‘Amcu moet ideologie laat staan, in sy lede se belang optree’

Lede van Amcu wat staak Foto: M Molaole/Sapa

Lede van Amcu wat staak Foto: M Molaole/Sapa

Die vakbond Solidariteit het vandag ʼn beroep op die Association of Mineworkers and Construction Union (Amcu) gedoen om tydens vandag se voortgesette onderhandelings ʼn einde aan die staking, wat reeds 19 weke duur, te maak.

Solidariteit het sy waardering uitgespreek vir die nuwe minister, Ngoako Ramatlhodi, se poging om die staking te beëindig maar het aangedui dat hy dit sy prioriteit moet maak om Amcu en sy raadgewers deurlopend daarop te wys dat hulle besig is om die platinumsektor te vernietig, en dat dit ’n prioriteit moet wees om nie-stakende werkers teen gewelddadige stakers te beskerm.

Volgens Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, blyk dit dat die onderhandelings nou in kwade trou plaasvind omdat Amcu na bewering gereeld die doelpale skuif om sodoende die bereiking van ʼn ooreenkoms onmoontlik te maak. “Amcu moet nou sy ideologiese doelwit laat vaar en in sy lede, en alle ander Suid-Afrikaners, se belang optree. Amcu se hofaansoek om bykomend in die goudsektor te mag staak, is ook ideologies gedrewe en nie in hul lede of die res van Suid-Afrika se belang nie en moet daarom laat vaar word,” het du Plessis bygevoeg.

Volgens du Plessis is die gevolg van die Amcu-staking dat die volhoubaarheid van die myne reeds so afgetakel is dat verskeie marginale skagte gesluit sal word. “Amcu het inderwaarheid reeds baie van sy lede en ander onskuldiges slagoffers uit ʼn werk uit gestaak – selfs al hou die staking vandag op. Grootskaalse afleggings en afdankings vir stakingmisdrywe gaan volg; kapitaal-uitbreidingsprojekte wat nuwe poste sou meebring, gaan gekanselleer word; en permanente skade is weens die lang sluiting aan skagte berokken,” sê hy.

Du Plessis meen verder die verkoop van marginale en nie-winsgewende myne aan minder stabiele werkgewers sal minder gunstige diensvoorwaardes tot gevolg hê; kontrakteurs en diensverskaffers se kontrakte sal beëindig of afgeskaal word; meer besighede wat direk en indirek op die myne aangewese is, sal afskaal of toemaak – om nie eens te praat van die toekomstige huiwerigheid by beide plaaslike en internasionale beleggers vir die platinumsektor nie.

“Wat eens as ʼn staking begin het, het nou in ʼn maatskaplike krisis ontaard wat grootskaalse afleggings en werkloosheid vir Amcu se stakende lede, sowel as vir ander onskuldige nie-stakende werkers tot gevolg gaan hê. Die gewelddadige staking is besig om onskuldige werkers hul vermoë om te werk en vir hul gesinne te sorg, te ontneem.”

Solidariteit doen ʼn beroep op die regering, maatskappye en burgerlike organisasies om saam met die vakbond onskuldige nie-stakende werkers te beskerm en te ondersteun. Solidariteit Helpende Hand het reeds meer as R1,75 miljoen se voedselhulp aan nie-stakende werkers en hul gesinne verleen. Daarby het Helpende Hand ʼn totaal van 112 ton kos oor die afgelope paar weke aan nie-stakers versprei. Vir meer inligting en om bydraes te maak, gaan besoek http://staaknie.co.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.