Amcu dreig met groot staking by Sibanye-Stillwater

Joseph Mathunjwa, Amcu-president. Foto: ANA/Jonisayi Maromo

Die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) het Maandag gedreig dat hy sal voortgaan met ʼn groot staking by Sibanye-Stillwater oor loononderhandelings en basiese diensvoorwaardes.

Amcu het ʼn 48 uur-kennisgewing van die beskermde staking aan die maatskappy oorhandig wat van Woensdagaand om middernag by al Sibanye se myne sal begin. Amcu-lede het Sondag tydens ʼn groot vergadering by Masizakhele-stadion ingestem om te staak om terugvoer te gee oor die vordering van loononderhandelings by goudmyne.

Ongeveer 32 200 persone is tans in diens by Sibanye se goudmynbedrywighede en Amcu verteenwoordig ongeveer 43% van werknemers in die onderhandelingseenheid.

Sibanye se bedrywighede by Driefontein, Kloof, Beatrix, gesondheidsdienste, eiendomsdienste, die Suid-Afrikaanse streek- en korporatiewe kantoor, Sibanye-beskermingsdienste, Sibanye-goudakademie, Sibanye- gedeelde dienste, Cooke 1, 2 en 3 (Rand Uranium) en Burnstone sal deur die staking geraak word.

Die staking volg ná loononderhandelings op 11 Julie begin het. Amcu-lede eis ʼn verhoging van R1 000 per jaar terwyl die maatskappye R650 vir die eerste jaar, R700 vir die tweede jaar en R825 vir die derde jaar aanbied.

Sibanye het verlede week ʼn driejaarooreenkoms met die National Union of Mineworkers (NUM), Solidariteit en UASA onderteken ná uitgerekte onderhandelings. Sibanye het gesê Amcu se eise is onredelik en onbekostigbaar en maan sy lede om hul nie tot intimidasie en geweld te wend tydens die staking nie.

Joseph Mathunjwa, president van Amcu, het gesê werkers sal nie enigiets verloor deur te staak nie, omdat hulle niks het nie.

“Die staking sal op 21 November 2018 begin. Ons het niks meer om vir Sibanye-Stillwater te sê nie. As hulle met ons wil vergader om die dispuut op te los, sal ons tydens die kennisgewingperiode beskikbaar wees vir gesprekke.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

IK ·

Die gebalde vuis . . . kenmerkende houding van menige aanhitsers dwarsoor die wêreld. ‘I want it all and I want it NOW!’ Maak toe die myne want hul gaan buitendien a.g.v. hoë kostes net meer selektief moet myn. Daar moet ook onthou word dat die betalende gedeeltes ook nie noodwendig gekonsentreerd is op een plek in die myn maar verspreid is met ekstra kostes om dit te ontgin wat derhalwe van daardie gedeeltes ook onbetaalbaar sal maak. Gaan egter maar voort as daar net gesien kan word sover as die lengte van die neus.

Chris Ws ·

Dit het tyd geword dat die Arbeids wetgewing aangepas word sover dit die geldigheid van stakings betref.Die meerderheid (57%) van die werkers het die loon aanbod aanvaar so dan moet die minderheid daarby inval.So nie moet hulle sumier afgedank en huistoe gestuur word .Punt

D P ·

Ons ekonomie is op die rand van ‘n afgrond. Tuimel die ekonomie sit duisende sonder werk.
Wat dan? Kan hulle vir hulleself in inkomste skep?????

Hendrik UAE ·

Jip die unies gaan ons ondergang beteken.En die massas val daarvoor.Wragtag soos skape na n slagting gelei behalwe dat hulle na hongersnood gelei word.

De Villiers ·

Dit was juis Joseph Mathunjwa wat so ‘n paar jaar gelede die staking in die platinum mynbedryf so gedryf het dat die Rand verby R8 teenoor die Dollar verswak het, en daarna nooit weer herstel het nie. Boonop het sy staking werknemers van dié myne finansieël so benadeel dat hulle eintlik nooit weer sal wees waar hulle kon wees nie. Steeds het hy die vermetelheid om sy gesig skaamteloos in die media te wys asof niks verkeerd is nie, en selfs voortgaan met dieselfde vernietigende strategie.

Staker ·

STAAK LEKKER DAN MAAK NOG ‘N MYN TOE, of dan retrench hulle volgende jaar 30 000 werkers .. gaan gerus aan met julle belaglike versoeke, julle gaan nog almal sonder werk sit en die werkers sit sonder salaris terwyl AMCU se bestuur in die geld swem .. neewat as jy dom is moet jy swaar kry, wees eerder dankbaar jy het werk in ‘n ekonomiese resessie en HOU OP STAAK of sit sonder werk . GEEN SIMPATIE.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.