Amcu beskuldig mynmaatskappy van onderduimsheid

Die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) het Donderdag gekap na Sibanye-Stillwater deur te sê die mynmaatskappy gebruik “onderduimse taktiek” om die wetlike en beskermde status van die vakbond se staking in die goudsektor te diskrediteer.

Dit kom nadat Sibanye vandag gesê het die staking deur werkers wat lede van Amcu is, is nie meer beskermd nie aangesien die maatskappy se werknemers verbind is aan ʼn gesamentlike bedingingsooreenkoms en dat daar daarom van hulle verwag word om die naweek vir werk aan te meld nadat ’n loonooreenkoms met werknemers onderteken is.

Joseph Mathunjwa, Amcu se president, sê Sibanye se optrede en sy bestuur is “gewetenloos” deur die loonooreenkoms wat hulle met ander vakbonde “in die geheim onderteken het” ook tot Amcu uit te brei.

“Amcu het betroubare inligting bekom dat Sibanye se senior bestuur ʼn proses begin het om lede vir teenstander-vakbonde te werf – Num, Solidariteit en Uasa. Amcu verneem ook dat menslikehulpbronbestuurders by Sibanye werknemers wat tans aan geen vakbond behoort nie tydens werksure genader en gelok het,” het Mathunjwa gesê.

“Vandat Amcu op 21 November vanjaar amptelik verklaar het dat ’n staking by die bedrywighede in Kloof in Driefontein in die Carletonville-gebied, en Beatrix in die Vrystaat begin, het Sibanye begin om ’n geweldgedrewe veldtog teen die Amcu-staking aan te moedig in ’n poging om ’n interdik teen die beskermde staking te bekom.”

Mathunjwa het gesê Amcu sal alle moontlike wettige opsies beproef om sy lede en die werkersklas se grondwetlike reg te beskerm om te staak. Hy het ʼn mediakonferensie vir Vrydag belê om verder oor die saak uit te wei.

Sowat 15 000 Amcu-lede het drie weke gelede begin staak nadat die vakbond ʼn dooie punt met Sibanye bereik het. Hulle dring aan op ʼn jaarlikse aanpassing van R1 000 oor drie jaar.

Die staking word gekenmerk deur geweld, veral by die Beatrix-, Kloof- en Driefonteinmyn, wat tot die dood van vier werkers gelei het. Dit het begin nadat Sibanye ʼn ooreenkoms met Num, Uasa en Solidariteit bereik het wat betrekking het op diensvoorwaardes en lone vir die tydperk van 1 Julie vanjaar tot 30 Junie 2021.

Ingevolge die ooreenkoms sal die basiese besoldiging vir werkers in kategorieë 4 tot 8 bogronds én ondergronds in die eerste en tweede jaar met R700 per maand verhoog word en in die derde jaar met R825 per maand.

Mynwerkers, vakmanne en amptenare kry ʼn verhoging van 5,5% in die eerste jaar, en 5,5% of die verbruikersinflasiekoers – na gelang van watter een die hoogste is – in die tweede en derde jaar.

Volgens die mynmaatskappy het die gesamentlike lidmaatskap van Num, Uasa en Solidariteit tot meer as 50% toegeneem en ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge mag die loonooreenkoms dus op alle werknemers van toepassing gemaak word.

Sibanye sê alle Amcu-lede en werkers wat nie aan ʼn vakbond behoort nie, mag dus nie langer staak nie en moet Saterdag terugkeer werk toe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

kobus ·

Amcu good for nothing.julle lieg en bedrieg net.en vernietig net mense se lewens.Sibanye hou so aan.moet nie opgee nie wys vir hulle wie is baas en wie is klaas.josef jy moet bietjie ondergrond kom werk

Maljan ·

Net so gebruik hulle onderduimse taktiek om van blanke mans bo 55 ontslae te raak en niemand gee n … Om nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.