Amcu besorg oor vasgekeerde myners

Argieffoto

Die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) het gesê hulle is besorg oor die vyf myners wat ondergronds vasgekeer is by Harmony Gold se Kusasalethu-myn in Carletonville.

“Mynbou is baie onveilig en die mynwerkers waag daagliks hulle lewens om brood op die tafel te sit vir hul gesinne,” het die vakbond Saterdag in ʼn verklaring gesê.

Amcu se streeks- en takleierskap asook sy nasionale beroepsgesondheid- en veiligheidskoördineerder is na die myn toe gestuur en is al sedert Vrydag op die perseel.

Maroela Media het vroeër berig ongeveer 3 000 myners was besig met hul werk toe gedeeltes van die myn Vrydagoggend omstreeks 10:30 ingestort het. Vyf van die werkers is steeds ongeveer 3.1 km ondergrond vasgekeer.

“Amcu loof Harmony se bestuur dat hy dadelik alle bedrywighede opgeskort het. Volgens die bestuur is die families van die vasgekeerde mynwerkers reeds in kennis gestel en die nodige reëlings word getref. Amcu sal die reddingspoging monitor en op die perseel bly om bystand te lewer waar nodig,” het die vakbond bygevoeg.

“Amcu fokus nou al sy aandag op die reddingspoging. Sodra die werkers gered is, en die departement van minerale hulpbronne sy ondersoek afgehandel het, sal Amcu die verslae bestudeer en kommentaar lewer oor die oorsake en oplossings vir die probleme wat gelei het tot die voorval.”

Spesiaal opgeleide spanne het deurnag gewerk om die vyf mynwerkers te red. Alle mynboubedrywighede by die myn is opgeskort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.