Amcu-betoging in Pretoria

Veiligheidsbeamptes by die Amcu-betoging op 6 Maart 2014 in Pretoria Foto: @angelo2711, Twitter

Veiligheidsbeamptes by die Amcu-betoging op 6 Maart 2014 in Pretoria Foto: @angelo2711, Twitter

Veiligheidsbeamptes het Donderdag ʼn menslike ketting rondom lede van Amcu in Marabastad, Pretoria, gevorm voor hul optog na die Uniegebou.

Die vakbond ruk op na die Uniegebou om ʼn petisie te oorhandig van sy besware oor die manier waarop regeringsdepartemente en mynmaatskappye die voortslepende Amcu-staking hanteer.

Lede van Amcu by Lonmin Platinum, Implats en Amplats staak al sedert 23 Januarie en eis ʼn intreevlaksalaris van R12 500.

Jukulunga Joka, ʼn mynwerker van Marikana in Noordwes, het Donderdag in Pretoria gesê hy is bereid om te baklei vir ʼn lewensloon. “Ons medewerkers het al hiervoor gesterf. Ek kan hulle nie verraai nie,” het Joka gesê. Hy verwys na die 34 mynwerkers wat op 16 Augustus 2012 by Lonmin se Marikana-myn doodgeskiet is. Volgens Joka kan hy met ʼn salaris van R12 500 vir sy familie in die Oos-Kaap sorg. “Ek is bereid om te staak sodat toekomstige werkers ʼn behoorlike salaris kan ontvang.”

Pogings deur die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie om ʼn einde te bring aan die staking het ʼn dooiepunt bereik.

Die mynmaatskappye bied steierverhogings van tussen 7 en 9% aan oor die volgende drie jaar. Amcu het Dinsdag gesê hy het sy eis verslap en dat die R12 500 per maand nou oor drie jaar behaal kan word. “Ons verminder nie ons eis nie, ons skep net beweegruimte vir die werkgewers,” het Joseph Mathunjwa, leier van Amcu, aan verslaggewers in Johannesburg gesê.

Die maatskappye het Amcu se nuwe aanbod van die hand gewys. “Die nuwe aanbod is steeds nie bekostigbaar nie,” het die onderskeie mynbase gesê. “Amcu se hersiende looneis kom neer op ʼn verhoging van tussen 25 en 35% jaar-op-jaar oor die volgende vier jaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.