Platinumvervaardigers en die vakbond Amcu sal Woensdag weer onderhandelinge hervat in ʼn poging om die staking, wat al 12 weke lank duur, op te los.
“Die vergadering is vir Woensdag geskeduleer,” het Charmane Russell, woordvoerder van die Kamer van Mynwese, Dinsdag gesê.
Die vergadering tussen die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) en die werkgewers sal in ʼn onbekende plek plaasvind ná ʼn nuwe loonaanbod deur Anglo American Platinum (Amplats) en Impala Platinum (Implats) gemaak is.
Deur die voorgestelde verhoging sal die minimum kontantbetaling (insluitend basiese loon en vakansie-, lewens- en ander toelatings) vir intreevlak ondergrondse werkers teen Julie 2017 op R12 500 per maand (R150 000 per jaar) te staan kom. Die kontantverhoging vir die werknemers styg algemeen tussen 7.5% en 10% vir alle vlakke werknemers, met toepaslike toelating vir verhogings volgens inflasie.
Die koste vir die maatskappy vir die laagste betaalde ondergrondse werknemer sal in Julie 2017 gevolglik meer as R17 500 per maand beloop. Dit sluit salaris, mediese-, aftrede-, oortyd- en bonusvoorsiening in.
Joseph Mathunjwa, president van die vakbond, en Jimmy Gama, hoofonderhandelaar vir Amcu, kon nie vir kommentaar bereik word nie. Die vakbond eis ʼn minimumsalaris van R12 500 per maand.
Die staking het al tot ʼn verlies van R6 miljard in salarisse en R14 miljard in maatskappy-inkomste gelei, aldus die Kamer van Mynwese se webwerf. -SAPA
hervat, nie vervat nie…
Dankie vir die regstelling, Tom! Dit was inderdaad ‘n fout.
Groetnis
Suné