, gaan môre te siene wees in die soort LUR wat by dié twee departemente aangestel gaan word. Dit gaan LUR’e wees met moed, wat standaarde verhoog, slim en hardwerkend is.”

Saul het gesê politici is nie koninklikes nie en kan nie in weelde rondrits terwyl mense nie toegang tot ambulanse het nie. Hy sê die pos van LUR is ook nie ʼn wegspringplek na roem en rykdom nie.

Die nuwe premier het onderneem om kundiges aan te stel om die provinsie te help regeer en beoog  om weg te doen met die tenderstelsel.

“Dit sal ons toelaat om meer werk te skep en korrupsie met die verkrygingsproses te stuit. Dit is onaanvaarbaar dat ʼn departement nie basiese noodsaaklikhede soos toiletpapier en skoonmaakmiddels by ʼn plaaslike winkel kan koop nie, maar deur ʼn tenderproses daarvoor moet gaan. Ons gaan die staatsdiens onttender om koste te besnoei en dienste aan ons mense te lewer,” het Saul gesê.

Om geld vir onderwys in te samel, het Saul die departement van openbare werke beveel om die ampswonings van die Noord-Kaap te verkoop. Die geld daarvoor sal na ʼn provinsiale beursfonds gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Johan ·

Dit klink baie positief. Ek hoop net dat al die voornemens realiseer!

Zoro ·

Premier Saul ek wens jou sterkte toe jy gee ons hoop vir die toekoms – hulle is daar om te die en nie gedien word nie

Alida X ·

Dit klink baie positief. Hoop regtig hy kry die nodige ondersteuning.
Tyd sal leer of die inisiatiewe so positief was soos wat dit nou klink.
Baie van die menings maak regtig sin.
Noord Kaap mense hou ons op hoogte.

Onnie ·

So ‘n bêk kort jam!Mooi meneer! Ons kort meer van jou soort. Jou kop (en hart) is op die regte plek. Hoop jou raad ondersteun jou en deel jou visie, dan sal julle vér kom!????????????????

SjN ·

Nuwe besems vee aan die begin skoon, self gesien hoe word rylopers opgelaai en seker nog geld gevra.

Hanna Hoekom ·

Klink na edele praatjies… Kan MM asb oor 6 maande n opvolg artikel plaas?

Michelle ·

Ja wat in die land is al so baie dinge belowe en dit is wat dit is beloftes. Dit is net ‘n mooi woord wat gevind is en in die woordeboek opgeteken is dit beteken niks , die ambulans moes al hier gewees het, ” put your money were your mouth is”. Dit is nou maar net so die land is vrot van korrupsie.

Stuiwer ·

Gee die man ‘n gap. Beloftes is leeg, MAAR as die ampswoning verkoop word (as ‘n begin), sal dit darem blyk dat hy ernstig is.

Hans ·

As inwoner van Noord-Kaap beleef ek die verval van veral gesondhridsdepartement as erg.
Werkskepping is nul. Daar is baie swak grondpaaie en water skaars. Tik misbruik baie erg en behoort aangespreek te word.

Wa ·

Mnr Saul, dit klink alles baie goed en ek hoop eerlikwaar dat jy by jou woord sal hou. Ek wil voorstel dat jy die veiligheid van die mense in jou provinsie ook op daai lys sit. Maak dit sommer ‘n prioriteit, kry resultate en wees ‘n voorbeeld vir die res van die land.

se net ·

Ek gaan wyd kyk. As hy dit alles doen en regkry, is daar dalk hoop vir SA. Maar sodra hy opgebou het, gaan die ander weer toeslaan en afbreek.

Bollie ·

Ek weet u bedoel goed, maar om die tenderprosedures te wil afskaf gaan juis tot korrupsie lei.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.