Amcu, Lonmin ontken wete van ‘moordlys’

Amcu-lede wat nie Woensdag teruggekeer het werk toe nie. Foto: M Molaole/Sapa

Amcu-lede wat nie Woensdag teruggekeer het werk toe nie. Foto: M Molaole/Sapa

Die vakbond Amcu en mynmaatskappy Lonmin het ontken dat hulle bewus is van ‘n “moordlys” wat glo die name bevat van mynwerkers wat besluit het om terug te keer werk toe, berig City Press.

Volgens die berig het Lonmin ‘n lys opgestel met die name van die mynwerkers wat teruggekeer het werk toe. Die lys het glo in die hande van Amcu en NUM beland en doen glo tans die ronde in Marikana, Noordwes.

Joseph Mathunjwa, president van Amcu, sê hy is nie bewus van die lys nie. “Al wat ek weet is dat ons besig is met ‘n staking en dat dit vreedsaam is. Geen van ons lede by hoofkantoor weet hiervan nie. Die laaste waarvan ons bewus is, is dat Lonmin SMS’e aan ons lede stuur. Dit is al inligting wat ons het.”

Sydwell Dokolwana, NUM se sekretaris in Rustenburg, het aan die koerant gesê dat indien mens die regte persone ken dit nie onmoontlik is om so lys saam te stel nie. “Ons weet van ons mense binne Amcu dat die leierskap opdrag gegee het dat mense moet rapporteer indien hulle weet dat hul bure werk toe gaan.”

Happy Nkhoma, woordvoerder van Lonmin, kon nie bevestig dat enige inligting van hulle kantore af gekom het nie. “Ons het wel ‘n databasis van die terugvoer wat ons van die werknemers ontvang het. Slegs ‘n klein en uitgesoekte aantal van ons mees betroubare bestuurders het toegang tot die databasis en word dit deur hulle bestuur. Die vakbonde het hoegenaamd geen toegang tot die databasis en inligting nie.”

City Press berig dat die name van drie mans, wat verlede week vermoor is, op die lys verskyn. Volgens die berig het vyf bronne binne die polisie, Amcu en NUM bevestig dat die lys gebruik word om ‘n boodskap te stuur aan diegene wat daaraan dink om terug te keer werk toe.

Amcu-lede by Lonmin, Amplats en Implats staak sedert 23 Januarie en eis ‘n basiese maandelikse salaris van R12 500.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.