Amcu bly enigste vakbond by Lonmin vir nou

Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit Foto: Reint Dykema

Die arbeidshof het Vrydag die vakbond Solidariteit se dringende aansoek om sy erkenningsregte by Lonmin te herstel, van die hand gewys.

Dit volg nadat die maatskappy onder druk van Amcu geswig het om Amcu as enigste vakbond by Lonmin te erken.

“Met Vrydag se hofbeslissing is Solidariteit se lede se grondwetlike reg op vryheid van assosiasie ontken, maar dit kan binnekort weer herstel word deur ʼn verdere regsgeding waar Solidariteit by die KVBA aansoek gedoen het om volle erkenningsregte by Lonmin te bekom,” het Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, gesê.

Du Plessis het gesê Solidariteit verwelkom egter dat regter Andre van Niekerk in paragraaf 11 van sy uitspraak soos volg beslis het:

“Solidarity’s prospects of success in any section 21 arbitration hearing may well be excellent, given the Labour Appeal Court’s judgement and in particular, its view that a system of majoritarianism is compatible with the right to freedom of association, provided that minority unions are not denied certain basic rights that are inherently an element of the rights to freedom of association and to organise. These rights are recognised by the applicable ILO Conventions (all ratified by South Africa), by the Constitution and by the LRA itself.”

Volgens Du Plessis het die aanloop tot die dispuut in Augustus 2013 begin toe Lonmin met die eenjarige herdenking van die Marikana-tragedie Amcu se wens vervul het om hulle as enigste vakbond by Lonmin te erken. “Daardeur is Solidariteit en Uasa, wat Lonmin se vaardige werkers verteenwoordig, se erkenning onregmatig opgehef. Ná Amcu se vernietigende vyf maande lange staking in 2014, en weens openbare druk, het Lonmin Solidariteit se regte in Augustus 2014 herstel, hoewel die reg weggeneem is om namens ons lede salarisverhogings te beding. In Augustus 2017, met die vyfde herdenking van die Marikana-tragedie, het Amcu vir die tweede keer op alleenerkenning aangedring en het Lonmin vir die tweede keer onder Amcu se druk geswig en weereens Solidariteit en Uasa se erkenning onregmatig opgehef, ten spyte van ʼn onderneming deur Lonmin se topbestuur in 2014 dat dit nie weer sou gebeur nie,” het Du Plessis gesê.

Volgens Du Plessis het die Farlam-kommissie van ondersoek, wat op die Marikana-tragedie gevolg het, Lonmin se “swak” arbeidsverhoudingepraktyke uitgelig as een van die oorsake van die vakbondspanning wat aan die begin van 2012 ontwikkel en later tot dié tragedie aanleiding gegee het.

Voorts het Du Plessis gesê dat Lonmin egter niks uit “Marikana” geleer het nie en dat hulle aanhou om meerderheidbeginsels, wat Amcu ironies genoeg in 2011 en 2012 in die openbaar verwerp het, toe te pas. “Mnr. Ben Magara, Lonmin se uitvoerende hoof, het in Augustus 2017 aangedui dat die meerderheidsbeginsel ʼn groot aandeel in die Marikana-tragedie gehad het.”

Hy het gesê Solidariteit doen ʼn beroep op Lonmin om leierskap te toon en die huidige spanning te ontlont deur Solidariteit en Uasa se erkenningsregte onvoorwaardelik te herstel en so verdere regsprosesse tot ʼn einde te bring. “Intussen het Solidariteit ook met ʼn proses begin om steun te kry vir ʼn petisie wat teen Lonmin se bestuur ingedien gaan word en wat terselfdertyd ook gebruik word om Solidariteit- en Uasa-lede se mandaat vir ʼn staking te kry,” het Du Plessis gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Leahim ·

Lohnmin is besig om ten gronde te gaan al wat hulle nog kan red is om aan Sibanye stillwater verkoop te word

Longmin moes al lankal bankrot word ·

Hoe arrogant van daardie imperialistiese maatskappy! Hoe kan n hof so n absurde uitspraak lewer?

zoom zoom ·

Het onse Cyril wat nou wil staan vir prez nie ook aandele in die myn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.